ROMEINE 8:12-17

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

ROMEINE 8:12-17

Ek plaas die gedeelte van vers 1 af ter wille van konteks.

’n Lewe onder beheer van die Gees 

1 Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie. 2 Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Dit waartoe die wet, verswak deur ons sondige aard, nie in staat was nie, het God gedoen: Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van ‘n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel, 4 sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees. 5 Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. 6 Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede.

7 Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie. 9 Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. 10 Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. 11 As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. 

12 Daarom dan, broers, het ons ‘n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. 13 Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. 14 Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. 15 Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “ Abba , Vader!” 16 Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. 17 Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Daar is uiteindelik net een manier om die Christelike lewe te leef, en dit is deur die Gees. Hy is die agent van transformasie. Soos Jesus Christus ’n einde aan God se veroordeling van die sonde gebring het vir dié wat glo (Rom. 3:21-31), so is die Gees die Een wat die verandering bring vir dié wat leef in gehoorsaamheid aan die Gees.

Geen wonder die Heilige Gees word 20 keer genoem in hoofstuk 8 nie! ’n Oorwinnende Christelike lewe kan nooit deur die wet gebeur nie. Daarvoor is ons sondige vlees te swak. Ons kan net verander deur ’n daaglikse oorgawe aan die beheer van die Gees waardeur ’n einde gemaak word aan ons sondige praktyke (vgl Rom 1:18-32).

’n Mens kan selfs sê, soos Paulus, dat daar ’n nuwe wet is, die wet van die Heilige Gees wat ons vrymaak van die wet van die sonde en die dood (Rom 8:2 – let wel nie van die wet van God nie). Hiermee sluit Paulus aan by ’n hele paar OT profete wat reeds eeue gelede verkondig het dat ware verandering net deur God self kan kom. ‘n Verandering wat in die binnekant – in die harte en gedagtes – van sy mense sal kom.

  • Jesaja het daaroor geprofeteer as deel van die nuwe bedeling wat God sou bring. Hy het aangekondig dat God sy wet in die harte (gedagtes) van sy volk in die nuwe bedeling sal gee (Jes 51:7). Dit sal ‘n nuwe wet (lering) wees as deel van die Messiaanse tydperk wat aanbreek wat sy reg as lig vir die nasies sal vasstel (Jes 51:4). 
  • Jeremia het daarby aangesluit en geprofeteer dat die wet van God in sy volk se binneste sal wees en in hulle harte (gedagtes) geskryf sal word. En onthou dat Jeremia dit as ’n toekomstige hoop geprofeteer het toe die ballingskap al heeltemal onafwendbaar geword het (Jer 31:31-34; vgl Hebr 8:10; 10:16). 
  • Esegiël het net ‘n paar jaar later op sy beurt daarby aangesluit en dit as dié hoop vir die toekoms aan die ballinge verkondig. God sal sy volk ‘n nuwe gees, ‘n nuwe hart, gee om in al sy insettinge te kan wandel en sy verordeninge te kan hou en doen (Eseg 11:19-20).

Let op hoe Paulus die verandering as ’n geestelike werklikheid skets, iets wat die Gees doen (Rom 8:9), maar dat dit ook ‘n fisiese konkrete werklikheid in hulle sterflike liggame sal wees: “sal ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Rom 8:11).

Net soos Jesus uit die dood opgewek is, sal die Gees ons ook uit die dood opwek.

Maar, en dit is baie belangrik, hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie. Ons het ’n verpligting om deur die Gees ’n einde te maak aan ons sondige praktyke, iets waarop Paulus in hoofstuk 12 en verder aan weer sal terugkom.

Daarmee is die toorn van God waaroor Paulus in hoofstuk 1 geskryf het, afgewend, en kan hy in die volgende gedeelte skryf oor die feit dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet. Immers, as God vir ons is, wie kan teen ons wees?!

Prakties werk dit só: ons sê nee vir ons sondige aard – vergelyk die groot getal sondes van Romeine 1 as voorbeelde – en sê ja vir die Gees wat dié praktyke in ons lewens wil uitwis. Soos die Gees ons lei om die sondige praktyke van die liggaam dood te maak, word ons al hoe meer wat God van ons gemaak het, kinders van Hom.

Ons hoef dus nooit weer bang te wees vir enige veroordeling nie, want die Gees getuig self in ons gees dat ons kinders van God is. Meer nog, dat ons erfgename is van God saam met Christus en dat die lyding wat ons in die proses ly nie sal opweeg teen die heerlikheid wat ons deel in die koninkryk van God sal wees nie.

Boodskap en betekenis

Romeine 8 is ‘n baie belangrike hoofstuk binne die boodskap van die boek.

Die toorn van God wat rus op almal wat sondig, word slegs opgehef deur geloof in Christus (Rom 1:18-23). Dit geld alle mense, want almal het gesondig en die eer aan God ontbreek by hulle, dws hulle eer God nie met hulle lewens nie (Rom 3:21).

Die tronk waarin daardie sondes ons gevange gehou het, word slegs oopgebreek deur die werk van die Heilige Gees in die doodmaak van die sondige praktyke in ons sterflike liggame. Dit is sondes soos (Rom 1:24-31):

  • onreinheid (ontering van ons liggame),
  • oneerbare drange (teen-natuurlike en skandelike seksuele omgang), en
  • verwerplike denkwyses en onbetaamlike gedrag (elke vorm van onreg, boosheid, hebsug en kwaad: vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid en kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, kwaadstokers, haters van God, brutaal, hooghartig en grootdoenerig, vindingryk om slegte dinge te bedink, ongehoorsaam aan hulle ouers; onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos en sonder medelye)

Alle kinders van die Here het die getuienis van die Heilige Gees in hulle harte om ja te sê vir hierdie heiligmakingsproses waarsonder ons God nie kan behaag nie.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d