Skip to main content

PSALM 50:1-6

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 50:1-6

50:1 ‘n Psalm. Van Asaf. 

Die God van die gode, die Here, het gepraat 

en die aarde opgeroep – 

van waar die son opkom 

tot waar dit ondergaan. 

2 Vanuit Sion, plek van volmaakte 

skoonheid, laat God sy lig straal.

3 Ons God kom 

en Hy gaan nie stilbly nie; 

voor Hom brand ‘n verterende vuur, 

rondom Hom woed ‘n geweldige storm. 

4 Hy roep na die hemel daarbo, 

en na die aarde, 

om sy volk te oordeel: 

5 “Maak my getroue volgelinge 

vir my bymekaar, 

hulle wat by die offers 

my verbond hernu.” 

6 Die hemel maak 

sy geregtigheid bekend, 

want God, Hy is regter. Sela

Teks en konteks

Psalm 50 is die eerste van die Psalms van Asaf, een van die hoof sangleiers van ’n Levitiese  sangersgeslag in die dae van Dawid (1 Kron. 6:39).  Getrou aan die aard van ‘n sangleier van formaat, is dié Psalm in die vorm van ‘n liturgie, wat lofsang as ‘n sleutel deel van elke gelowige se geestelike lewe uitspel.  Trouens jy kan God nie reg vereer en dien as jy dit nie doen nie, sê Asaf. 

Lof bestaan vir Asaf ten diepste in die dankbare erkenning en verering van God se teenwoordigheid in alles (50:1-6).  Soos hy in die res van die Psalm gaan skryf, dit is eintlik net die gebrek aan hierdie lof wat God se toorn laat ontvlam (50:7), veral in reaksie op die goddelose gelowiges  wat nie met Hom rekening hou nie (50:22). God wil niks anders as lof van ons hê nie (50:14), wat gelowiges die voorreg gee om ook nog tot Hom in nood te kan roep (50:15).  Offers is nie vir Hom wesenlik nie, lof wel!

Komende van die amptelike liturg, wie se familie baat gevind het by die offers, is dit nogal ‘n mondvol!  Maar, eers iets meer oor Asaf:

Hierdie liturgie is waarskynlik by ‘n verbondshernuwingsfees gebruik waar nie net met die hernuwing van hulle belydenis dat Jahwe alleen God is, gewerk is nie, maar ook die gevare van oppervlakkige besig wees met God uitgespel is.  God soek onverdeelde trou uitgedruk in lofsang en ‘n lewe wat Hom in alles vereer.

Die gedeelte wat ons gelees het, is ‘n Oproep tot die belydenis dat Jahwe alleen God is.  In vers 1 word drie name vir God gebruik.  Daar staan letterlik, “El Elôhîm Jahwe” wat vertaal kan word as “El, God Jahwe” waarin El ook as ‘n soort persoonsnaam vir God gebruik word, of wat vir my meer sin maak, soos in die 2020-vertaling: “God van die gode, Jahwe”.  Let op hoe hierdie belydenis na vore geroep word beide op grond van die Skeppingstradisie van God wat hemel en aarde kan oproep (50:1,4,6), sowel as op grond van die Tempeltradisie vanwaar God sy teenwoordigheid laat ken op die aarde (50:2-3).  Elkeen wat die verbond met Hom gesluit het, het daarmee die verpligting om aan Hom getrou te lewe.

Boodskap en betekenis

Let op dat hierdie liturgiese besig wees met God in lofsang nie opsioneel is nie. Ek dink baie mense kom na ‘n erediens om na ‘n preek te luister. En natuurlik is dit van veel waarde.  Maar ‘n erediens is baie meer as ‘n preekdiens. Dit is ‘n liturgiese besig wees met God wat HY voorskryf. Hy eis van ons lofsang, Hy luister na ons verering, ons erkenning van Hom in alles, en lofsang beweeg Hom om op nog meer maniere vir ons te sorg, veral wanneer ons Hom dan aanroep in die dag van benoudheid.  Lof is ‘n sleutel deel van jou geestelike lewe.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…