JOHANNES 6:56-69

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 6:56-69

56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. 58Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.”

59Dit het Hy in ‘n sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het.

TWYFEL ONDER JESUS SE DISSIPELS

60Baie van sy dissipels het, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” 61Maar Jesus, innerlik bewus daarvan dat sy dissipels hieroor mor, het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? 62Wat dan as julle die Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. 64Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. 65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.”

66Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie. 67Daarop het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” 68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe. 69En ons glo en weet dat U die Heilige van God is.” 

70Jesus het hulle geantwoord: “Het Ek nie julle twaalf uitgekies nie? En tog is een van julle die Duiwel!” 71Hy het Judas, die seun van Simon Iskariot, bedoel, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was. (2020-vertaling)

Teks en konteks

6:56-59 Jesus gee hier ‘n duidelike heenwysing na die boodskap van die instelling van die nagmaal en sy dood aan die kruis.  Dié wat na Hom toe kom en intiem met Hom saamleef, sal vir altyd lewe. Dié wat vir hierdie intieme gemeenskap nee sê nie, sal die ewige lewe verpas.

Hy verduidelik verder dat dit die tipe gemeenskap is wat Hy met die Vader geniet. Hy lewe as gevolg van die Vader. So sal elkeen wat in Jesus glo– wat Hom eet – ook as gevolg van Hom lewe.

Die gevolge van hierdie helder getuienis was verreikend, want die Jode wou Hom hierna doodmaak. Hy was hierna al hoe meer beperk tot Galilea en kon nie meer sonder meer in Judea bedien nie (Joh 7:1).

6:60 Die Joodse leiers is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie. ’n Hele paar van sy dissipels het oor hierdie woorde gemor, omdat hulle aanstoot geneem het aan die implikasie van sy woorde. Hy was nie maar net ‘n mens nie. Hy was God self. Dit het onomwonde vir hulle gesê. En gemeenskap met Hom was gemeenskap met God die Vader. Sy gesag was dus ook absoluut, presies soos God se gesag. Wat Hy dus geleer het, was die lering wat van God self af gekom het.

6:61-63 Interessant dat Jesus reageer op hulle opstandigheid deur met hulle van nog dieper dinge te gesels. Die eerste is sy Hemelvaart wanneer Hy duidelik sê dat Hy weer sal teruggaan na waar Hy voorheen was. Die tweede is per implikasie die feit dat Hy die Heilige Gees op gelowiges gaan uitstort, soos Hy later op die fees in Jerusalem – waarheen Hy in die geheim gegaan het – nog helderder sal verkondig (Joh 7:37-39).

Jesus verbind baie spesifiek die woorde wat Hy vir hulle leer aan die invloed van die Gees. Dit is sy woorde wat lewe gee deur die werking van die Gees. Jesus se woorde, trouens die hele Skrif, is op die mees intiemste manier moontlik verbind aan die werk van die Gees. Die Gees kom in ons lewe aan die woord deur die Woord.

6:64-65 Die onvermydelike punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as God self dit nie vir jou duidelik maak nie. Daar is steeds sekere van hulle, selfs onder die dissipels, wat nie glo nie. Jesus het immers dit van die begin af geweet. Ook wie Hom sou verraai. Dit was nie vir Hom nuus nie. Hy weet hoe dit werk. Dat sommige nie in Hom sal glo nie, want hulle aanvaar nie die “trekkende hand” van die Vader nie. Dit is egter steeds tragies.

6:66-71 Die gevolg is dat ’n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat en nie meer die moeite gedoen het om saam met Hom rond te gaan nie. Die effek van die Joodse leiers se opstand was dat hulle nie meer kans gesien het vir Jesus nie.

Behalwe die twaalf. In ‘n roerende gesprek wil Jesus weet by hulle of hulle nie ook dalk wil weggaan nie. Petrus verwoord egter hulle lojaliteit en gemeenskap met Hom. Jesus het dan die woorde van die ewige lewe. Om van Hom af weg te gaan, is om vir die ewige dood te kies.

Let op hoe Petrus getuig van die geloof wat in hulle tot stand gekom het, waarmee Hy Jesus se boodskap bevestig. Hulle het tot die besef gekom dat Hy die Heilige is van God. Daarmee kontrasteer Petrus Jesus met die duisternis van die demoniese en sondige wêreld waarin onreinheid en onheiligheid floreer.

Daar is ‘n hele reeks van verskillende weergawes van Petrus se belydenis in hierdie vers. Sommige tekste lees in plaas van “die Heilige van God” ander belydenisse oor Jesus: “die Christus”, “die Christus, die Seun van God”, “die Christus, die Seun van die lewende God”, en “die Christus, die Heilige van God”. Die beste manuskripte lees egter “die Heilige van God”, terwyl die ander belydenisse natuurlik nie verkeerd is nie, soos dit op talle ander plekke in die evangelies bely word.

Jesus het positief daarop gereageer, maar ook ter wille van eerlikheid opgemerk dat Hy wel twaalf van hulle uitgekies het, maar tog sal een van hulle Hom verraai. Een van hulle is ‘n duiwel. Jesus het dus van die begin af geweet dat Judas Hom sou verraai en dit nie weggesteek nie.

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik dat hierdie gesprek met die skare en die Joodse leiers die hart is van die boodskap wat Jesus bring. Soos die Vader met Hom in gemeenskap lewe, só wil Hy met gelowiges in gemeenskap lewe. Elkeen wat daarvoor já sê, het die ewige lewe. Elkeen wat daarvoor nee sê, het nie die ewige lewe nie.

Dit sê vir ons twee goed. Die eerste is dat dit die punt is waarop daar skeiding kom tussen dié wat in opstand kom teen Hom en sy boodskap, en dié wat in Hom bly glo en daarom alles wat Hy sê, aanvaar en doen as komende van God die Vader.

Die tweede is dat Jesus ons uitnooi na die mees intieme gemeenskap wat daar in hierdie lewe beskikbaar is. Waar ons in Hom bly en Hy in ons. Waar ons deur God geleer word, en in Hom lewe. Daar is niks wat daarmee vergelyk kan word nie.

Dit is egter ook duidelik dat die lojaliteit aan Jesus sy tol begin eis op sy volgelinge. Veral met die Joodse leiers wat teen Hom draai en Hom wil doodmaak, begin talle ander Hom verlaat vir selfbehoud.

Dit is egter onmoontlik vir Petrus en almal wat soos Hy deur God geleer is. Waar jy een keer die woorde van die lewe ervaar het, en die verhouding met Jesus vir jou ‘n werklikheid geword het, kan jy nie anders as Hom te volg nie, selfs al kos dit jou eie dood.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: