Skip to main content

1 KORINTIËRS 1:18-25

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 KORINTIËRS 1:18-25

Ons lees die teks in die konteks van die hele hoofstuk.

Christus as krag en wysheid van God

18 Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. 19 Want daar staan geskryf:

“Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak

en die insig van die verstandiges verwerp.” (Jes 29:14)

20 Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? 21 Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging.

22 Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. 23 Ons egter, verkondig ‘n gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit ‘n struikelblok en vir die nie-Jode ‘n dwaasheid. 24 Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25 Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense.

Teks en konteks

Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte op sy tweede sendingreis. Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor. 2:3). Dit was na die teenstand in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene. In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand. 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (Hand. 17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (Hand. 17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou ontvangs gehad.

Die mense van Korinte het hom egter goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang. Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half daar bly en sake het regtig baie goed verloop.

Dit is nou op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië  besoek het, dat Paulus weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand. 19:1-20), het hy in die aande waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe.

Paulus spreek ‘n hele aantal groot vraagstukke in sy brief aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig. Dat dit nodig was, spruit onder andere uit die voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.

Wat veral opmerklik was, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is. En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor. 5:9-11). Hulle het ook in konflik gekom met mekaar.

Hy spreek hulle daarom skerp aan oor die verdeeldheid wat veral in groepvorming en partyskappe onder hulle na vore kom, soos Chloë se mense aan hom kom oordra het. Dit is immers hulle roeping, om met mekaar “verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.”

Maar die probleem was dat die Korintiërs in ‘n omgewing geleef en gewerk het waar die mense nie in Jesus geglo het nie. Wat spot met die kruisdood van Jesus. Wat sê, hoe kan julle glo in ‘n God wat doodgaan? Wat is die punt daarvan? Dit is mos dwaas?

En dit het die Korintiërs laat terugdeins. Dit het hulle selfs met mekaar in konflik laat kom.

Daarom dat Paulus verder gaan en hulle leer oor wat regtig wysheid is, en wat dwaasheid.

Vers 18-19 Paulus skryf oor Jesus en sê, ja dit is so dat mense Hom verwerp, maar, julle moet dit reg verstaan. Die boodskap van die kruis is net dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, Vir dié van ons wat verlos word, is dit die krag van God.

En dan haal Paulus Jesaja 29 aan om te sê: “God sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandiges verwerp.” (Jes 29:14)

Nou, dit klink vreemd, nè? Dit lyk asof God teen kennis gekant is, teen mense wat die wetenskap beoefen, die natuur of die geskiedenis of die mens bestudeer en probeer beskryf.

Maar, dit is nie waaroor dit hier gaan nie. Die Here het nie iets teen wetenskaplike navorsing wat ons help om nuwe dinge te maak nie. Hy is nie teen tegnologiese wonders nie. Hy is nie teen die historici wat die geskiedenis navors en probeer om lesse daaruit te leer sodat ons beter met mekaar oor die weg kan kom nie. Hy is nie teen die navorsing wat die menslike natuur bestudeer som mense te help om gelukkiger te wees en meer ruimte vir mekaar te maak nie.

Nee, God het ‘n baie spesifieke wysheid in gedagte. Die wysheid van die Jode in die tyd van Jesaja wat gedink het hulle kan klaarkom sonder Hom.

Jesaja 29

Koning Sanherib van die Assiriërs het Jerusalem beleër in die laat agste eeu vC. Dit was in die tyd van koning Hiskia van Juda. Hy het die Here gedien en die Here het met ‘n wonderwerk van die Assiriërs ontslae geraak.

Die Here het gedink, nou sal die volk my dien. Nou sal hulle die pad met My loop. Maar, tevergeefs. Ná Hiskia se dood het hulle die Here verlaat. Eerder hulp gesoek by Egipte. Gedink hulle kan op hulle eie wysheid staatmaak. Gedink hulle kan hulle eie potjie krap in die politieke en ekonomiese wêreld van hulle tyd.

Hulle het die Woord van God toegemaak. Dit nie meer gelees nie. Trouens, die Bybel het weggeraak in die tempel, tot Josia dit ‘n eeu later weer ontdek het (2 Kon 22:8).

Dit is dus in hierdie tyd aan die begin van die sewende eeu vC in die koningskap van Manasse dat die Here gesê het: “Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandiges verwerp.” (Jes 29:14)

God het dus gesê, Ek gaan op ‘n ander manier werk as die wyse mense. Hulle maak die openbaring van God vir ander mense toe. Ek gaan egter direk werk deur die Messias. Dowes sal sy woorde hoor. Blindes sal die lig sien. Dwalendes van gees sal insig verkry. Selfs die rebelle sal die lering van die Messias omhels (Jes 29:18-24).

En soos ons weet, die pad van die Messias, van Jesus, het deur die kruisdood geloop. Paulus is hier op sy heel skerpste. Hy argumenteer, met Jesaja 29 as basis, dat God nou deur die kruis bewerkstellig wat Hy nog altyd deur sy profete belowe het. God het ‘n einde gemaak aan menslike wysheid en vermoëns. Die evangelie is nie ‘n nuwe wysheid nie. Dit is die dwaasheid van God. Maar sy dwaasheid is wyser as dié van mense. Sy swakheid is sterker as dié van mense.

En in dit alles staan die kruis van Jesus as die spilpunt. Tussen die dwase en die wyses. Tussen die gelowiges en die wyses. Tussen dié wat gered word en dié wat verlore gaan.

Daarmee bevestig Paulus die OT gedagte dat God Hom nie aanpas by die heersende wysheid van mense nie, maar ontferm oor dié wat glo. Dit is nie wat jy weet wat God se aandag trek nie, maar dat jy glo.

Vers 20-25 Hiermee rig Paulus hom teen beide die Joodse en Griekse weersin in die boodskap van die kruis. Die Jode neem aanstoot in die kruis omdat hulle eerder ’n wonderteken sou wou sien (ironies dat hulle die wonder van die opstanding geïgnoreer het en net op die kruis gefokus het); die Grieke dink die kruis is onsin, omdat dit menslike denke uitgesluit het, en net afhanklik was van geloof in God.

Hoewel Paulus in hoofstuk 2 eers verder gaan uitbrei oor hoekom God die weg van die prediking en die openbaring van die Gees kies om sy boodskap aan mense oor te dra, gaan hy in hoofstuk 3 terugkom na die betekenis van hierdie gedagte – dat God se wysheid en menslike wysheid teenoor mekaar staan – en dit van toepassing maak op die “wyse” idee van groepvorming, en uitwys hoe dwaas dit in die oë van God is. Groepvorming kom na vore uit jaloesie en twis en skaad die gemeente, wat die gebou van God is.

Boodskap en betekenis

Die eerste ding wat ons hier moet hoor is dat eenheid in die waarheid ononderhandelbaar is in die kerk wat God tot stand bring in ’n gebied. Dit is doodgewoon onaanvaarbaar dat daar groepvorming en partyskappe in ’n gemeente rondom leiers ontstaan, hetsy uit jaloesie of uit ’n getwis. Só ‘n gemeente staan nie ‘n kans in ‘n wêreld waar hulle boodskap as sodanig aangevat word as dwaas en sonder betekenis.

Elkeen van ons moet dus ons eie lojaliteite in die gemeente ondersoek of ons nie ook hieraan skuldig is of nie, hoe onskuldig dit op die oog af ook al vir ons kan voorkom. En dan praat ek nie eers van die breër Christelike prentjie in ons stede en dorpe nie …

Die tweede ding is dat God nie veel dink van die wysheid van hierdie wêreld nie. Soos Die Boodskap se opskrif vir die perikoop is: “Wat vir mense slim lyk, is maar dom vir God!”

Hoekom?

Want, die wysheid van hierdie wêreld kry dit nie reg om God raak te sien nie.

Dink maar net aan die wetenskaplike wat agterkom dat as jy ‘n stukkie van die Covid-19 virus vir iemand inspuit dat jou liggaam teenliggaampies daarteen kan skep. Wonderlik nè? Maar, bring dit mense by God uit? Nee. God is nie eers in die prentjie nie. Daar is niks fout met die kennis nie. Dit is egter van geen waarde in jou verhouding met God nie.

Dink aan die sielkundige wat ‘n robuuste persoonlikheidsteorie uitwerk – sê maar die Big Five (ekstroversie, inskiklikheid, openheid, pligsgetrouheid, en neurotisme) – wat vir mans en vroue werk, en oor kultuurgrense. Bring dit mense by God uit? Nee. God is nie eers in die prentjie nie.

So kan jy aangaan met die kennis van die beste historici, die beste ingenieurs, die beste dokters, die beste finansiële kundiges. Dit bring nie vir mense by God uit nie.

Wat jou twee keer moet laat dink as mense wêreldse wysheid inspan om oor geloof te praat. Dit is net God wat deur sy Woord en Gees met gesag kan praat oor sy boodskap. Daarna sal jy moet luister. Dit is ware wysheid.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar