Skip to main content

JOHANNES 6:51-58

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 6:51-58

51Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.”

52Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” 53Daarop sê Jesus vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. 55Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. 58Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.”

59Dit het Hy in ‘n sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het. (2020-vertaling)

Teks en konteks

6:51 Dan rig Jesus Hom aan almal wat in Hom glo en verseker hulle dat hulle die ewige lewe het. Hy kontrasteer die effek van die manna in die woestyn met die effek wat Hy as die Brood van die lewe het. Die volk het in die woestyn gesterf, want die manna kon hulle nie red nie. Dit is anders met Jesus. Hy gee onsterflikheid in die ewige lewe deur sy eie vlees en bloed.

6:52-59 Soos dit dikwels gebeur as daar teenstand kom, veroorsaak hierdie woorde van Jesus onderlinge konflik by die leiers in die sinagoge in Kapernaum. Hulle kan eenvoudig nie Jesus se boodskap verstaan nie, want hulle probeer dit te letterlik interpreteer. Hy kan tog nie Homself opsny en vir hulle voorsit as ‘n ete nie, maak hulle beswaar.

Jesus ignoreer egter hulle verkeerde interpretasie en herhaal net weer dieselfde boodskap dat Hy die Brood van die lewe is, en voeg daarby dat sy bloed die ware drank is. Hy het immers reeds eet en drink as metafore vir geloof in Hom uitgespel in vers 35. Dié wat dus metafories sy vlees eet en sy bloed drink, beleef ‘n intieme gemeenskap met Hom.

Dit is ook ‘n duidelike heenwysing na die boodskap van die instelling van die nagmaal en sy dood aan die kruis.  Dié wat na Hom toe kom en intiem met Hom saamleef, sal vir altyd lewe. Dié wat vir hierdie intieme gemeenskap nee sê nie, sal die ewige lewe verpas.

Hy verduidelik verder dat dit die tipe gemeenskap is wat Hy met die Vader geniet. Hy lewe as gevolg van die Vader. So sal elkeen wat in Jesus glo– wat Hom eet – ook as gevolg van Hom lewe.

Die gevolge van hierdie helder getuienis was verreikend, want die Jode wou Hom hierna doodmaak. Hy was hierna al hoe meer beperk tot Galilea en kon nie meer sonder meer in Judea bedien nie (Joh 7:1).

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik dat hierdie gesprek met die skare en die Joodse leiers die hart is van die boodskap wat Jesus bring. Soos die Vader met Hom in gemeenskap lewe, só wil Hy met gelowiges in gemeenskap lewe. Elkeen wat daarvoor já sê, het die ewige lewe. Elkeen wat daarvoor nee sê, het nie die ewige lewe nie.

Dit sê vir ons twee goed. Die eerste is dat dit die punt is waarop daar skeiding kom tussen dié wat in opstand kom teen Hom en sy boodskap, en dié wat in Hom bly glo en daarom alles wat Hy sê, aanvaar en doen as komende van God die Vader.

Die tweede is dat Jesus ons uitnooi na die mees intieme gemeenskap wat daar in hierdie lewe beskikbaar is. Waar ons in Hom bly en Hy in ons. Waar ons deur God geleer word, en in Hom lewe. Daar is niks wat daarmee vergelyk kan word nie.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem