2 KORINTIËRS 8:7-15

LEES
Raak stil voor die Here in gebed.
Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.
2 KORINTIËRS 8:7-15
Ek plaas die hele hoofstuk ter wille van konteks. Jy kan eintlik hoofstuk 9 ook bylees, omdat dit ‘n eenheid met hoofstuk 8 vorm.
Insameling vir die armes in Jerusalem en Judea
1 Ons laat julle ook weet, broers, van die genade van God wat aan die gemeentes in Macedonië gegee is: 2 dat hulle, te midde van swaar beproewing as gevolg van verdrukking, hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede laat oorvloei het in ‘n rykdom aan vrygewigheid van hulle kant af. 3 Ek getuig dat hulle na vermoë, ja, selfs bo vermoë, bereidwillig was. 4 Hulle het pleitend by ons aangedring om deel te kan hê aan die genadewerk van hulpverlening aan die heiliges. 5 Dit was nie slegs soos ons gehoop het nie; trouens, hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe, deur die wil van God, ook aan ons. 6 Gevolglik het ons Titus sterk aangemoedig om, soos wat hy hierdie genadewerk reeds begin het, dit ook net so by julle te voltooi.
7 Soos julle nou van alles oorvloed het, geloof en welsprekendheid en kennis en alle ywer en die liefde, wat deur ons toedoen onder julle is, sorg dat julle ook in hierdie genadewerk oorvloedig is. 8 Ek sê dit nie as ‘n opdrag nie, maar om aan die hand van ander se ywer die egtheid van julle liefde te toets. 9 Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: dat Hy wat ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word. 10 En ek gee my mening hieroor, want dit strek tot julle voordeel – julle wat reeds ‘n jaar gelede begin het om dit nie net te doen nie, maar dit ook te wil doen. 11 Voltooi dan nou ook die taak, sodat, net soos julle bereidwillig was om dit te wil doen, julle ook bereidwillig sal wees om dit te voltooi uit wat julle het. 12 Want as daar bereidwilligheid is, is dit aanneemlik volgens wat ‘n mens het – nie volgens wat jy nie het nie. 13 Dit beteken nie dat ander verligting kry en julle swaarkry nie, maar wel dat daar ewewig sal wees. 14 Julle huidige oorvloed vul hulle tekort aan, sodat hulle oorvloed weer julle tekort kan aanvul, en daar so ewewig kan wees. 15 Soos daar geskryf staan:
“Die een met baie, het nie te veel gehad nie, en die een met net ‘n bietjie, nie te min nie.” (vgl Eks 16:18 oor die manna)
Titus en sy medewerkers
16 En aan God die dank, wat dieselfde ywer in julle belang in die hart van Titus gegee het. 17 Want hy het wel ons versoek ontvang, maar het ook baie ywerig en vrywillig na julle toe vertrek. 18 En saam met hom het ons die broer gestuur wie se lof in al die gemeentes besing word oor sy werk vir die evangelie. 19 En nie net dit nie: hy is ook deur die gemeentes aangewys as ons reisgenoot in hierdie genadewerk, wat deur ons verrig word tot verheerliking van die Here en as bewys van ons bereidwilligheid. 20 So wil ons voorkom dat iemand ons verdink oor hierdie ruim som wat ons behartig. 21 Want ons is bedag op wat reg is, nie net voor die Here nie, maar ook voor mense. 22 Saam met hulle stuur ons ons broer, vir wie ons dikwels en in vele opsigte getoets, en ywerig bevind het, en wat nou nog yweriger is, deur sy groot vertroue in julle. 23 Wat Titus betref, hy is my deelgenoot en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is gesante van die gemeentes, ‘n eer vir Christus. 24 Lewer dan aan hulle voor die gemeentes die bewys van julle liefde en van ons trots op julle. (2020-vertaling).
Teks en konteks
Dit is ongelooflik om te sien op hoeveel wyses Paulus die gemeente van Korinte aanmoedig om vrygewig teenoor die gelowiges in Judea te wees met ‘n mildelike dankoffer. Hy motiveer hulle op ten minste die volgende 13 wyses in hoofstuk 8-9:
- Met die voorbeeld van die vrywillige vrygewigheid van die arm gemeentes in Masedonië (Filippi, Berea, Tessalonika), die noordelike provinsie van Griekeland (2 Kor 8:1-5); Dit is ‘n teken van God se genade in hulle lewens!
- Met die feit dat die Korintiërs eintlik ‘n oorvloed in alles het wat hulle kan motiveer om vrygewig te wees (2 Kor 8:7);
- Met die voorbeeld van Christus wat arm geword het dat hulle ryk kon wees (2 Kor 8:9);
- Met die herinnering aan hulle vroeëre gawe en die feit dat hulle die eerste was wat gewillig was om iets te doen (2 Kor 8:10);
- Met die perspektief dat só ‘n gawe ewewig bring in die Christelike gemeenskap wat ook in die toekoms tot hulle eie voordeel kan wees (2 Kor 8:13-15); Let op hoe hy in vers 15 aanhaal uit Eks 16:18 waar die Israeliete manna uit die hemel ontvang het en kon optel vir hulle behoeftes!
- Met die belofte dat die geld korrek hanteer sal word en by die regte plek sal uitkom: “ons is daarop gesteld om reg op te tree” (2 Kor 8:21)!
- Met die herinnering dat hulle voorbeeld eintlik die ander gemeentes aangespoor het om betrokke te raak. Paulus het met hulle gespog by die ander gemeentes deur te sê: “Agaje is al ‘n jaar reg om te help” (2 Kor 9:2); Let op dat in hoofstuk 8 hy die Korintiërs aanmoedig met die voorbeeld van die Masedoniërs. In hoofstuk 9 herinner hy weer die Korintiërs (Agaje) daaraan dat hy hulle voorbeeld gebruik het om die Masedoniërs aan te moedig! Ek reken hy kry eintlik so ‘n Noord-Suid wedywering in mildadigheid hier aan die gang (Masedonië vs Agaje), iets wat ons in die rugbywêreld in Suid-Afrika goed sou verstaan!
- Met die waarskuwing dat hulle baie skaam sal word as hulle nie gereed is as die broers kom om die dankoffer in te samel nie (2 Kor 9:4);
- Met die aansporing dat dié wat karig saai, karig sal maai, waarmee hy hulle eintlik wys op die geestelike vrug van hulle dankbaarheid (2 Kor 9:6);
- Met die herinnering dat God in staat is om hulle oorvloedig te seën om ook verder te kan bydra vir elke goeie werk (2 Kor 9:8,10-11), wat ook die fisiese vrug van hulle milddadigheid uitspel.
- Met ‘n herinnering aan die boodskap van Psalm 112:9 dat sulke dankoffers ‘n teken van regverdigheid is: “(Die regverdige) deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” (2 Kor 9:9) Lees ook die konteks van Psalm 112 dat dié aksie van regverdiges goddeloses op hulle tande laat kners omdat dit die aansien van regverdiges verhoog! En onthou, daar word nie van die Here hier in die eerste plek gepraat nie, maar van sy regverdiges.
- Met die perspektief dat hierdie gawe tot groot dankbaarheid en eer aan God sal aanleiding gee (2 Kor 9:11-13);
- Met die interessante laaste motivering dat dié mense ook vir hulle sal bid en na hulle sal verlang (2 Kor 9:14)! Hoe meer ons tot ‘n seën vir ander mense is, hoe meer seën sal ons self ontvang – wat ‘n bonus!
Die ding wat vir my uitstaan is die klem op regverdigheid en dankbaarheid wat eintlik regdeur die twee temas is wat die gawe beskryf.
- Vrygewigheid is ‘n teken van “die regverdige” (Ps 112), bring ewewig in die gemeenskap van gelowiges, wat maar net ‘n ander manier is om regverdigheid te beskryf, en laat God regverdig optree teenoor almal. Om die waarheid te sê, daardeur skenk en skep Hy letterlik oorvloed!
- Net so kom die gawes voort uit dankbaarheid, kan letterlik as ‘n dankoffer beskryf word, en lei daartoe dat God gedank word.
Vrygewigheid word dus in die genadige en regverdige karakter van God begrond (2 Kor 8:1,9) sowel as in sy voorsiening (2 Kor 8:1,7; 9:8,10-11,15). En dit word as die normale Christelike praktyk voorgehou, soos dit reeds sigbaar was in die eerste gemeente in Jerusalem (Hand 4:32).
Boodskap en betekenis
Baie mense vra dikwels hoeveel ‘n mens moet gee. Benewens die riglyn van die tiende wat eintlik regdeur die Bybel ‘n beginsel bly (hoewel die klem sterk skuif van ‘n wetlike voorskrif na een wat vrywillig gegee word) gee Paulus hier die volgende riglyne wat jou kan begelei:
- ’n Mens moet jou beloftes gestand doen (2 Kor 8:10; 9:3);
- jy moet gee soveel as wat jy kan (2 Kor 8:12, 9:6);
- jy moet sélf, uit jou hart uit, besluit hoeveel (2 Kor 9:7); en
- dít wat jy gee, moet in verhouding wees met dit wat God vir jóú gegee het (2 Kor 9:10).
Die grootte van jou dankoffer berus dus op die genade en voorsiening van God, wat aan ons gee sodat ons weer vir ander mense kan gee.
Interessant, die broers wat saam met Titus gestuur word, hoewel ons nie hulle name ken nie, word in die oorspronklike Grieks “apostels” genoem (2 Kor 8:23). Dit beteken hier egter moontlik meer dat hulle afgevaardigdes van die gemeente is, as dat hulle gestuurdes van God is, wat dan met die woord apostels weergegee sou kon word.
Hier sien ‘n mens ‘n verdere voorbeeld (vgl Hand 15) van die gebruik van die vroeë kerk om gevolmagtigde afgevaardigdes na ‘n ander gemeente of ‘n meerdere vergadering van die kerk te stuur vir die uitvoering van ‘n sekere opdrag – iets wat ons vandag gereeld doen in terme van die kontak met ander gemeentes, sowel as in verhouding met die ring en sinode in my eie kerklike konteks.
LUISTER
Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.
LEEF
Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.
View all posts in this series
- LEESROOSTER 2021 - Jan 18, 2021
- MARKUS 1:21-28 - Jan 25, 2021
- DEUTERONOMIUM 18:9-22 - Jan 26, 2021
- PSALM 11 - Jan 27, 2021
- 1 KORINTIËRS 8:1-13 - Jan 28, 2021
- MARKUS 1:29-39 - Feb 1, 2021
- JESAJA 40:12-31 - Feb 2, 2021
- PSALM 147:1-20 - Feb 3, 2021
- 1 KORINTIËRS 9:16-23 - Feb 4, 2021
- 2 KORINTIËRS 4:3-6 - Feb 8, 2021
- 2 KONINGS 2:1-12 - Feb 9, 2021
- PSALM 50:1-6 - Feb 10, 2021
- MARKUS 9:2-8 - Feb 11, 2021
- GENESIS 9:8-17 - Feb 15, 2021
- PSALM 25:1-10 - Feb 16, 2021
- 1 PETRUS 3:18-22 - Feb 17, 2021
- MARKUS 1:9-15 - Feb 18, 2021
- GENESIS 17:1-16 - Feb 22, 2021
- PSALM 22:23-32 - Feb 23, 2021
- Leesrooster bydraes op Whatsapp is terug!
- ROMEINE 4:13-25 - Feb 24, 2021
- MARKUS 8:31-9:1 - Feb 25, 2021
- 1 KORINTIËRS 1:18-25 - Mar 1, 2021
- EKSODUS 20:1-17 - Mar 2, 2021
- PSALM 19 - Mar 3, 2021
- JOHANNES 2:13-22 - Mar 4, 2021
- EFESIËRS 2:1-10 - Mar 8, 2021
- NUMERI 21:4-9 - Mar 9, 2021
- PSALM 107:1-3, 17-22 - Mar 10, 2021
- JOHANNES 3:14-21 - Mar 11, 2021
- HEBREËRS 5:5-10 - Mar 15, 2021
- JEREMIA 31:31-34 - Mar 16, 2021
- PSALM 51:1-11 - Mar 17, 2021
- JOHANNES 12:20-33 - Mar 18, 2021
- FILIPPENSE 2:5-11 - Mar 22, 2021
- JESAJA 50:4-11 - Mar 23, 2021
- PSALM 31:8-14 - Mar 24, 2021
- MARKUS 14:1-15:47 - Mar 25, 2021
- PSALM 22 - Mar 29, 2021
- JESAJA 52:13-53:12 - Mar 30, 2021
- HEBREËRS 10:16-25 - Mar 31, 2021
- JOHANNES 18:1-19:42 - Apr 1, 2021
- HANDELINGE 4:32-35 - Apr 5, 2021
- PSALM 133 - Apr 6, 2021
- 1 JOHANNES 1:1-2:2 - Apr 7, 2021
- JOHANNES 20:19-31 - Apr 8, 2021
- LUKAS 24:36b-48 - Apr 12, 2021
- HANDELINGE 3:12-19 - Apr 13, 2021
- PSALM 4 - Apr 14, 2021
- 1 JOHANNES 3:1-7 - Apr 15, 2021
- JOHANNES 10:11-18 - Apr 19, 2021
- HANDELINGE 4:5-12 - Apr 20, 2021
- PSALM 23 - Apr 21, 2021
- 1 JOHANNES 3:16-24 - Apr 22, 2021
- HANDELINGE 8:26-40 - Apr 26, 2021
- PSALM 22:26-32 - Apr 27, 2021
- 1 JOHANNES 4:7-21 - Apr 28, 2021
- JOHANNES 15:1-8 - Apr 29, 2021
- HANDELINGE 10:44-48 - May 3, 2021
- PSALM 98 - May 4, 2021
- 1 JOHANNES 5:1-6 - May 5, 2021
- JOHANNES 15:9-17 - May 6, 2021
- JOHANNES 17:6-19 - May 10, 2021
- HANDELINGE 1:15-17, 21-26 - May 11, 2021
- PSALM 1 - May 12, 2021
- 1 JOHANNES 5:9-13 - May 13, 2021
- ESEGIËL 37:1-14 - May 17, 2021
- PSALM 104:24-34, 35b - May 18, 2021
- HANDELINGE 2:1-21 - May 19, 2021
- JOHANNES 15:26-27, 16:4b-15 - May 20, 2021
- JOHANNES 3:1-17 - May 24, 2021
- JESAJA 6:1-8 - May 25, 2021
- PSALM 29 - May 26, 2021
- ROMEINE 8:12-17 - May 27, 2021
- 1 SAMUEL 8:4-11, (12-15) 16-20 (11:14-15) - May 31, 2021
- PSALM 138 - Jun 1, 2021
- 2 KORINTIËRS 4:13-5:1 - Jun 2, 2021
- MARKUS 3:20-35 - Jun 3, 2021
- 1 SAMUEL 15:34-16:13 - Jun 7, 2021
- PSALM 20 - Jun 8, 2021
- 2 KORINTIËRS 5:6-10 (11-13), 14-17 - Jun 9, 2021
- MARKUS 4:26-34 - Jun 10, 2021
- 1 SAMUEL 17:(1a, 4-11, 19-23) 32-49 - Jun 14, 2021
- PSALM 9:8-21 - Jun 15, 2021
- 2 KORINTIËRS 6:1-13 - Jun 16, 2021
- MARKUS 5:21-43 - Jun 21, 2021
- 2 SAMUEL 1:1, 17-27 - Jun 22, 2021
- PSALM 130 - Jun 23, 2021
- 2 KORINTIËRS 8:7-15 - Jun 24, 2021
- MARKUS 6:1-13 - Jun 28, 2021
- 2 SAMUEL 5:1-5, 9-10 - Jun 29, 2021
- PSALM 48 - Jun 30, 2021
- 2 KORINTIËRS 12:2-10 - Jul 1, 2021
- EFESIËRS 1:3-14 - Jul 5, 2021
- 2 SAMUEL 6:1-5, 12b-19 - Jul 6, 2021
- PSALM 24 - Jul 7, 2021
- MARKUS 6:14-29 - Jul 8, 2021
- EFESIËRS 2:11-22 - Jul 12, 2021
- 2 SAMUEL 7:1-14a - Jul 13, 2021
- PSALM 89:20-38 - Jul 14, 2021
- MARKUS 6:30-34, 53-56 - Jul 15, 2021
- EFESIËRS 3:14-21 - Jul 19, 2021
- 2 SAMUEL 11:1-15 - Jul 20, 2021
- PSALM 14 - Jul 21, 2021
- JOHANNES 6:1-21 - Jul 22, 2021
- EFESIËRS 4:1-16 - Jul 26, 2021
- 2 SAMUEL 11:26-12:13a - Jul 27, 2021
- PSALM 51:1-12 - Jul 28, 2021
- JOHANNES 6:24-35 - Jul 29, 2021
- EFESIËRS 4:25-5:2 - Aug 2, 2021
- 2 SAMUEL 18:5-9, 15, 31-33 - Aug 3, 2021
- PSALM 130 - Aug 4, 2021
- JOHANNES 6:35, 41-51 - Aug 5, 2021
- EFESIËRS 5:15-20 - Aug 9, 2021
- 1 KONINGS 2:10-12, 3:3-14 - Aug 10, 2021
- PSALM 111 - Aug 11, 2021
- JOHANNES 6:51-58 - Aug 12, 2021
- EFESIËRS 6:10-20 - Aug 16, 2021
- 1 KONINGS 8:(1, 6, 10-11) 22-30, 41-43 - Aug 17, 2021
- PSALM 84 - Aug 18, 2021
- JOHANNES 6:56-69 - Aug 19, 2021
- HOOGLIED 2:8-13 - Aug 23, 2021
- PSALM 45:1-2, 6-9 - Aug 24, 2021
- JAKOBUS 1:17-27 - Aug 25, 2021
- MARKUS 7:1-8, 14-15, 21-23 - Aug 26, 2021
- SPREUKE 22:1-2, 8-9, 22-23 - Aug 30, 2021
- PSALM 125 - Aug 31, 2021
- JAKOBUS 2:1-10, (11-13) 14-17 - Sep 1, 2021
- MARKUS 7:24-37 - Sep 2, 2021
- JAKOBUS 3:1-12 - Sep 6, 2021
- SPREUKE 1:20-33 - Sep 7, 2021
- PSALM 19 - Sep 8, 2021
- MARKUS 8:27-38 - Sep 9, 2021
- JAKOBUS 3:13-4:3, 7-8a - Sep 13, 2021
- SPREUKE 31:10-31 - Sep 14, 2021
- PSALM 1 - Sep 15, 2021
- MARKUS 9:30-37 - Sep 16, 2021
- JAKOBUS 5:13-20 - Sep 20, 2021
- ESTER 7:1-6, 9-10; 9:20-22 - Sep 21, 2021
- PSALM 124 - Sep 22, 2021
- MARKUS 9:38-50 - Sep 23, 2021
- MARKUS 10:2-16 - Sep 27, 2021
- JOB 1:1; 2:1-10 - Sep 28, 2021
- PSALM 26 - Sep 29, 2021
- HEBREËRS 1:1-4; 2:5-12 - Sep 30, 2021
- MARKUS 10:17-31 - Oct 4, 2021
- JOB 23:1-9, 16-17 - Oct 5, 2021
- PSALM 22:1-15 - Oct 6, 2021
- HEBREËRS 4:12-16 - Oct 7, 2021
- JOB 38:1-7 (34-41) - Oct 12, 2021
- PSALM 104:1-9, 24, 35c - Oct 13, 2021
- HEBREËRS 5:1-10 - Oct 14, 2021
- PSALM 34:1-8 (19-22) - Oct 18, 2021
- JOB 42:1-6, 10-17 - Oct 19, 2021
- HEBREËRS 7:23-28 - Oct 20, 2021
- MARKUS 10:46-52 - Oct 21, 2021
- RUT 1:1-18 - Oct 25, 2021
- PSALM 146 - Oct 26, 2021
- HEBREËRS 9:11-14 - Oct 27, 2021
- MARKUS 12:28-34 - Oct 28, 2021
- RUT 3:1-5; 4:13-17 - Nov 1, 2021
- PSALM 127 - Nov 2, 2021
- HEBREËRS 9:24-28 - Nov 3, 2021
- MARKUS 12:38-44 - Nov 4, 2021
- 1 SAMUEL 1:4-20 - Nov 8, 2021
- 1 SAMUEL 2:1-10 - Nov 9, 2021
- HEBREËRS 10:11-14 (15-18), 19-25 - Nov 10, 2021
- MARKUS 13:1-8 - Nov 11, 2021
- 2 SAMUEL 23:1-7 - Nov 15, 2021
- PSALM 132:1-12 (13-18) - Nov 16, 2021
- OPENBARING 1:4b-8 - Nov 17, 2021
- JOHANNES 18:33-37 - Nov 18, 2021