ROMEINE 4:13-25

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

ROMEINE 4:13-25

Ontvangs van die belofte van God deur geloof 

13 Die belofte dat hy die wêreld as erfdeel sou ontvang, het nie deur die wet na Abraham of sy nageslag gekom nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. 14 Immers, as mense op grond van die wet erfgename is, het die geloof betekenisloos geword en die belofte sy krag verloor. 15 Dit is tog die wet wat toorn meebring; maar waar daar geen wet is nie, is daar ook geen oortreding nie. 16 Daarom het die belofte op geloof berus, sodat dit volgens genade kon vasstaan vir Abraham se hele nageslag, nie net vir hulle wat op grond van die wet leef nie, maar ook vir hulle wat op grond van Abraham se geloof leef. Hy is ons almal se vader, 17 soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak”  – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. 18 Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos gesê is: “Só sal jou nageslag wees.” 19 Sy geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. 20 Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. 21 Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen. 22 Daarom “is dit vir hom as regverdiging gereken”. 23 Dat dit vir hom as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, 24 maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25 Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek. (Die Bybel 2020-vertaling)

Teks en konteks

Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 n.C. in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand. 20:2-3).

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl. 16:5,14,15). En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?

Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (Rom. 2:25-3:1; 4:9-12 – vgl. Gal. 5:2-12) en die voedsel wette (Rom. 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl. egter Kol. 2:16).

Paulus roep in hoofstuk vier drie OT figure op as bevestiging van sy standpunt dat God se geregtigheid, sy genade, sy vryspraak (Rom 4:16), deur geloof ontvang word: Abraham, Dawid en Moses. 

In die eerste perikoop fokus hy op Abraham en Dawid. Hy bevestig dat gelowiges geregtigheid verkry buite wetsonderhouding om. Dié uitspraak het betrekking op dié wat besny is, sowel as dié wat nie besny is nie. Geloof in God spreek jou vry van jou sonde.

In die tweede perikoop wat ons hierbo gelees het, fokus Paulus op Abraham se nalatenskap (vgl. Gal. 3 waar Abraham net so ’n belangrike rol speel) in kontras met dié van Moses.

Let op hoe Paulus hier nie net oor die geregtigheid praat nie, maar oor die gevolge daarvan: Abraham en sy nageslag het die belofte ontvang dat hulle die wêreld as besitting (“erfgenaam van die kosmos”) sou ontvang. Dit is ’n droom-belofte, dié visie waaraan gelowiges, veral in swaar tye, vasgehou het, ’n visie op ’n nuwe volkome werklikheid waar die vryspraak in sy volle konsekwensies geniet kan word, en waar die sonde en die gevolge van die sonde geen invloed meer sal hê nie.

Paulus wys egter weereens onomwonde enige verdienste vir hierdie belofte op grond van wetsonderhouding af, en daarmee ’n lewe gebaseer op die nalatenskap van die wet van Moses. Geregtigheid sowel as die belofte word uit genade gegee, deur die geloof.

Geloof is ’n leë hand wat na God uitgesteek word, waarmee die genade van geregtigheid uit God se hand ontvang word. Anders sou geloof sy betekenis verloor en die belofte sy krag. Daarmee staan Paulus direk teenoor ‘n Joodse werkheiligheid interpretasie.

Maar daar is meer. Deur geloof kon Abraham die vader van baie nasies word (Gen 17:5) en kon die nasies deel in die genade van geloof.

Nog dieper: Abraham se geloof kom ooreen met die beskrywings van God. God maak dooies lewend; Hy bring dinge uit niks uit (ex nihilo) tot stand. Net so het Abraham aan die belofte van God dat hy ’n kind sou hê, vasgehou, al was sy liggaam gedaan en Sara al te oud (vgl Hebr. 11:11-12). Dit is asof hy ’n kind uit die niks uit in aanskyn geglo het, omdat hy aan die God vasgehou het wat juis sulke dinge kan doen!

Let op hoe Paulus in vers 25 die geregtigheid ook aan Jesus se opstanding verbind. Dit is dus nie net die offerdood van Jesus wat die geregtigheid bewerk nie (Rom. 3:25-26), maar ook sy opstandingslewe (Rom. 4:24-25). Dit is betekenisvol, omdat dit die opgestane Here is wat ’n teenswoordige krag in ons word om in die geregtigheid te kan lewe (vgl. Rom. 8:10-11 – “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak … die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is”).

Boodskap en betekenis

Let op dat dieselfde “oorgee”-taal (in Grieks paradidōmi) as in Romeine 1 gebruik word. God het Jesus “oorgegee” (paradidōmi) aan die kruisdood en opgewek ter wille van ons geregtigheid en regverdigmaking. Ons word in Christus dus vrygemaak van die seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes, korrupte en verwerplike denke wat die mensdom gevange in hulle sonde hou. Dieselfde gedagte sal ook in Romeine 8:32 gebruik om die sekerheid van ons verlossing aan die “oorgee” van Christus ter wille van ons vryspraak en oorwinning uit te spel.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: