Skip to main content

HANDELINGE 4:32-35

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HANDELINGE 4:32-35

Ons lees ook vers 36-37, omdat dit noodsaaklike konteks verleen. ‘n Mens moet eintlik vers 1-11 van hoofstuk 5 ook by lees.

Gemeenskaplike besit 

32 Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en siel , en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit. 33 Die apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom. 34 Daar was inderdaad niemand onder hulle wat gebrek gely het nie, aangesien almal wat grond of huise besit het, dit verkoop het en die opbrengs van die verkope gebring 35 en aan die voete van die apostels neergelê het. En aan elkeen is dan uitgedeel in ooreenstemming met wat hy nodig gehad het.

36 Josef, ‘n Leviet afkomstig uit Ciprus, wat by die apostels die bynaam Barnabas gekry het – as dit vertaal word, beteken dit Seun van Vertroosting – 37 het ‘n stuk grond besit en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Die gemeente het so pas eendragtig saam met die apostels gebid vir meer vrymoedigheid om die boodskap van die Here te verkondig ten spyte van vervolging. Hulle het weer die wonder van die Gees se vervulling beleef wat die gebou geskud het waar hulle saam was.

Dit sterk die gemeente nie net in hulle getuienistaak na buite nie. Dit sterk die gemeente ook na binne, spesifiek in hulle vrygewigheid na binne toe. Die gemeente het deur die werking van die Gees die bande van vrees vir teenstand van buite afgegooi, maar ook die vreesagtigheid rondom hulle besittings en die behoud daarvan. ’n Groter passie het hulle beetgepak as die passie om oorlewing en sekuriteit. Hulle passie om die Naam van Jesus oral te verkondig en heilig te lewe en heling te bring vir mense, vir alle mense, het hulle hart ook oopgemaak vir hulle broers en susters in die Here

Mededeelsaamheid word hier as ’n uitvloeisel van ’n eenheid van hart en siel geteken (vers 32). Saam met die kragtige getuienis oor die opstanding van die Here Jesus van die apostels (vers 33), saam met die ervaring van die genade van God wat groot is oor hulle, sorg hulle dat niemand gebrek ly nie. Baie van hulle wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring (vers 34) en vir die apostels gegee, wat dit dan uitgedeel het volgens elkeen se behoefte (vers 35).

Barnabas was met sy eie vrygewigheid ‘n groot aanvuurder van hierdie proses van onderlinge sorg. Barnabas doen wat die ryk jongman nie wou doen nie (Luk 18:18-29). Hy doen afstand van sy besittings om Jesus te volg en vestig daarmee ’n reputasie as iemand met ’n groot en warm hart. Daarmee vestig hy ook ’n baie belangrike beginsel van mededeelsaamheid en vrygewigheid wat die Christelike gemeenskap van alle tye sou beïnvloed.

Dit het die gemeente in staat gestel het om hulle werk behoorlik te kan doen, ook die werk oor grense heen wat na die vervolging sou begin gebeur. Barnabas sal hierna ’n groot rol speel in die gasvrye intrek van Saulus, toe niemand van hom iets wou weet nie, sowel as in die bearbeiding van die gemeente van Antiogië wat sou lei tot die uitkringende invloed van die evangelie deur die sendingreise.

Dit het die grondreël van die Christelike gemeenskap vasgelê dat Christene nooit hulle medemense aan hulle lot oorlaat nie. Hulle leef dus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan uit, soos die Here Jesus dit self vir hulle geleer het. En soos die evangelie hiervandaan sou uitbrei, sou vrygewigheid ’n basiese deel van die lewenstyl van die geloofsgemeenskap oor die wêreld word.

Lukas gebruik dus Barnabas se verhaal om te demonstreer hoe die Gees gawes gee en gebruik – beide in terme van geestesgawes en mense as gawes – om die evangelie te laat versprei. Hierdie eerste verhaal van Barnabas – en die ander wat nog gaan volg – dra dus net soveel by, indien nie meer nie, as die verhale van Filippus (Handelinge 8) en Petrus (Handelinge 9-10) om hierdie fase in die ontwikkeling van die Christelike kerk te beskryf. Dit is ook die fondasie waarop die werk van Saulus gebou sou word.

Die eerste uitkringende positiewe invloed hiervan sou reeds gevoel word in die besluit wat die gemeente direk hierna neem om ook die Griekssprekende weduwees te versorg op gelyke voet met die Hebreeussprekende weduwees (Hand 6).

Let egter ook op in die volgende hoofstuk dat die vrygewigheid van Barnabas nie net positiewe reaksies uitgelok het nie. Sommige (Ananias en Safira) het die proses probeer misbruik tot hulle eie selfsugtige voordeel. Petrus fnuik egter hulle skynheiligheid met die insig wat die Gees hom gee, soos ons in Handelinge 5 lees. Hoewel dit tot die dood van die twee skynheiliges lei, het dit die gemeente in heiligheid laat groei.

Boodskap en betekenis

Ons leer uit hierdie verhaal dat God spesifieke mense roep, dat hy hulle afkoms en gawes gebruik, wat baie keer doodgewone goed is soos ’n stuk grond wat hulle besit, maar dit dan op ’n unieke manier inspan binne die kerk en gemeenskap om verstommende goed reg te kry, soos om van die Christelike gemeenskap wêreldwyd ’n vrygewige, gasvrye een te maak. Barnabas se vrygewige geskenk het ’n impak ver bo dit wat hy in sy tyd kon voorsien het, gehad. Dit is waar van enigiemand wat gewone dinge in diens van die Here en sy kerk stel.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar