Skip to main content

PSALM 22:26-32

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 22:26-32

Ons het verskeie kere al na Psalm 22 gekyk (en gaan nog een keer weer daarna kyk later in die jaar). Ons lees dit vandag weer en fokus op vers 26 tot 32 (Engels 25-31).

22:1 Vir die musiekleier . Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. ‘n Psalm. Van Dawid. 

2 My God, my God, 

waarom het U my verlaat?

Waarom is U ver daarvan 

om my te verlos, 

ver van die woorde 

wat ek uitskreeu? 

3 My God, ek roep bedags, 

maar U antwoord nie, 

ook snags, 

maar daar is geen rus vir my nie. 

4 U is tog die Heilige , 

U heers waar die lofliedere 

van Israel opklink. 

5 Op U het ons voorouers vertrou, 

hulle het vertrou 

en U het hulle bevry. 

6 Tot U het hulle om hulp geroep 

en hulle het ontvlug; 

op U het hulle vertrou 

en hulle het nie beskaamd gestaan nie. 

7 Maar ek is ‘n wurm en nie ‘n mens nie, 

bespot deur die mense, 

verag deur die volk. 

8 Almal wat my sien, 

dryf met my die spot; 

hulle gryns en skud die kop:

9 “Wend jou tot die Here !” en 

“Laat Hy hom bevry, 

laat Hy hom red 

as Hy hom goedgesind is!”

10 U is immers die Een wat my 

uit die baarmoeder gehaal het, 

my op die borste 

van my moeder laat vertrou het. 

11 Op U is ek aangewese

van die moederskoot af; 

van my geboorte af is U my God. 

12 Moenie ver van my bly nie, 

want die nood is naby; 

daar is immers niemand wat help nie! 

13 Baie bulle het my omsingel; 

die sterkes van Basan het my vasgekeer. 

14 Hulle het hulle monde 

teen my oopgesper 

soos ‘n leeu wat verskeur en brul. 

15 Soos water is ek uitgestort, 

my hele gebeente val uitmekaar; 

my hart het geword soos was, 

dit het in my liggaam gesmelt. 

16 My krag het uitgedroog 

soos ‘n potskerf, 

en my tong kleef 

aan my verhemelte;

in die stof van die dood laat U my lê. 

17 Inderdaad, honde het my omsingel. 

‘n Bende kwaaddoeners het my omring; 

hulle het my hande en my voete 

deurboor.

18 Ek kan al my bene tel. 

Hulle staar my aan met leedvermaak. 

19 Hulle verdeel my klere 

onder mekaar, 

en hulle loot oor my boklere.

20 U, Here, moet tog nie 

ver van my bly nie; 

my bron van krag, 

kom my gou te hulp. 

21 Red tog my lewe van die swaard, 

my enigste lewe uit die mag 

van die honde.

22 Red my uit die bek van die leeu,

en van die horings van buffels.

o U het my geantwoord. 

23 Ek wil u Naam verkondig 

aan my broers; 

in die byeenkoms wil ek U loof: 

24 “Julle wat vir die Here ontsag het, loof Hom!

Julle, die ganse nageslag 

van Jakob, vereer Hom! 

Vrees Hom, ganse nageslag van Israel! 

25 Want Hy het die lyding 

van die magtelose 

nie geminag of misken nie; 

Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; 

maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, 

het Hy gehoor.” 

26 U is die rede vir my lofprysing 

in ‘n groot byeenkoms; 

my geloftes sal ek nakom 

in die teenwoordigheid 

van dié wat vir Hom ontsag het. 

27 Die verdruktes kan dan eet 

en versadig word; 

wie Hom raadpleeg, 

kan die Here loof. 

Mag julle harte vir altyd leef! 

28 Almal tot aan die uithoeke 

van die aarde 

moet daaraan dink 

en hulle tot die Here bekeer. 

Al die familiegroepe van die nasies 

moet voor U in aanbidding buig; 

29 want aan die Here behoort die koningskap, 

en Hy heers oor die nasies. 

30 Ja, voor Hom sal almal 

wat oordadig leef, 

in aanbidding neerbuig; 

voor Hom sal alle sterflinge kniel, 

elkeen wat nie die lewe kan behou nie. 

31 ‘n Nageslag sal Hom dien; 

hulle sal van my Heer vertel 

aan die volgende geslag. 

32 Hulle sal kom en sy geregtigheid 

bekend maak aan mense 

wat nog gebore moet word: 

Hy het dit gedoen. (Die Bybel 2020-vertaling)

Teks en konteks

Onthou dat hierdie Psalm gaan oor die feit dat God die gebed van die hulpeloses nie verontagsaam nie.

  1. Dit is in die eerste plek ‘n Psalm van Dawid wat vir hom in sy lewe betekenis gehad het
  2. Dit is in die tweede plek ook ’n Psalm wat in die liturgie van die geloofsgemeenskap gebruik is (vers 23), spesifiek by die offermaaltyd (vers 26-27) waartydens ook na die armes omgesien is (vgl 1 Kor 11 waar dieselfde sentimente gegeld het vir die nagmaal, dat vir die armes omgegee is).
  3. Dit is in die derde plek ook ‘n Psalm waarin ons die lyding, kruisiging en opstanding van Jesus in hoor.
  4. En daarom in die vierde plek ook ‘n Psalm vir elkeen van ons.

Ná die klagin die eerste deel van die Psalm kom die wending met die belydenis dat die Here Dawid (en enigeen wat dié Psalm bid) se gebed verhoor het (vers 22b). Dawid se eerste reaksie was om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het (vers 23).

Dié oproep slaan gou oor in ‘n oproep tot die geloofsgemeenskap – die gedeelte waarop ons vandag fokus – om saam met hom die Here te loof (vers 24–27). Wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is. Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie; Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie.

En dan breek die universele boodskap hiervan deur, dat dié God regoor die wêreld geëer sal word, gerugsteun deur die getuienis van sy mense van geslag tot geslag. En in eskatologiese taal word uitgesien na dié dag wat selfs die rykes sal aansit by God se maaltyd, trouens alle mense, selfs al is hulle sterflik en verganklik (vers 28-32).

Dawid sluit in sy gebed in hierdie Psalm af met die belydenis dat die Here sy gebed verhoor het. Dawid se eerste reaksie is om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het, sodat hulle saam met hom die Here kan loof. Want, wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is. Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie. Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie. Hy sal ook vir jou red.

Boodskap en betekenis

Dink na oor jou ervaring van God se hulp in die verlede. Dink na oor die effek wat dit op ander gehad het met wie jy dit gedeel het. Of dink na oor die effek wat ander se getuienis van verlossing op jou gehad het.

Laat die werkswyse van God by jou insink totdat jy anders kan begin dink oor die moeilikhede waardeur jy gaan. God gebruik jou ervaring van verlossing uit moeilike tye om ander tot bekering te laat kom (vgl vers 28). Dit is hoekom God jou deur moeilike tyd neem, en uiteindelik verlos, sodat daardie boodskap mense tot inkeer kan bring.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar