Skip to main content

PSALM 133

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 133

1 ‘n Pelgrimslied . Van Dawid. 

Kyk hoe goed, hoe mooi is dit 

as broers ook saam woon.

2 Dit is soos kosbare olie op die kop 

wat afloop op die baard, 

die baard van Aäron, 

wat afloop oor die kraag van sy klere. 

3 Dit is asof die dou van Hermon 

afkom op die Sionsberge; 

want daar beveel die Here sy seën, 

lewe vir altyd. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Die ideaal van broers uit dieselfde uitgebreide familie wat eensgesind saamwoon op hulle gesamentlike erfporsie word hier gebruik as metafoor om die viering van die eenheid van die pelgrims van die verbondsgemeenskap in Jerusalem te beskryf: “Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon.

Waar hulle uit alle rigtings bymekaar kom in Jerusalem en saam die Here in die verskillende feestelike liturgieë dien, illustreer hulle die onlosmaaklike band wat hulle in die Here met mekaar deel.  Dit is die gom wat hulle dan ook weer saambind as hulle elkeen in sy eie rigting teruggaan na hulle eie stukkie van die grondgebied van Israel.

Dié eenheid is aan die een kant ‘n geestelike een wat beskryf word met die kosbare reukolie wat van die kop af in die baard van Aäron, die hoëpriester, tot op sy klere afloop.  Dit verwys na die bevele van die Here in dié verband wat Aäron en sy seuns in hulle diens aan die Here gesalf het  (Eks. 29:7; 30:23–25, 30; Lev. 8:12).  Dieselfde het natuurlik ook by die salwing van die konings gebeur wat hulle roeping geestelik bevestig het.

Oral waar gelowiges dit dus regkry om hulle eenheid te bevestig het dit ‘n geestelike impak, nie net vir hulleself nie, maar ook vir hulle geloofsgemeenskap.

Dié eenheid is aan die ander kant ook iets wat ‘n impak op die gewone lewe het, soos uitgedruk met die metafoor van die spreekwoordelike oorvloedige dou van die Hermonberg – ‘n berg in Sirië noord van Israel – wat ook op die berge by Sion sal val.

Dit beteken dat die seën van eenheid het ook ‘n impak op die wyer gemeenskap.  ‘n Mens kan selfs hieruit ekologiese en ekonomiese seën aflei.

Die punt is, waar mense dit regkry om eensgesind te leef met mekaar is daar ‘n ongelooflike seën, geestelik en andersins.  Trouens, dit is iets wat jou eintlik ‘n voorsmakie van die ewige lewe gee, die lewe wat God aan ons skenk.

Boodskap en betekenis

Dié Psalm gee dus ‘n ongelooflike beeldryke ondersteuning vir die NT ideaal van eensgesindheid soos Paulus bv. aan die Filippense skryf: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Fil. 2:1-4).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.