Skip to main content

JOHANNES 6:56-69

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 6:56-69

56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. 58Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.”

59Dit het Hy in ‘n sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het.

TWYFEL ONDER JESUS SE DISSIPELS

60Baie van sy dissipels het, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” 61Maar Jesus, innerlik bewus daarvan dat sy dissipels hieroor mor, het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? 62Wat dan as julle die Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. 64Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. 65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.”

66Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie. 67Daarop het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” 68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. 69En ons glo en weet dat U die Heilige van God is.” 

70Jesus het hulle geantwoord: “Het Ek nie julle twaalf uitgekies nie? En tog is een van julle die Duiwel!” 71Hy het Judas, die seun van Simon Iskariot, bedoel, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was. (2020-vertaling)

Teks en konteks

6:56-59 Jesus gee hier ‘n duidelike heenwysing na die boodskap van die instelling van die nagmaal en sy dood aan die kruis.  Dié wat na Hom toe kom en intiem met Hom saamleef, sal vir altyd lewe. Dié wat vir hierdie intieme gemeenskap nee sê nie, sal die ewige lewe verpas.

Hy verduidelik verder dat dit die tipe gemeenskap is wat Hy met die Vader geniet. Hy lewe as gevolg van die Vader. So sal elkeen wat in Jesus glo– wat Hom eet – ook as gevolg van Hom lewe.

Die gevolge van hierdie helder getuienis was verreikend, want die Jode wou Hom hierna doodmaak. Hy was hierna al hoe meer beperk tot Galilea en kon nie meer sonder meer in Judea bedien nie (Joh 7:1).

6:60 Die Joodse leiers is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie. ’n Hele paar van sy dissipels het oor hierdie woorde gemor, omdat hulle aanstoot geneem het aan die implikasie van sy woorde. Hy was nie maar net ‘n mens nie. Hy was God self. Dit het onomwonde vir hulle gesê. En gemeenskap met Hom was gemeenskap met God die Vader. Sy gesag was dus ook absoluut, presies soos God se gesag. Wat Hy dus geleer het, was die lering wat van God self af gekom het.

6:61-63 Interessant dat Jesus reageer op hulle opstandigheid deur met hulle van nog dieper dinge te gesels. Die eerste is sy Hemelvaart wanneer Hy duidelik sê dat Hy weer sal teruggaan na waar Hy voorheen was. Die tweede is per implikasie die feit dat Hy die Heilige Gees op gelowiges gaan uitstort, soos Hy later op die fees in Jerusalem – waarheen Hy in die geheim gegaan het – nog helderder sal verkondig (Joh 7:37-39).

Jesus verbind baie spesifiek die woorde wat Hy vir hulle leer aan die invloed van die Gees. Dit is sy woorde wat lewe gee deur die werking van die Gees. Jesus se woorde, trouens die hele Skrif, is op die mees intiemste manier moontlik verbind aan die werk van die Gees. Die Gees kom in ons lewe aan die woord deur die Woord.

6:64-65 Die onvermydelike punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as God self dit nie vir jou duidelik maak nie. Daar is steeds sekere van hulle, selfs onder die dissipels, wat nie glo nie. Jesus het immers dit van die begin af geweet. Ook wie Hom sou verraai. Dit was nie vir Hom nuus nie. Hy weet hoe dit werk. Dat sommige nie in Hom sal glo nie, want hulle aanvaar nie die “trekkende hand” van die Vader nie. Dit is egter steeds tragies.

6:66-71 Die gevolg is dat ’n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat en nie meer die moeite gedoen het om saam met Hom rond te gaan nie. Die effek van die Joodse leiers se opstand was dat hulle nie meer kans gesien het vir Jesus nie.

Behalwe die twaalf. In ‘n roerende gesprek wil Jesus weet by hulle of hulle nie ook dalk wil weggaan nie. Petrus verwoord egter hulle lojaliteit en gemeenskap met Hom. Jesus het dan die woorde van die ewige lewe. Om van Hom af weg te gaan, is om vir die ewige dood te kies.

Let op hoe Petrus getuig van die geloof wat in hulle tot stand gekom het, waarmee Hy Jesus se boodskap bevestig. Hulle het tot die besef gekom dat Hy die Heilige is van God. Daarmee kontrasteer Petrus Jesus met die duisternis van die demoniese en sondige wêreld waarin onreinheid en onheiligheid floreer.

Daar is ‘n hele reeks van verskillende weergawes van Petrus se belydenis in hierdie vers. Sommige tekste lees in plaas van “die Heilige van God” ander belydenisse oor Jesus: “die Christus”, “die Christus, die Seun van God”, “die Christus, die Seun van die lewende God”, en “die Christus, die Heilige van God”. Die beste manuskripte lees egter “die Heilige van God”, terwyl die ander belydenisse natuurlik nie verkeerd is nie, soos dit op talle ander plekke in die evangelies bely word.

Jesus het positief daarop gereageer, maar ook ter wille van eerlikheid opgemerk dat Hy wel twaalf van hulle uitgekies het, maar tog sal een van hulle Hom verraai. Een van hulle is ‘n duiwel. Jesus het dus van die begin af geweet dat Judas Hom sou verraai en dit nie weggesteek nie.

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik dat hierdie gesprek met die skare en die Joodse leiers die hart is van die boodskap wat Jesus bring. Soos die Vader met Hom in gemeenskap lewe, só wil Hy met gelowiges in gemeenskap lewe. Elkeen wat daarvoor já sê, het die ewige lewe. Elkeen wat daarvoor nee sê, het nie die ewige lewe nie.

Dit sê vir ons twee goed. Die eerste is dat dit die punt is waarop daar skeiding kom tussen dié wat in opstand kom teen Hom en sy boodskap, en dié wat in Hom bly glo en daarom alles wat Hy sê, aanvaar en doen as komende van God die Vader.

Die tweede is dat Jesus ons uitnooi na die mees intieme gemeenskap wat daar in hierdie lewe beskikbaar is. Waar ons in Hom bly en Hy in ons. Waar ons deur God geleer word, en in Hom lewe. Daar is niks wat daarmee vergelyk kan word nie.

Dit is egter ook duidelik dat die lojaliteit aan Jesus sy tol begin eis op sy volgelinge. Veral met die Joodse leiers wat teen Hom draai en Hom wil doodmaak, begin talle ander Hom verlaat vir selfbehoud.

Dit is egter onmoontlik vir Petrus en almal wat soos Hy deur God geleer is. Waar jy een keer die woorde van die lewe ervaar het, en die verhouding met Jesus vir jou ‘n werklikheid geword het, kan jy nie anders as Hom te volg nie, selfs al kos dit jou eie dood.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…