PSALM 125

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 125

1‘n Pelgrimslied.

Hulle wat op die Here vertrou,

is soos die berg Sion

wat nie wankel nie,

wat vir altyd vasstaan.

2Jerusalem word omring deur berge;

die Here omring sy volk

van nou af tot in ewigheid.

3Ja, die goddelose septer

sal nie rus op wat aan

die regverdiges toegeken is nie,

sodat die regverdiges nie

hulle hande na onreg uitsteek nie.

4Here, doen goed aan die goeies,

aan dié wat opreg is in hulle harte.

5Maar dié wat afdraai op kronkelpaaie –

die Here sal hulle laat weggaan

saam met dié wat onreg pleeg.

Vrede oor Israel! (2020-vertaling)

Teks en konteks

Dié Psalm vertolk die vertroue van die pelgrims op die Here.  God is vir hulle net so onwankelbaar soos die Sionsberg waarop die tempel gebou is.  Trouens, soos hulle na die omringende berge om Jerusalem kyk – omtrent soos ‘n muur van berge wat almal hoër was as die berg in Jerusalem – weet hulle dat die Here sy volk net só sal beskerm, “van nou af tot in ewigheid.”

Elke keer as hulle by Jerusalem aankom en die bekende simbole van hulle geloof sien, word hulle dus in dié geloof in God bevestig.  God is net so onwankelbaar as die Sionsberg.  Hy is net so beskermend soos die muur van berge om Jerusalem.

Dit ontlok in hulle die belydenis dat God se onwrikbare beskerming sal keer dat die: “goddelose septer” – soos vers 3 letterlik vertaal kan word – die simbool van die gevaar van ‘n goddelose regering, nie vir altyd die regverdiges sal verguis, en hulle verlei word om self op ‘n onregverdige manier daarteen op te tree nie. 

Hiermee verwys die Psalmis na die goddelose heersers wat van tyd tot tyd oor hulle grondgebied die botoon gevoer het.  Dit kan selfs wees dat hy verwys na van hulle eie heersers wat die Here nie gedien het nie. 

Die Psalmis verlaat hom egter nie op die moontlikheid om die reg in eie hande te neem nie, maar op sy vertroue dat die Here nie sal toelaat dat goddeloses vir altyd sal oorheers nie.  Daarom is sy belydenis ook ‘n implisiete afwysing van enige poging van die regverdiges om hulle hande met onregverdige optrede vuil te maak.

Die enigste legitieme weerstand lê in die vertroue op God self.  Daarom bid hy drie gebede vir en oor die geloofsgemeenskap:

  1. Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte.” Dit is ‘n gebed wat ons ook in elke situasie waarin ons is, en waarin mense ná aan ons verkeer, kan bid.  Ons mag God vertrou dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat Hy liefhet (Rom. 8:28).
  2. Laat dié wat afdraai op kronkelpaaie, wat nie meer die reguit pad loop wat die Here in sy Woord uitspel nie (vgl. Ps. 119), begaan om hulle eie rigting in te slaan, “saam met dié wat onreg pleeg.”  Waar jy die reg in eie hande neem, word jy immers nes die onregverdiges.
  3. Vrede oor Israel!”  Dit is de belangrikste gebed wat ‘n mens eintlik vir enigiemand kan bid, want vrede sluit heelheid en oorvloed in, beide in terme van die lewe hier en nou sowel as die verhouding met God wat tot in ewigheid duur.

Boodskap en betekenis

Dit is dus drie gebede wat jy gerus vandag vir jouself en jou mense, sowel as vir ons land kan bid:

  1. Here, doen goed aan die goeies.
  2. Here, laat dié wat hulle eie rigting inslaan oor aan hulle verkeerde weë, in die hoop dat dit hulle suur sal bekom en tot inkeer sal bring.  Vgl. Rom. 1-4 waar die Here die afvallige mensdom aan hulle sondes “oorgee”, sodat hulle die vryspraak in Christus as die enigste hoop sal kan raaksien.
  3. Gee vrede vir u kinders.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: