Skip to main content

PSALM 23

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 23

1 ‘n Psalm. Van Dawid. 

Die Here is my herder;

ek ly nie gebrek nie. 

2 In groen weivelde 

laat Hy my rus; 

na water waar daar rusplek is, 

lei Hy my. 

3 Hy gee my nuwe lewenskrag; 

Hy lei my op die regte paaie 

ter wille van sy Naam. 

4 Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, 

is ek nie bang vir gevaar nie, 

want U is by my. 

Dit is u staf en u stok 

wat my gerusstel. 

5 U dek vir my ‘n tafel voor die oë 

van my teenstanders. 

U verfris my kop met olie;

my beker loop oor. 

6 Net goedheid en troue liefde sal my volg 

al die dae van my lewe, 

en ek sal terugkeer 

na die huis van die Here,

tot in lengte van dae. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Psalm 23 sluit by die verwagting van beskerming aan en werk met die metafoor van God as herder wat hom beskerm en begelei in die lewe, selfs in die diepste donkertes. Dit is verbind aan Psalm 16 met die boodskap dat lewe net by God moontlik is.

Hierdie Psalm, seker die bekendste van alle Psalms, is die gebed vir alle seisoene van die lewe. Dit is die geloofsbelydenis van iemand vir wie die Here van sy jeug af alles was. En wat ervaar het dat God in alle seisoene van die lewe Homself as herder bewys het.

1. Dit is die belydenis van iemand vir wie die Here tye van rus en vrede gegee het. Dis tye waarin hy ervaar het, ek kort niks nie, ek het rus en vrede en ek het krag vir my lewenspad.

Die wonder van ‘n lewe saam met God, is dat daar altyd ‘n dubbele waarde is in enige goeie en vervullende ervaring. ‘n Goeie ervaring word nie net ervaar as ‘n geluk nie, maar as ‘n geskenk, as iets wat God gegee het en wat jou nie per toeval getref het nie, maar met opset, omdat God vir jou liefhet. Daarom dat Dawid hier skrywe dat die Here sy herder is, sy koning wat hom raaksien en vir hom goeie dinge uitdeel. Dit laat hom spesiaal voel en dit gee hom rus en vrede. Dit vul hom met nuwe krag.

2. Daarom is Psalm 23 ook die belydenis van iemand wat ervaar dat God rigting en betekenis in sy lewe gee. Wat tye van vooruitgang en voorspoed beleef. Wat uitdagende dinge aanpak en ervaar dat die Here die regte pad aanwys. Baie keer is die regte pad juis dié dinge wat God se eer sal bevorder en juis ‘n manier waarop die regte pad gekies kan word.

3. Maar dan is Psalm 23 ook die belydenis van iemand wat ervaar dat daar donker dieptes is en wat moet worstel met die pyn van nie-weet-nie, van onvervulde beloftes, van ondeursigtige raaisels.

Dis juis dan wat hy kan bely dat hy nie bang hoef te wees nie, want God is by hom en by God is hy veilig. Die belydenis verdryf nie altyd die donker nie, dit beantwoord nie altyd die vrae nie, maar dit hou vas aan hoe God homself deur die eeue laat ken het, as die betroubare, as die herder, as die een wat dinge laat meewerk ten goede, selfs al beteken dit dat die donkerte nie in lig verander nie.

Dawid verwoord hier iets van wat die Hebreërskrywer lank hierna sou skrywe dat nie alle gelowiges altyd kry wat beloof is nie, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie (Hebr 11).

4. Soms lei God se paaie wel uit die donkerte na die lig en soms net so verrassend heerlik dat dit voel soos ‘n feesmaal in die aangesig van die teëstanders. Dit is soos om as ‘n eregas aan te sit by die maaltyd wat God die herder-koning voorberei het en waar jy as uitverkore gas kan aansit terwyl ander jaloers moet toekyk.

Die hartlikheid waarmee God ons soms kom oorlaai, is ‘n besondere voorreg in die lewe saam met God.

5. En wat jou terugbring by die besef en belydenis, dat die ware doel en sin en betekenis van die lewe, is om God te geniet en in sy teenwoordigheid vir ewig te bly. Wat op die ou end die ware rus en vrede is, dieper as die weivelde en die water en die krag, om maar net by God te wees, diep-tevrede soos ‘n kind.

Psalm 23 is dus ‘n feespsalm en ‘n troospsalm. Dit is ‘n psalm vir die lewe en die dood. Dis vir al die seisoene van die lewe. En die waarheid wat in die Psalm opgesluit lê, is dat ons hele lewe altyd by God veilig is.

Só ‘n waarheid lei tot twee reaksies: ‘n belydenis: ek sal nie bang wees nie … en ‘n verbintenis: ek sal tuis wees in die huis van die Here, tussen sy mense.

Anders kan dit tog nie. God woon in ons en Hy werk in ons. Waarom sal ons bang wees en waarom sal ons nie tuis voel tussen God se mense nie?

Boodskap en betekenis

Hierdie is werklik die Psalm vir alle seisoene van die lewe. Dit tref my dat God nie net ons “siel verkwik” nie, maar ons in die “spore van geregtigheid” lei. Hy doen dit ter wille van ons, maar veral “om sy Naam ontwil.” Hy doen dit dus ter wille van sy eie reputasie. Vir elkeen wat Hom sy of haar Herder noem: “net goedheid en guns” sal jou volg al die dae van jou lewe. By Hom sal jy rus vind.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…