JOHANNES 10:11-18

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 10:11-18

Ons lees die teks in konteks:

Gelykenis van die skape en die kraal 

10:1 “Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim – daardie man is ‘n dief en ‘n rower. 2 Maar hy wat by die hek ingaan, is ‘n herder van die skape; 3 vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. 4 Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van vreemdes nie ken nie.” 6 Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel, maar hulle het nie begryp wat Hy vir hulle sê nie. 

Jesus die Goeie Herder

7 Jesus het toe weer gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. 8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; die skape het egter nie na hulle geluister nie. 9 Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. 10 ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11 Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12 Die huurarbeider, wat nie ‘n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle – 13 omdat die man ‘n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie. 14 Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, 15 net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. 16 Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder. 17 Om hierdie rede het die Vader My lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem. 18 Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang.”

19 Oor hierdie woorde het daar toe weer verdeeldheid onder die Jode ontstaan. 20 Baie van hulle het gesê: “Hy het ‘n demoon en is kranksinnig; waarom luister julle na hom?” 21 Ander het gesê: “Hierdie woorde is nie van iemand wat van ‘n demoon besete is nie. ‘n Demoon kan tog nie blindes se oë oopmaak nie?” (2020-vertaling).

Teks en konteks

10:1 Jesus gebruik hier die beelde van die skaapkraal, hek en herder om sy eienaarskap, versorging en begeleiding van sy mense te beklemtoon. Daar was verskillende tipe krale in gebruik in Jesus se tyd. Die Griekse woord wat Jesus hier gebruik – aulē – verwys waarskynlik na ‘n binnehof (courtyard) met ‘n oop dak, maar mure rondom.

Hoe jy die herder kan onderskei van die ander wat die skape wil lei, is dat die een wat nie deur die hek ingaan nie – dws wat nie die hek self kan oopmaak nie, omdat hy nie die verlof het om in te gaan nie, en deur die deurwagter gekeer sou word – maar van elders af bo-oor die muur oorklim, hy is ‘n dief en ‘n rower.

10:2-4 Die een wat egter deur die hek ingaan – dws wat die reg daartoe het of wat deur die hekwagter herken word – hy is ‘n herder van die skape. Vir hom maak die hekwagter oop. Boonop hoor die skape sy stem en omdat hy sy “eie” skape by die naam ken, kan hy hulle uitlei. Hy stap voor hulle uit en die skape volg hom.

10:5 Die skape sal in elk geval nie ‘n vreemdeling volg nie, omdat hulle nie stem van vreemdelinge ken nie. Dit beteken natuurlik ook dat die skape genoeg tyd in die geselskap van die herder moes deurbring, sodat hy hulle name kon ken, en hulle syne.

10:6 Soos dit die geval met al Jesus se gelykenisse was, begryp die Joodse leiers nie regtig wat Hy bedoel nie. Indien hulle insig gehad het, sou hulle verstaan het dat hy na hulle verwys. Implisiet sê Hy vir hulle dat hulle die hekwagter (God) nie ken nie, en ook nie in ‘n verhouding met die herder (Jesus) is nie. Boonop klim hulle oor die muur en probeer Hom beroof en sy skape van Hom steel.

10:7 Jesus onderstreep egter weereens sy punt, maar hierdie keer deur sy eerste punt in vers een subtiel te verander in ‘n volgende metafoor dat Hyself die hek van die skape is. Hy is die Hek en die Herder.

10:8 Hier spel Jesus dit nog dieper uit, dat Hy die hek vir die skape is (op soortgelyke wyse is Hy ook die leer na die hemel – Joh 1:51; en die weg na God – Joh 14:6). Almal wat voor Hom gekom het om die volk te lei, het op een of ander manier gefaal in hulle taak, kon dit nie volmaak uitvoer nie, en word daarom as diewe en rowers geag. Dieselfde radikale oordeel as wat ons in Esegiël 34 lees oor Israel se leiers met die belofte dat God self ‘n Herder sal gee.

10:9 Jesus is die hek, die deur na God. As iemand deur Jesus na God toe kom, sal hy gered word en soos ‘n skaap ingaan en vandaar af gelei word na weiding

10:10 Die diewe wil die skape steel van die eienaar om hulle dood te maak en te vernietig. Jesus se doel met sy skape is om hulle die lewe te gee en dit in oorvloed.

10:11-13 Dan verander Jesus die metafoor weer ‘n keer. Hy is nou nie net die hek, die weg na God nie, maar die Goeie Herder self, dié Een wat Esegiël voorspel het, die Een wat die skape versorg. Hy is bereid om sy lewe af te lê vir sy skape, soos ‘n Dawid dit eenmaal bereid was om te doen. Hy is nie soos ‘n huurling wat die skape vir die wolwe los en nie oor hulle bekommerd is nie.

10:14-15 Jesus herhaal die metafoor. Hy is die Goeie Herder. Hy ken nie net sy skape nie. Hulle ken ook vir Hom. Hulle verhouding is soos sy verhouding met sy Vader. Daarom is Hy bereid om sy lewe vir hulle af te lê.

10:16 Die ander skape waarvan Jesus hier praat, dui op die heidene wat nog in Hom sou glo. Hy moet hulle ook lei sodat hulle nie net na Hom sal luister nie, maar saam met die gelowiges uit die Jodedom een kudde onder een Herder sal wees.

10:17-18 Maar getrou aan wat Jesus reeds met die beeld van die brood wat lewe gee, gesê het, hou sy herderskap letterlik sy dood in, want Hy lê sy lewe af vir sy skape (vgl Sag 13:7). Let op hoe Hy ook praat van sy lewe weer opneem, soos sy Vader dit vir Hom moontlik sal maak, omdat Jesus dit uit liefde vir die Vader doen – waarmee Hy sy eie opstanding uit die dood voorspel. Let ook op hoe sy dood op sy eie besluit berus. Hy het die mag om sy lewe neer te lê. Hy het ook die mag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Hy van God sy Vader ontvang het. Hy was nie ‘n slagoffer van sy omstandighede nie, maar in beheer van sy bestemming.

10:19-21 Die Jode het egter nog meer probleme met hierdie woorde, en dink dat Jesus óf van die duiwel besete is, óf versteur – hoewel daar tog ook mense was wat gesê het, sy woorde en sy wonders bewys die teendeel. Die blinde man se genesing het hulle daarvan oortuig (vgl Joh 9).

Boodskap en betekenis

Die boodskap van vers 1-6 is glashelder vir gelowiges vandag wat die Here Jesus se stem in die Skrif en deur sy Gees leer ken het. Enigiemand wat probeer om God se wil uit te spel sonder om dit in die Skrif en die werk van die Gees te anker, is rowers en diewe. Hulle moet op geen manier toegelaat word om interaksie met die skape te hê nie. Hulle is valse herders wat in die plek van Jesus sy rol by die skape probeer oorneem met hulle eie dwase leringe as basis. Dit moet ons tot waaksaamheid aanspoor.

Die metafoor van Jesus as die Goeie Herder, is ook baie bekend. Maar, om dit net weer te lees en oor na te dink is só ‘n gerusstelling. Veral om te weet dat Hy dit goed bedoel met ons. Dat Hy bereid was om vir die prys te betaal, sodat ons saam met Hom in ‘n verhouding met God die Vader kan wees. Watter vreugde.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • TV, die Internet, die geld-god, die dobbelgod, die plesiergod die rugby ens. god, die seksgod, onkuisheid is almal gode, die mens sal eerder voor die TV sit as om kerk toe te gaan, “Deur aktiewe deelname aan die eredienste en selgroepe, Heb. 10:25″. Deur my geestelike kontak met mede-gelowiges.”. Dit is beter om getrouheid toe te pas, in persoonlike Bybel studies en gebed. Hand. 17:11; Rom. 12:12; 2 Tim. 3:15-17.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: