Skip to main content

1 PETRUS 3:18-22

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 PETRUS 3:18-22

Ons lees die teks in die konteks van die hele perikoop.

Riglyne vir optrede 

8 Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, 9 mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.

10 Immers, “wie die lewe wil liefhê, 

en goeie dae wil beleef – 

laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, 

en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, 

11 en laat hy afwyk van die kwaad, 

en die goeie doen, 

laat hy vrede soek en dit najaag; 

12 want die oë van die Here 

is op die regverdiges, en sy ore is oop 

vir hulle gebedsversoeke, 

maar die aangesig van die Here 

is teen dié wat verkeerde dinge doen.” 

13 Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? 14 Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. 15 Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. 16 Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met ‘n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. 17 Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen. 

18 Immers, ook Christus 

het eens en vir altyd vir sondes gely,

Hy, die Regverdige, 

ter wille van onregverdiges, 

sodat Hy julle na God kon bring. 

Hy is wel liggaamlik doodgemaak, 

maar deur die Gees is Hy lewend gemaak. 

19 Deur die Gees het Hy ook gegaan 

en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig. 

20 Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. In die ark is net ‘n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered.

21 Die doop, wat ‘n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as ‘n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as ‘n smeekgebed tot God om ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus – 22 Hy wat aan die regterhand van God is, nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is. 

Teks en konteks

Petrus voltooi die vyfde sirkel van sy lering oor geestelike groei in hoofstuk drie waarin hy uitspel hoe dit in die huwelikslewe tot sy reg sal kom deur in eerbied en begrip vir mekaar te lewe – vers 1-7. Die eerste vier was:

  1. Sorg dat jyself geestelik groei deur die “melk van die woord” – 1 Petrus 2:1-3
  2. Laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis vir die Here – 1 Petrus 2:4-10
  3. Dien God in die gemeenskap deur goed te doen – 1 Petrus 2:11-17
  4. Respekteer jou werkgewer en volhard in goeddoen in die navolging van Christus – 1 Petrus 2:18-25

Ten slotte gee hy aandag aan ‘n paar algemene riglyne – ‘n mens kan dit ook as ‘n sesde sirkel van geestelike groei formuleer – vir hulle gedrag waarin hy op sekere temas uit die vyf sirkels van geestelike groei uitbrei – vers 8-22.

Regdeur is die voorbeeld van Christus steeds die maatstaf vir geestelike groei in al die verskillende dimensies van hulle verhoudinge met ander mense, uitgedruk met die algemene stelreël: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.” Aan die einde van die hoofstuk raak Petrus ook die impak van die evangelie aan op dié wat reeds dood is.

Laat Jesus Christus die maatstaf vir julle gedrag wees

Petrus vervolg met ‘n hele aantal riglyne vir hulle gedrag in die geloofsgemeenskap sowel as in die breër publieke gemeenskap. Let op hoe hulle eensgesindheid, meelewendheid, onderlinge liefde, ontferming, nederigheid, vermyding van vergelding sowel as van skeldtaal, opgesom word in die stelreël: “inteendeel, wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.

Hy begrond dié roeping in ‘n aanhaling uit Psalm 34:13-17 waar dit juis die dankbaarheid oor God se beskerming is wat ten grondslag lê van die motivering om kwaadpraat en bedrog te vermy, en te fokus op die doen van die goeie en die najaag van vrede. “Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke.” Inderdaad!

Petrus herhaal wat hy al voorheen gesê het dat lyding ter wille van wat reg is, geseënd is. Daarom moet die onkundiges en kwaadwilliges se intimidasie nie gevrees word nie of selfs daaroor ontsteld geraak word nie. Die regte manier van optrede in enige situasie van intimidasie of ontsteltenis is om in die eerste plek die Here Jesus Christus te eer en om sy wysheid en optrede te vra, terwyl die antagoniste in die tweede plek met beskeidenheid en respek hanteer word. In die derde plek moet rekenskap gegee word oor die hoop wat in ons leef en in die vierde plek steeds voortgegaan word om goed te doen, selfs al beteken dit lyding.

Petrus maak dus ‘n baie sterk saak uit daarvoor dat om ander te seën en aan te hou om goed te doen, maak nie saak wat die uitdagings of teenstand is wat ‘n mens ervaar nie, te alle tye die regte en aangewese ding is om te doen. Dit is ‘n baie sterk beklemtoning in sy brief, ‘n boodskap wat ons baie nodig het in ‘n tyd waarin selfgelding en selfverheerliking die botoon in die Westerse samelewing voer.

Dit is immers die voorbeeld van die Here Jesus Christus, soos Petrus al in die vorige hoofstuk uitgespel het, en nou weer doen. Die Christus het vir hulle (en ons) sondes gely: “Hy die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring.” Hierin eggo hy dele van Paulus se verkondiging van dieselfde teologie (Rom. 6:10) soos ons dit ook in Hebreërs aantref (Hebr. 10:10).

Hierdie boodskap word aan die een kant in ‘n amper sydelingse kommentaar geteken as iets wat nie net vir die gelowiges van Petrus se tyd betekenis gehad het nie, maar ook vir gelowiges uit die verlede. “Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig.

Die “geeste in die gevangenskap” word as “daardie geeste” uitgespel wat destyds ongehoorsaam was toe God in Noag se dae geduldig bly wag het terwyl die ark gebou is. Sommige geleerdes dink dat daarmee na gevalle engele verwys word óf na bose geeste, maar dit maak vir my meer sin dat daarmee na die gestorwe ongehoorsame mense van Noag se tyd verwys word, soos baie geleerdes dit deur die eeue uitgespel het. Hulle ongehoorsaamheid word immers in Petrus – sowel as in Genesis 6, waarop Petrus se interpretasie berus – spesifiek aan die bou van die ark verbind. Dit maak dit meer natuurlik om die “geeste in die gevangenskap” met die geeste van die gestorwe mense van daardie tyd te verbind.

Dié interpretasie korreleer dan ook met dié van Hebreërs 12:23 waar van die geeste van gestorwe gelowiges as “die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is” gepraat word. ‘n Mens kan dus die “geeste van die regverdiges” in Hebreërs vergelyk met, maar ook onderskei van die “geeste in die gevangenskap” in Petrus.

Wat dié interpretasie verder ondersteun, is dat Petrus in die volgende hoofstuk nog ‘n keer sal verwys na die evangelie wat aan: “hulle wat reeds dood is” verkondig is (1 Pet. 4:6). Hy dink daar waarskynlik ook aan die geeste van gestorwe gelowiges – dié wat nie in hulle lewe die vervulling van die belofte van verlossing ontvang het waarna hulle uitgesien het nie (Hebr. 11:39-40) – aan wie die Here die evangelie, die goeie nuus, van verlossing gaan aankondig het, sodat hulle steeds die vreugde van verlossing kan beleef, dít waarna hulle uitgesien het, selfs al het hulle reeds die dood ervaar.

Die prentjie wat ons dus uit beide Hebreërs en Petrus hiervan kry, is dat albei hierdie groepe uit die ou bedeling – die “geeste van die regverdiges” en die “geeste in die gevangenskap” – die evangelie ná hulle dood gehoor het. Die een groep ontvang dit as ‘n boodskap van redding, dié ander nie, op grond van hulle verbintenis en geloof in God terwyl hulle nog gelewe het. Daar is dus nie sprake van ‘n tweede kans wat ná die dood gegee is nie, net ‘n bevestiging van wat rééds vóór hulle dood van hulle waar was in die vooruitsien van wat God in Christus sou doen, hoe verskuild dié boodskap ook al was (vgl. Hebreërs 11 vir ‘n verdere uitleg daarvan).

Dié boodskap van Christus se lyding vir ons sondes het aan die ander kant egter ook ‘n direkte impak op die geloofsgemeenskap vir wie Petrus skryf. Die doop getuig van hierdie verlossende werk van Christus, en is in ‘n sekere sin die voertuig waardeur ons gered word, soos die ark dit destyds vir Noag en sy mense was.

Daarom kan Petrus dit in sterk taal stel: die doop “red ook julle nou.” Só kragtig is die boodskap van die doop. Daarom, sê Petrus, kan ‘n mens letterlik jou doop as ‘n “gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete” gebruik, “op grond van die opstanding van Jesus Christus.” Soos gelowiges reg deur die eeue gedoen het.

Alles is immers aan Hom onderworpe – engele, magte en kragte. Op Hom kan ons dus nie net vertrou nie, maar ons hele lewe bou, óók in onregverdige lyding.

Boodskap en betekenis

Petrus verenig hier twee groot tradisies van die OT: God se seën en God se verlossing.

Aan die een kant spel Petrus die implikasies van God se seën uit: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.” Soos God ons geseën het, moet ons ander ook seën, selfs wanneer ons met dwase en onkundige mense te doene het, selfs waar ons ly onder die boosheid van mense en sisteme. Die lyding wat ons só ervaar is in die groter prentjie van die lewe van minder belang as ‘n mens dit opweeg teen die ewige heerlikheid van die seën wat vir ons as erfdeel hierna wag.

Aan die ander kant spel Petrus die implikasies van God se verlossing uit: “Die doop dien … as ‘n gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus.” Ons kan dus ook staatmaak op God se bevryding, soos Noag dit eenmaal ervaar het. God laat ons nooit alleen nie, en sal ons bevry, ook in hierdie lewe, en uiteraard volledig in die lewe wat kom.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar