Skip to main content

OPENBARING 1:4b-8

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

OPENBARING 1:4b-8

PROLOOG

11Hier volg ‘n openbaring deur Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur. Hy het dit aan sy dienskneg Johannes duidelik gemaak deur sy engel wat Hy gestuur het. 2Dit is hy wat getuig van die woord van God, en die getuienis deur Jesus Christus – alles wat hy gesien het.

3Gelukkig is die een wat dit voorlees, en ook hulle wat die woorde van dié profesie hoor, en vashou aan dit wat daarin geskryf staan, want die bestemde tyd is naby.

GROETE EN LOFPRYSING

4Johannes,

aan die sewe gemeentes in Asië:

Genade vir julle en vrede van Hom

wat is en wat was en wat kom,

en van die sewe Geeste

wat voor sy troon is;

5en van Jesus Christus,

die betroubare getuie,

die Eersgeborene uit die dood

en die heerser oor die konings van die aarde.

Aan Hom wat ons liefhet,

en ons deur sy bloed

van ons sondes verlos het,

6wat ons ‘n koninkryk gemaak het,

priesters vir God, sy Vader –

aan Hom kom die heerlikheid

en die sterkte toe,

vir ewig en ewig. Amen.

7Kyk, Hy kom met die wolke,

en elke oog sal Hom sien,

selfs hulle wat Hom deurboor het;

en al die volke op die aarde

sal oor Hom rou.

Ja, amen!

8“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige. (2020-vertaling)

Teks en konteks

’n Openbaring deur Jesus Christus – Openbaring 1:1-3

In die volksmond praat ons baie keer van die Openbaring van Johannes. Dit is eintlik verkeerd. Die boek is duidelik ‘n openbaring van Jesus Christus wat deur God aan Hom gegee is. Jesus tree aan die eenkant nie op sy eie op nie. God die Vader stuur Hom met ’n baie spesifieke opdrag. Aan die ander kant tree Jesus met volle gesag op om aan die gelowiges te toon wat binnekort moet gebeur, soos die Vader Hom gewys het. Daarvoor gebruik Jesus ‘n engel.

Wat die engel vir Johannes gewys het, raak nou die “woord van God” aan die gelowiges. Dít is die laaste woorde van Jesus aan sy mense in verband met die eindtyd wat naby is. Maar belangrik: dié woord van God is nie die getuienis oor Jesus Christus nie, maar “die getuienis deur Jesus Christus”. Jesus word as die uitvoerder van God se opdrag aangedui en die Een wat deur die getuienis van Johannes aan die woord kom. Kragtig! In die lees van dié boek het ons dus met die selfgetuienis van Jesus Christus te make. Hy praat met ons deur die boek.

Daarom sê Johannes dat God almal wat dié profesie van die boek (voor)lees – d.w.s. die leraars of bedienaars van die Woord wat dit voorlees – geseënd verklaar, sowel as dié wat daarna luister, en belangrik, dit wat daarin geskrywe staan, nakom. Die dringendheid hiervan het met die tydsgewrig te make waarin hulle lewe. Die openbaring gaan oor wat binnekort moet gebeur. Die tyd is naby.

Johannes se boodskap – Openbaring 1:4-5a

Die aanhef van die brief volg nou waarin Johannes die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Wes-Turkye) aanspreek en groet met die Drie-enige genade (Griekse seënbede) en vrede (Hebreeuse sjalôm) van

  • die Vader wat is en wat was en wat kom – ’n beskrywing van die dinamiese karakter van God;
  • die sewe Geeste voor sy troon – ‘n beskrywing van die Heilige Gees in sy omvattende teenwoordigheid en werk (vgl. ook Openb. 3:1; 4:5; 5:6 asook Sag. 4:6) – en 3)
  • Jesus Christus.

Jesus word as die geloofwaardige of betroubare getuie geteken – d.w.s. sy getuienis kan geglo word – die Een wat nie net as Eersgeborene uit die dode opgestaan het nie, maar ook reeds die heerser oor die konings van die aarde is. Ons hoor hierin die getuienis van Psalm 2 weerklink, dat God se Gesalfde Koning is en dat almal vir Hom ontsag moet hê. Let ook op hoe dit as ’n teenswoordige realiteit beskryf word, nie iets wat eers met die Wederkoms aanbreek nie.

Lofprysing aan die Verlosser – Openbaring 1:5b-8

Aan dié betroubare getuie kom waarlik die heerlikheid en sterkte toe vir ewig en ewig, soos Johannes in ’n lofprysing dit doen. Dit is Hy wat ons nie net liefhet en verlos het nie, maar ons ’n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader (vgl. ook 1 Pet. 2:9). Daarmee word nie net Jesus se werk as Verlosser verheerlik nie, maar word ook ons taak en opdrag as ’n koninkryk van priesters vir God, sy Vader, uitgespel, om met Hom in kontak te lewe voor die mense en Hom publiek te dien.

In ’n verdere lofprysing word nie net Jesus se eerste koms in herinnering geroep nie, maar ook sy tweede koms, ’n koms met die wolke, waarin die Hemelvaart van Handelinge 1 in herinnering geroep word, maar ook die wederkoms vooruitgesien word, een van die sleuteltemas van die boek Openbaring. Almal sal Hom dan sien, selfs ook dié wat Hom verwerp het en aan die kruis deurboor het (vgl. Joh. 19:37). Al die volke op aarde sal oor Hom treur, waarskynlik van berou.

Hierdie Verlosser, verklaar die Here God, die Almagtige, is die Alfa en die Omega – die eerste en die laaste letter van die Griekse alfabet – die Een wat is en wat was en wat kom, waarmee dieselfde beskrywing van God die Vader (vgl. 1:4b) op Jesus van toepassing gemaak word.

Boodskap en betekenis

Jesus word dus as die handelende instrument van God geteken, een wat die reg verdien het om op te tree en wat dit met gesag en effektiwiteit doen. Hierdie visie se doel was om Johannes gerus te stel dat Jesus die dood oorwin het – trouens dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk (Hades of onderwêreld) besit en vir ewig en ewig lewe – en nou aan almal kan bekend maak wat reeds gebeur het, nou aan die gang is en hierna gaan gebeur – verlede, hede en toekoms.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.