Skip to main content

JESAJA 52:13-53:12

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JESAJA 52:13-53:12

52:13 “Kyk, my dienskneg 

sal suksesvol wees, 

hy sal uitstyg, uittroon, 

en baie verhewe wees. 

14 Soos baie ontsteld was oor hom

– so onmenslik misvormd 

was sy voorkoms, 

sy gestalte nie meer 

dié van ‘n mens nie – 

15 net so sal hy baie nasies verbyster; 

konings sal oor hom swyg. 

Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien; 

en wie nie gehoor het nie, begryp.” 

53:1 Wie het geglo wat ons gehoor het?

En die arm van die Here,

aan wie is dit geopenbaar? 

2 Hy het soos ‘n jong loot 

voor Hom opgegroei, 

soos ‘n wortelstok uit droë grond.

Hy het nie ‘n gestalte gehad, 

geen glans, 

dat ons na hom sou kyk nie, 

nie ‘n goeie voorkoms, 

dat ons hom sou begeer nie.

3 Hy is verag, deur mense verlaat,

‘n mens van smarte, 

bekend met siekte, 

soos iemand vir wie ‘n mens 

jou gesig verberg. 

Hy is verag, 

en ons het hom nie geag nie.

4 Nogtans, ons siektes, 

hy het dit gedra, 

en ons smarte, 

hy het dit op hom gelaai.

Maar ons het hom beskou 

as iemand wat gekasty word, 

geslaan deur God, en verneder. 

5 Hy is egter deurboor 

oor ons oortredings, 

verbrysel oor ons sondeskuld. 

Die straf wat ons vrede bewerk, 

was op hom, 

en deur sy wonde is daar 

vir ons genesing. 

6 Ons almal het soos kleinvee gedwaal, 

elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; 

maar die Here het ons almal 

se sondeskuld op hom laat neerkom. 

7 Hy is mishandel, 

maar hy het hom daaraan onderwerp 

en nie sy mond oopgemaak nie – 

soos ‘n skaap wat ter slagting gebring word, 

soos ‘n ooi wat voor haar skeerders stom is. 

Hy het sy mond nie oopgemaak nie. 

8 Ná onderdrukking en ‘n vonnis 

is hy weggeneem; 

en sy lot, wie dink daaroor na? 

Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes; 

vanweë die oortreding van sy volk

het die slae hom getref. 

9 Hulle het vir hom sy graf 

by goddeloses gegee, 

en by ‘n ryke was hy in sy dood,

alhoewel hy nie geweld gepleeg het, 

en bedrog nie in sy mond was nie.

10 Maar die Here het verkies 

om hom te verbrysel; 

Hy het hom siek gemaak. 

As sy lewe dien as ‘n skuldoffer, 

sal hy ‘n nageslag sien en lank leef. 

Wat die Here wil hê, 

sal deur sy hand suksesvol wees. 

11 Ná die swaarkry wat hy beleef het, 

sal hy sien;

hy sal versadig wees aan sy kennis. 

“My dienskneg sal hom 

as ‘n regverdige betoon aan baie, 

en hulle sondeskuld – 

hy sal dit op hom laai.

12 Daarom sal Ek aan hom 

‘n deel gee onder baie;

en met magtiges sal hy buit verdeel, 

omdat hy sy lewe 

blootgestel het aan die dood, 

en by oortreders gereken is.

Hy het egter die sonde 

van baie gedra; 

vir oortreders het hy ingetree. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerend in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan. Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Ghandi, moeder Theresa, Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.

En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here. Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie.  Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.  Terloops, Jesaja 52:13 se “verhewe wees” kan ook vertaal word met  “wys wees” wat beter in die konteks inpas.

Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes.  Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe.

Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny uit die land van die lewendes … graf gekry by goddeloses” – (Jes 53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (Jes 53:10b-11). 

Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die opstanding uit die dood van hierdie dienaar van die Here.  En God aanvaar sy skuldoffer (Jes 53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die offer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (Jes 53:7) terwyl hy vir oortreders bid (Jes 53:12).  Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jesaja 30 waar stil wees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is.  

Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (Jes 53:12).  Want die geduld in lyding dra groot vrug.

Boodskap en betekenis

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: Jes 53:1 in Joh 12:38; Jes 53:4 in Matt 8:17; Jes 53:7-8 in Hand 8:32-33; Jes 53:9 in 1 Pet 2:22. Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: Jes 53:12 in Luk 22:37.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…