Skip to main content

EFESIËRS 3:14-21

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

EFESIËRS 3:14-21

Paulus se gebed vir die lesers 

14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader, 15 van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang. 16 Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, 17 sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is, 18 sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, 19 ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.

Lofprysing 

20 Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, 21 aan Hom kom toe die heerlikheid in die kerk en in Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. Amen. 

Teks en konteks

Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë om van God self te vra dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word.  Hy sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tussen hulle gesmee het, te handhaaf.  Hier is sy fokus egter om dit van God te vra.

Let op hoe Paulus hier oor die gemeenskap van gelowiges met praat.  Hy beskou hulle as ‘n familie – dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 eintlik beteken.  Dit is ‘n familie wat die grense van tyd oorskry – hulle is in die hemel en die aarde.  Dit is ook ‘n familie wat deur die geslagte heen EEN gemeenskap bly – vers 21.

En sy droomgebed vir hierdie familie van gelowiges is dat hulle almal werklik heeltemal vervul sal word met die volheid van God – soos hy al in Efesiërs 1:23 God se droom vir die kerk uitgespel het.  Hy spel dit in ses  bedes uit:

  • Hulle het in die eerste plek innerlike krag nodig – iets wat die Gees doen in ons harte en wat die hoop in ons brandend hou. 
  • Hulle het in die tweede plek geloof nodig, want dit is hoe Christus ‘n woonplek in ons harte kry, sodat Hy ‘n werklikheid in elkeen word.
  • Daardeur sal hulle hele lewe in die derde plek in die liefde gewortel en gegrondves wees, wat onontbeerlik is om werklik vrug te kan dra.
  • Paulus bid ook dat hulle in die vierde plek sal groei in hulle insig in hoe ver die liefde van Christus strek, want dit sluit alles en almal in.  Let op hoe Paulus letterlik die liefde van Christus as ‘n soort driedimensionele kubus beskryf wat ons hele werklikheid insluit.  Paulus se dimensies van wyd, ver, hoog, en diep beskryf ‘n driedimensionele werklikheid, die  breedte, lengte, hoogte, en diepte daarvan.
  • Maar insig is nog nie alles nie!  In die vyfde plek bid Paulus dat hulle Christus se liefde sal ken, dws dit sal ervaar, ‘n liefde wat eintlik ons begrip en insig te bowe gaan.
  • En Paulus sluit in die sesde plek af met ‘n gebed dat hulle heeltemal vervul sal word met die volheid van God, presies dít wat hy bely het van die kerk in 1:23.

En dit is wat God in hulle sal bewerk, om die waarheid te sê, Hy kan ook nog meer doen as wat Paulus (of ons) kan bid of dink – oneindig meer!  Daarom kom alle eer aan God toe, in die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld, en tot in alle ewigheid.

Boodskap en betekenis

Daar is ‘n integrale verband tussen ons belydenis van wat God is en doen, en ons gebed tot God om sy wese en werke in die geloofsgemeenskap tot sy volle werking te laat kom. Hierdie gebed help ons om wat ons glo van onsself – dat ons kinders van God is – en wat ons glo van die geloofsgemeenskap – dat ons ‘n gemeenskap is wat tyd en ruimte oorskry – aan God op te dra om al hoe meer die wonder daarvan te kan beleef.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda