Skip to main content

EFESIËRS 1:3-14

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

EFESIËRS 1:3-14

1 Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is, die gelowiges in Christus Jesus: 2 Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. 

Lof aan God

3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. 4 So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, 5 nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, 6 tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het. 7 In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, 8 wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig. 9 Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring, 11 In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, 12 sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan bestaan tot lof van sy heerlikheid. 13 In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. 14 Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye. Historici bereken dat daar ongeveer 250 000 mense gewoon het aan die begin van ons jaartelling. Die tempel van Artemis (vgl Hand 19), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was ook daar. Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Paulus begin sy brief aan hulle met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed. In dié gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (Ef 1:3-14). In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (Ef 1:15-23).

Paulus herinner hulle aan die rykdom wat daar in God is as Vader, Gees en Seun. Dit is hierdie tipe uitsprake wat die vroeë kerk oortuig het van die lering van die Triniteit. Maar let ook op dat Paulus nie probeer om die lering regtig te verduidelik nie. Hy erken dit net, maak die gemeente opgewonde daaroor en raai hulle aan om hierdie God te loof en te leer ken.

Kyk na die opeenvolgende werkwoorde in hierdie gedeelte. Dit help baie om Paulus se gedagtegang te volg en dieper in sy boodskap in te kom. Let op bv na die werkwoorde waarmee Paulus God se werk in ons beskryf in vers 4-6: uitgekies, voorbestem, begenadig.

God het ons met die hand uitgesoek; Hy het ons sy kinders gemaak; Daarom moet ons Hom prys. Dit beteken vir my dat ek nie sy arm hoef te draai om vir my lief te wees nie. Ek hoef Hom ook nie te probeer beïndruk met wat ek doen nie. Ek kan maar net rustig sy geselskap opsoek en met Hom in gemeenskap lewe. Jy kan dit met ander werkwoorde ook doen (en ook met ander Bybelgedeeltes).

Wat my veral tref is dat God ons gekies het om heilig en onberispelik in liefde voor Hom te wees (vers 4). Dit sê vir my drie dinge:

  • dat ek iets van God moet uitstraal vandag (heilig);
  • dat ek in alles sal streef daarna om reg te doen (onberispelik);
  • dat ek bewus van God sal lewe in alles wat ek doen (voor Hom).

Dit is hoe prakties die geestelike lewe is.

Laat my dink aan Miga 6:8 wat in soortgelyke taal sê dat al wat God van ons vra is om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam te lewe voor God.

Let ook op dat die uitverkiesing “in Hom”, dws in Christus, gebeur, soos vers 4 sê.

Die feit dat God dit voor die skepping van die wêreld besluit het, beteken dat God se besluit van die begin af vasstaan. Ons kan daarop reken dat dit vir ons ook waar is.

Die feit dat dit “in Christus” is, beteken dat alles aan ons binne die verhouding met Christus geskenk word. Dit is waarom dit so uiters belangrik is om in ‘n verhouding met Hom te lewe. Sonder dié verhouding loop ons die gevaar om God se gawes aan ons te mis.

Let ook op hoe Paulus in vers 12 tot 14 met die voornaamwoorde die eenheid beklemtoon wat in Christus gekom het.

Hy praat eers van die Jode met die gebruik van die voornaamwoord ons: “ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het”.

Dan praat hy van die gelowiges uit die heidense volkere met die gebruik van die voornaamwoord julle: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God”.

Dan praat hy van die Heilige Gees wat “julle as die eiendom van God beseël (het)” (die gelowiges uit die heidene) en op soortgelyke wyse van die Heilige Gees wat die “waarborg (is) dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het” (die gelowiges uit die Jode).

In taal wat ‘n mens nogal sterk herinner aan Petrus se woorde op Pinksterdag (Hand. 2:38-39) begrond Hy dus die eenheid tussen gelowiges uit die Jodedom en die heidendom in die geloof in Christus en in gawe van die Heilige Gees.

Daarmee spel Paulus die praktiese implikasies uit van die eenheid waarop God die Vader besluit het, om “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” (vers 10).

En let op dat die eenheid kosmies van aard is, en nie net kerklik nie.

Boodskap en betekenis

God het ons geseën met alles wat ons nodig het vir hierdie lewe. Die kern daarvan is dat ons God kan ken en met Hom in verhouding kan lewe. Hy het ons uitgekies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. Ons oë moet net al hoe meer daarvoor oopgaan. Dit is iets waarvoor ons self kan en moet bid. En dit is iets wat ons van God kan verwag – ook vandag.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.