1 SAMUEL 2:1-10

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 SAMUEL 2:1-10

HANNA SE GEBED

21Hanna het gebid en gesê:

“My hart juig in die Here,

ek is sterk in die Here.

Ek maak my mond wyd oop

teenoor my vyande,

want ek verheug my in u verlossing.

2“Niemand is heilig soos die Here nie,

ja, daar is niemand buiten U nie;

daar is geen rots soos ons God nie.

3Julle moet nie verwaand bly praat nie,

nie vermetele woorde

oor julle lippe laat kom nie;

want ‘n God van kennis is die Here;

deur Hom word dade geweeg.

4“Die boë van helde is verpletter, 

maar dié wat struikel,

omgord hulleself met krag.

5Hulle wat versadig was,

verhuur hulleself vir brood,

maar hulle wat honger was,

het oorvloed.

Selfs die onvrugbare

gee geboorte aan sewe,

maar die vrou met baie seuns

kwyn weg.

6“Die Here maak dood

en Hy maak lewend;

Hy laat na die •doderyk afdaal

en Hy laat daaruit opkom.

7Die Here maak arm

en Hy maak ryk;

Hy verneder,

ook verhoog Hy.

8Hy laat armes uit die stof opstaan,

van die ashoop af

hef Hy behoeftiges op

om hulle by vooraanstaandes te laat sit

en ‘n ereplek hulle erfdeel te maak.

Ja, aan die Here behoort die fondamente

van die aarde,

Hy het die wêreld daarop geplaas.

9“Die voete van sy troue volgelinge

beskerm Hy,

maar goddeloses –

in duisternis word hulle vernietig.

“Ja, dit is nie deur krag

dat iemand seëvier nie.

10Die Here –

wie teen Hom te staan kom,

word verpletter;

oor hulle laat Hy dit dreun

uit die hemel.

Die Here spreek reg tot by

die uithoeke van die aarde.

Hy gee krag aan sy koning,

Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”

11Daarna het Elkana na Rama gegaan, na sy huis toe. Die seuntjie was egter in diens van die Here onder toesig van Eli, die priester. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Hanna se blydskap in hoofstuk 2 oor die uitkoms wat die Here gee, laat haar God beskryf as die een wat die normale orde omkeer, van wie belangrik is en wie nie. Sy verbly haar ook meer in die Here as in die uitkoms self.

Let op die motiewe in haar lied van:

  1. God wat die mindere seën en
  2. dat dit God is wat krag aan die koning skenk.

Sy sê ook: “Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad.” (1 Sam 2:9). Dit is ‘n groot troos en aanmoediging om te volhard op die pad wat die Here met jou loop – en om dit met Hom te loop, en nie volgens jou eie goeddunke nie.

Boodskap en betekenis

Die res van die verhaal in hoofstuk twee bewys eintlik die vorige punt, want Eli se seuns bewys met hulle dade dat hulle nie God se troue dienaars is nie. Maar hulle het nie met die Here rekening gehou nie soos die verhaal ontvou.

Dit is egter tragies hoe die verkeerde optrede van die priesters die mense hulle agting vir die offer aan die Here laat verloor het. En die oordeel wat God oor Eli en sy huis bring, is ‘n les vir enigeen wat ooit in hierdie besondere diens aan die Here staan.

Jy kan in die NT die loflied van Maria gaan lees, want Hanna se lied eggo in Maria s’n, soms selfs woordeliks (Luk 1:46 vv).

Let op hoe Samuel van die begin af ’n linneskouerkleed (efod) dra wat sy priesterlike status aandui, selfs al is hy nog baie jonk (1 Sam 2:18 – vgl 22:18 waar dit direk met die priesters verbind word). Hy tree natuurlik ook as profeet op. Hanna word nog verder geseën met 3 seuns en 2 dogters.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: