Skip to main content

HANDELINGE 3:12-19

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HANDELINGE 3:12-19

Ons lees weereens die gedeelte in konteks.

Genesing van die verlamde 

3:1 Op die negende uur, die uur van gebed, was Petrus en Johannes na die tempelterrein op pad. 2 ‘n Man, verlam van sy geboorte af, is daarheen gedra. Hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort bekend as Mooipoort, om by die mense wat die tempelterrein binnegaan, om ‘n aalmoes te vra. 3 Toe hy sien dat Petrus en Johannes op die punt was om die tempelterrein binne te gaan, het hy gevra om ‘n aalmoes te ontvang. 4 Petrus, vergesel van Johannes, het stip na hom gekyk en gesê: “Kyk na ons!” 5 Hy het toe na hulle gekyk in die verwagting om iets van hulle te ontvang. 6 Maar Petrus het gesê: “Silwer en goud het ek nie, maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” 7 Hy het hom aan sy regterhand gegryp en opgehelp. Onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. 8 Hy het opgespring, regop bly staan, rondgestap, en toe saam met hulle die tempelterrein binnegegaan, terwyl hy loop en spring en God prys. 9 Die hele volk het gesien hoe hy God loop en prys. 10 Hulle het hom herken as die een wat by die Mooipoort van die tempelterrein gesit het met die oog op aalmoese, en hulle was vol verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. 

Petrus se toespraak by die tempel 

11 Terwyl die man aan Petrus en Johannes bly vashou, het die hele volk stomgeslaan om hulle saamgedrom in die pilaargang bekend as die Pilaargang van Salomo.

12 Toe Petrus dit sien, het hy die volk toegespreek: “Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd? Waarom staar julle ons aan asof ons hom deur ons eie krag of godvresendheid laat loop het?

13 Die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het sy Dienskneg Jesus verheerlik – Hom wat julle oorgelewer het en voor Pilatus verloën het, al het hy beslis dat Hy vrygelaat word. 14 Julle, egter, het die Heilige en Regverdige verloën, en geëis dat ‘n moordenaar vir julle begenadig word;

15 maar julle het die Leidsman tot die lewe doodgemaak. God het Hom uit die dood opgewek – daarvan is ons getuies. 16 Dit was op grond van geloof in die Naam van Jesus dat sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak het. En die geloof wat deur Jesus kom, het in julle almal se teenwoordigheid hierdie volkome genesing aan hom gegee.

17 En nou, broers, ek weet dat julle uit onkunde opgetree het, soos ook julle leiers;

18 maar op hierdie manier het God in vervulling laat gaan wat Hy vroeër by monde van al sy profete aangekondig het, naamlik dat sy Christus sou ly.

19 Bekeer julle en draai terug, sodat julle sondes uitgewis kan word,

20 en vanaf die Here self tye van verkwikking kan aanbreek, en Hy die Christus wat vir julle aangewys is, kan stuur, naamlik Jesus.

21 Die hemel moet Hom verwelkom tot op die tyd van die herstel van alle dinge, waarvan God lank gelede by monde van sy heilige profete gepraat het.

22 Moses het immers gesê, ‘Die Here julle God sal vir julle net so ‘n profeet soos ek uit julle broers laat opstaan. Na Hom moet julle luister, na alles wat Hy vir julle sê. 23 Elkeen wat nie na daardie profeet luister nie, sal onder die volk uitgedelg word.’

24 Ook al die profete wat sedert Samuel en sy opvolgers geprofeteer het, het hierdie dae aangekondig.

25 Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met julle vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het, ‘In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.’ 26 God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.” (2020-vertaling).

Teks en konteks

Dit is opmerklik dat die eerste fase van die dissipels se bediening steeds in die tempel plaasvind, dié tempel wat Jesus self “gereinig” het en in die laaste week van sy aardse bediening die mense geleer het (Luk 19-21). Die tempel is dan ook die plek waar die eerste wonder plaasvind in die bediening van die apostels.  Let op hoe die verlamde man vir Petrus en Johannes sien  – die normale woord vir kyk eidoo – en hulle hom dan stip aankyk – ’n woord wat die betekenis van toegespitste aandag oordra antenizoo (attentive).  Hulle vra hom dan om na hulle te kyk – nog ’n Griekse woord blepoo wat ook die metaforiese betekenis kan dra om met begrip te kyk.  Dit is wanneer hy só reageer, dws met verwagting, dat hulle hom die gawe van gesondheid in die Naam van Jesus gee.

Hierdie wonder het beteken dat hulle boodskap nou nie net deur die wonder van die Heilige Gees se uitstorting gerugsteun is nie, maar nou ook deur dieselfde wonders wat Jesus gedoen het.  Binne dae het hulle bediening onder almal se aandag gekom, wat aan die een kant as teken gedien het dat Jesus se bediening voortgesit word deur die apostels in dieselfde krag waarmee Hy opgetree het. Maar aan die ander kant ook skerp teenstand van die godsdienstige leiers uitgelok het, iets wat natuurlik toenemend in Jesus se eie bediening gebeur het en tot sy dood gelei het, en wat hierna so fel sou toeneem teenoor die kerk van Jerusalem dat daar ’n grootskaalse vervolging van die Christene sou uitbreek.

Petrus gebruik in ons teksgedeelte weereens die reaksie op die wonder (soos met Pinksterdag) om die evangelie aan die skare mense wat in die tempel is, te verkondig.

Let op hoe hy sy boodskap opdeel. Hy wy eers uit oor wat hulle nou ervaar het en verbind dit aan God se werk – Lukas 3:12-16. Dan vervolg Hy deur hulle ervaring in die Skrifte te begrond – Lukas 3:17-19(26).

1. Dit is dieselfde Jesus wat hulle doodgemaak het, wat nou in sy opstandingskrag die genesing bewerk – Lukas 3:12-16.

Petrus is duidelik daaroor dat hulle as dissipels net instrumente was waardeur die krag van die Here self gewerk het. Dit is selfs nie hulle besondere godvresendheid wat enigsins ‘n bydrae gemaak het nie.

Petrus verduidelik dus dat dit die God van hulle Joodse voorvaders is wat hier opgetree het. Die God waarin die Jode ook verklaar dat hulle in Hom glo, het sy Dienskneg Jesus verheerlik deur Hom uit die dood op te wek.

Petrus spaar hulle dus nie die afgryslike oortreding deur te verklaar dat hulle vir Jesus voor Pilatus verloën het, deur te eis dat Hy gekruisig word, al het Pilatus beslis dat Jesus vrygelaat moet word. Hulle het dus aangedring daarop dat Jesus as onskuldige sterf.

Daarmee het hulle die “Heilige en Regverdige” verwerp, die Een wat die Leidsman tot die lewe is.

Dit is op grond van die geloof in die Naam van Jesus, en die geloof wat deur Jesus kom, wat die man genesing ontvang het.

2. Hierdie Jesus is lank alreeds deur die profete aangekondig, en wil steeds tot ’n seën wees selfs vir dié wat Hom gekruisig het – Lukas 3:17-19(26).

Dit bly darem maar net ongelooflik om die boodskap van bekering in werking te sien. Petrus neem die Jode terug na die Skrif, en sê, wat hulle hier gesien het, is iets wat hulle self in die Skrifte kan gaan naspeur. Hulle hoef nie staat te maak op hulle ervaring nie, maar hulle kan die Skrifte vertrou, want wat hulle in Jesus beleef het, is dat die Skrifte in vervulling gegaan het.

Sy boodskap is dat hulle daarom tot bekering moet kom, hulle onkunde en sondes moet bely, en by God vergifnis moet vra. Selfs vir die leiers wat die voortou geneem het in die verwerping en verloëning van Jesus is daar genade.

Dit tref my ook dat Petrus werk met ’n baie nabye verwagting van Jesus se wederkoms. As die Jode tot inkeer kom en hulle tot Hom wend, sal Hy hulle seën en weer terugkom na hulle toe, ná Hy sy werk van die herstel van alle dinge voltooi het. Dit is ook dinge wat hulle in die Skrif kan gaan naspeur. Petrus verwys dan na Moses (vgl Deut 18) en Samuel en al die profete as ‘n verdere onderstreping van sy boodskap.

Boodskap en betekenis

Soos Jesus die dissipels se verstand geopen het om die Skrifte te verstaan (Luk 24), só probeer Petrus dit ook doen met die Jode in Jerusalem (Hand 3). Dit is die helder boodskap aan die kerk van alle eeue. God se skriftelike openbaring is die enigste vaste fondasie vir leer en lewe.

En selfs al het die Joodse leiers hierna baie skerp opgetree  en Petrus en Johannes in die tronk gegooi, het bykans 2 000 Jode op dié dag tot geloof gekom, en hulle tot die Here bekeer, en by die gemeente van Jerusalem aangesluit. Die gemeente was hierna meer as 5 000 sterk vgl (Hand 2:41; 4:4 – dit lyk asof net die mans getel is)!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 71Sy het die Here gedien met haar hele hart en eerder my met huisbesoek bemoedig as wat ek dit vir haar gedoen het. Sy was een van die pilare van ons geloofgemeenskap.
  • Neels Fourie on Psalm 71More dr vertel my meer van tannie phoebe
  • Chris van Wyk on 1 Kronieke 28-29Groete!
  • Wansen Engelbrecht on 1 Kronieke 28-29Baie dankie. Groetnis Wansen Engelbrecht Klerksdorp
  • Chris van Wyk on Genesis 1:1-2:3Is dit op 'n selfoon?
  • Johan Kirsten on Genesis 1:1-2:3Middag Chris. Ek merk dat as jy op die "menu" hierbo tik, die blok wat aan die linkerkant verskyn, blanko is. Daar is wel "onsigbare" skakels wat jou na die verskillende bladsye neem. Groete. Johan
  • Chris van Wyk on Psalm 11Dankie, Jenny. Ek het self weer baie moed uit dié Psalm 11 gekry. Veral uit die feit dat ons nie baie beheer het oor die fondamente nie, maar op God kan vertrou wat opregtes suiwer en goddeloses skroei, soos dit in die laaste deel van die Psalm uitgespel word. God kan oneindig meer doen as wat ons k…
  • Jenny on Psalm 11Baie dankie vir die boodskap wat weereens soos vorige boodskappe my help om deur baie swaar tye te kan kom. Die laaste jaar is daar so baie berge wat my toesak dat ek net kan vasklou aan God se woord en U maak dit makliker om sekere dinge beter te verstaan en net aan te hou glo en vertrou. Baie dank…
  • Chris van Wyk on Die Twaalf Kleiner ProfeteDankie Johan, waardeer.
  • Johan v Zyl on Die Twaalf Kleiner ProfeteHi Chris net so baie dankie vir die enorme werk wat jy in Bybelskool doen. Ek gebruik dit elke dag in my bediening hier in Lichtenburg Klipkerk. Ek het op 60 die Bybel herontdek met nuwe passie . Jesusliefde Johan v Zyl
  • Chris van Wyk on Salwing in die BybelEk is bly, Stoffie, dat ek kon help. Die waarhede in die Skrif is ons diepste en enigste beskerming teen dwaling.
  • Stoffie Van Dyk on Salwing in die BybelEk het die afgelope Sondag 'n diens bygewoon wat my baie ontstem het - mense in die gehoor is gesalf deur 'n "profetes", en snaakse dinge het gebeur. Hierdie hele skrywe oor die salfgebruik, en van die antwoorde op vrae was vir my baie leersaam omdat dit vir my Skriftuurlik is. Baie dankie
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 18Dankie Lesley, waardeer.
  • Lesley Barnard on 2 Samuel 18Pragtig, ñ mooi toepaslike verduideliking.
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 17Hi Hettie. Daar is twee letters in Hebreeus wat amper dieselfde geskryf word, maar verskillend uitgespreek word. Daar is die normale h wat uitgespreek word soos ons dit normaalweg doen. Dan is daar egter ook die letter ḥ (geskryf met 'n h met 'n punt onder) wat anders uitgespreek word. Die uitspraak…