Skip to main content

MARKUS 6:30-34, 53-56

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 6:30-34, 53-56

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

Dit is ‘n vreemde teksindeling, so ek gee die gedeelte oor die broodvermeerdering en die stap op die see wat tussen-in kom, ook hier weer vir die konteks.

30 En die apostels het by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen en onderrig het. 31 Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” Want dié wat gekom en gegaan het, was baie en hulle het nie kans gekry om te eet nie. 32 En hulle het met die boot na ’n stil plek gegaan om alleen te wees. 33 En baie het hulle sien weggaan en hulle herken. Hulle het toe te voet van al die dorpe af saam daarheen gehardloop en Jesus en die dissipels vooruit gegaan. 34Toe Hy uitklim, het Hy ’n groot skare gesien en hulle innig jammer gekry omdat hulle soos skape was wat nie ’n herder het nie. En Hy het hulle baie dinge begin leer.

35 Toe dit alreeds laat geword het, het sy dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Dit is ’n verlate plek en alreeds laat. 36 Stuur hulle weg sodat hulle na die gehuggies en dorpe in die omgewing kan gaan en vir hulleself iets kan koop om te eet.” 37 Hy het egter geantwoord en vir hulle gesê: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Maar hulle sê vir Hom: “Moet ons gaan en vir tweehonderd denarii (‘n Denarius was ‘n silwergeldstuk wat ongeveer 4 gram geweeg het, min of meer gelyk aan ‘n dag se loon) brode koop en dit vir hulle te ete gee?” 38 Hy sê egter vir hulle: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Toe hulle uitgevind het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.” 39 En Hy het hulle opdrag gegee om almal in groepe op die groen gras te laat sit. 40 En hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit. 41 Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel toe opgekyk en gedank. En Hy het die brode gebreek en dit vir sy dissipels gegee om vir hulle voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. 42 Almal het geëet en hulle was versadig. 43 En hulle het twaalf mandjies vol stukkies brood opgetel, ook van die visse. 44 Dié wat die brode geëet het, was vyfduisend mans.

45 Dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die boot te klim en vooruit te gaan na die oorkant toe, na Betsaida, terwyl Hy die skare wegstuur. 46 En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg vertrek om te bid. 47 Toe dit aand geword het, was die boot in die middel van die see en Hy alleen op die land. 48 Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen die vierde nagwaak (Die Romeine het die nag in vier gelyke dele of “nagwake” ingedeel wat elk omtrent drie uur lank was. Die vierde nagwaak was die laaste deel van die nag, vanaf omtrent drie-uur die oggend tot dagbreek) kom Hy na hulle terwyl Hy op die see loop en Hy wou by hulle verbygaan. 49 Hulle het Hom egter op die meer sien loop en gedink dat dit ’n spook is en geskree. 50 Want hulle almal het Hom gesien en hulle was baie bang. Hy het egter dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Skep moed, dit is Ek. Moenie vrees nie.” 51 Hy het toe by hulle in die boot ingeklim en die wind het gaan lê. En hulle was heeltemal uit die veld geslaan, 52 want hulle het nie die vermeerdering van die brode verstaan nie, maar hulle hart was geslote.

53 En hulle het oorgevaar na die land en by Gennesaret gekom en vasgemeer. 54 Toe hulle uit die boot klim, en omdat die mense Hom onmiddellik herken het, 55 het hulle deur daardie hele gebied rondbeweeg en begin om dié wat siek is op slaapmatte te dra na waar hulle gehoor het Hy is. 56 Waar Hy ook al in dorpe of in stede of in gehuggies gekom het, het hulle die siekes op die markplekke neergesit en Hom gesmeek dat hulle selfs net die soom van sy bo-kleed kan aanraak. En almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.

Teks en konteks

Jesus wou baie graag die nuus van Johannes die Doper se dood verwerk, en vertrek aanvanklik alleen in ‘n skuit na ‘n afgeleë plek om die nuus te verwerk (Matt 14:13).

6:30 Maar terselfdertyd het Jesus se apostels – sy gestuurdes – daar aangekom en wou Hom alles vertel wat hulle gedoen en onderrig het. Jy kan jou die konflik in Jesus se hart goed voorstel dat Hy die einde van die bediening van Johannes die Doper wil deurdink, maar aan die ander kant die begin van sy twaalf dissipels s’n saam met hulle wou vier.

6:31-32 Jesus gee dus vir hulle kans om hulle hart uit te praat oor alles wat hulle op hulle sending beleef het. Sy voorstel aan hulle is dan dat hulle na ‘n stil plek per boot vertrek om te rus, waarskynlik in die rigting van Betsaida (Luk 9:10), die tuisdorp van die twee broers, Petrus en Andreas, en Filippus, naby Kapernaum. Die dissipels was egter self ook honger, omdat hulle nog nie kans gehad het om te eet nie. En die skare het net aangegroei, sodat die planne uiteindelik verander word.

6:32-33 Hulle begin dus met die reis per boot, maar by hulle bestemming kom hulle agter dat hulle nou al só bekend is dat die mense al vir hulle sit en wag toe hulle daar aankom. Onthou ‘n mens kan vinniger loop as wat jy op die see kan vaar. Daarom kon mense vinnig daar uitkom. Die enigste stilte wat Jesus met sy dissipels kon geniet, was dus op die vaart met die boot.

6:34 Jesus sit dan sy lering aan die groot skare voort, omdat Hy hulle innig jammer gekry het. Hulle was soos skape wat nie ‘n herder het nie. Die leringe van die Fariseërs het hulle siele nie gevoed nie. Hierna sal Jesus ook hulle fisiese honger stil.

6:53-55 Jesus-hulle gaan aan wal by Gennesaret, net wes van Kapernaum. Die toeloop na Hom neem steeds toe, en omdat mense Hom nou onmiddellik begin herken, het hulle deur die gebied begin rondbeweeg terwyl die mense siekes op hulle slaapmatte na Hom toe gebring het.  Interessant is dat hulle vra om aan die soom van sy klere te raak, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.

6:56 Die wonder is dat elkeen wat uit die dorpe, stede en gehuggies na Hom gebring is – hulle het veral die markplekke gebruik – en Hom gesmeek het dat hulle selfs net die soom van sy bo-kleed kon aanraak, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, het gesond geword. 

Die gebruik was waarskynlik gebaseer op die simboliek van die vier klossies aan Joodse mans se klere – en veral die blou toutjie aan een van hulle – wat hulle gehegtheid aan die wet van Moses uitgedruk het (Num 15:38-39).

Boodskap en betekenis

Die eerste verhaal wat ons hier lees, wys hoe die koms van die koninkryk nêrens halt roep nie. Die einde van Johannes die Doper se bediening oorvleuel met die begin van die bediening van die apostels, die gestuurdes van die Here, nogal hulle eerste selfstandige bediening.

Tog wys die verhaal ook die noodsaak van refleksie en deurgesels (debriefing). Ook die noodsaak van rus en stilte voor die volgende uitdagings aangepak word. Soms is dit helaas nie moontlik nie, maar dit bly ‘n belangrike behoefte van ‘n mens se bediening in die koninkryk van God.

Die tweede verhaal is ‘n uiters interessante perspektief op geloof. Die moontlikheid is sterk dat mense gedink het dat Jesus se krag uit die soom van sy kleed gevloei het, gebaseer op die simboliek van die klossies aan die klere. Maar, die Here Jesus vat hulle nie aan oor hulle magiese interpretasie nie. Hy sien die geloof raak, selfs al is die uitdrukking van die geloof vir ons gevoel vreemd.

Dit sien ‘n mens op talle plekke in die Skrif. Jakob wat groen latte waarin wit strepe geskil is voor die kleinvee neer sit op bevel van die Here wat die sterkste troppe vir hom verseker het (Gen 31-32). Elisa wat ‘n byl op die water laat dryf deur ‘n stuk hout daarop te gooi (2 Kon 6). Jesus wat klei met spoeg meng, op die blinde man se oë smeer, en hom na die bad van Siloam stuur om dit af te was waarna sy oë genees is (Joh 9).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on 1 Kronieke 28-29Groete!
  • Wansen Engelbrecht on 1 Kronieke 28-29Baie dankie. Groetnis Wansen Engelbrecht Klerksdorp
  • Chris van Wyk on Genesis 1:1-2:3Is dit op 'n selfoon?
  • Johan Kirsten on Genesis 1:1-2:3Middag Chris. Ek merk dat as jy op die "menu" hierbo tik, die blok wat aan die linkerkant verskyn, blanko is. Daar is wel "onsigbare" skakels wat jou na die verskillende bladsye neem. Groete. Johan
  • Chris van Wyk on Psalm 11Dankie, Jenny. Ek het self weer baie moed uit dié Psalm 11 gekry. Veral uit die feit dat ons nie baie beheer het oor die fondamente nie, maar op God kan vertrou wat opregtes suiwer en goddeloses skroei, soos dit in die laaste deel van die Psalm uitgespel word. God kan oneindig meer doen as wat ons k…
  • Jenny on Psalm 11Baie dankie vir die boodskap wat weereens soos vorige boodskappe my help om deur baie swaar tye te kan kom. Die laaste jaar is daar so baie berge wat my toesak dat ek net kan vasklou aan God se woord en U maak dit makliker om sekere dinge beter te verstaan en net aan te hou glo en vertrou. Baie dank…
  • Chris van Wyk on Die Twaalf Kleiner ProfeteDankie Johan, waardeer.
  • Johan v Zyl on Die Twaalf Kleiner ProfeteHi Chris net so baie dankie vir die enorme werk wat jy in Bybelskool doen. Ek gebruik dit elke dag in my bediening hier in Lichtenburg Klipkerk. Ek het op 60 die Bybel herontdek met nuwe passie . Jesusliefde Johan v Zyl
  • Chris van Wyk on Salwing in die BybelEk is bly, Stoffie, dat ek kon help. Die waarhede in die Skrif is ons diepste en enigste beskerming teen dwaling.
  • Stoffie Van Dyk on Salwing in die BybelEk het die afgelope Sondag 'n diens bygewoon wat my baie ontstem het - mense in die gehoor is gesalf deur 'n "profetes", en snaakse dinge het gebeur. Hierdie hele skrywe oor die salfgebruik, en van die antwoorde op vrae was vir my baie leersaam omdat dit vir my Skriftuurlik is. Baie dankie
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 18Dankie Lesley, waardeer.
  • Lesley Barnard on 2 Samuel 18Pragtig, ñ mooi toepaslike verduideliking.
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 17Hi Hettie. Daar is twee letters in Hebreeus wat amper dieselfde geskryf word, maar verskillend uitgespreek word. Daar is die normale h wat uitgespreek word soos ons dit normaalweg doen. Dan is daar egter ook die letter ḥ (geskryf met 'n h met 'n punt onder) wat anders uitgespreek word. Die uitspraak…
  • Hettie Swart on 2 Samuel 17Baie dankie vir die oopbreek van die Woord. Ek sien dat my Bybel 35 vertaling na Husai verwys en nie Gusai soos in die Bybelstudie aangetoon word nie. Is dit verskillende uitsprake vir dieselfde mens? Help my reg asseblief.
  • Chris van Wyk on Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe👍