Skip to main content

SPREUKE 31:10-31

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

SPREUKE 31:10-31

Dit is ‘n akrostiese gedig waarvan elke reël met die opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin.

LOFLIED OOR ‘N KNAP VROU

א ALEF

10‘n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde.

ב BET

11Die hart van haar man vertrou op haar, en aan besittings sal dit hom nie ontbreek nie.

ג GIMEL

12Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.

ד DALET

13Sy soek wol en linne uit, en werk met ywerige hande.

ה HE

14Sy is soos die skepe van ‘n handelaar, van ver af bring sy haar brood in.

ו WAW

15Sy staan op terwyl dit nog nag is; sy voorsien voedsel vir haar huisgesin, en porsies vir haar diensmeisies.

ז ZAJIN

16Sy dink na oor ‘n stuk grond en koop dit; met die verdienste van haar hande plant sy ‘n wingerd.

ח GET

17Daadkragtig omgord sy haar heupe; sy steek haar hande uit haar moue.

ט TET

18Sy merk dat sy goeie wins maak; snags gaan haar lamp nie dood nie.

י JOD

19Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.

כ KAF

20Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges.

ל LAMED

21Sy is nie bekommerd oor haar huisgesin wanneer dit sneeu nie, want haar hele gesin is geklee in karmosynrooi weefstof.

מ MEM

22Sy maak vir haar dekens; haar bokleed is van linne en purperrooi wol.

נ NUN

23Haar man is bekend in die stadspoorte wanneer hy saam met die oudstes van die land sit.

ס SAMEK

24Sy maak klere van linne en verkoop dit; gordels lewer sy aan die handelaars.

ע AJIN

25Krag en luister is haar bokleed; sy lag onbesorg oor die toekoms.

פ PE

26Haar mond maak sy oop met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong.

צ TSADE

27Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie.

ק KOF

28Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof:

ר RESJ

29“Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.”

שׁ SJIN

30Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ‘n vrou wat vir die Here ontsag het, sy moet geprys word.

ת TAW

31Gee aan haar ‘n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!

Teks en konteks

Teenoor die kort aandag wat die ma aan die vreemde vroue verleen (2 verse vroeër in hoofstuk 31), staan die lied oor die regte vrou wat in ‘n oorvloedige sin, in ‘n fyn uitgewerkte akrostiese gedig, die lof van die regte vrou besing, dié een met wie die koning sy lewe moet deel.

En die ma brei uitvoerig uit oor die geweldige voordele wat só ‘n vrou vir hom sal hê. Hy kan en moet haar op geen manier mis nie! Dit is die tipe onderrig wat verandering bring, omdat dit uitnooi na ‘n baie beter toekoms met ‘n helder aantreklike visioenêre prentjie daarvan!

Só ‘n vrou het 22 voordele.

  1. Sy is baie kosbaar, meer werd as edelstene – Spreuke 31:10.
  2. Sy is ‘n steunpilaar vir haar man wat die vrugte van haar werk pluk – Spreuke 31:11.
  3. Sy bring net voordeel haar lewe lank – Spreuke 31:12.
  4. Sy is vaardig met die verwerking van ru stowwe, wol en vlas – Spreuke 31:13.
  5. Sy sorg dat daar (eksotiese?) kos is – Spreuke 31:14.
  6. Sy maak kos – Spreuke 31:15.
  7. Sy dryf handel met grond en wingerd – Spreuke 31:16.
  8. Sy doen alles met passie, haar hande staan vir niks verkeerd nie – Spreuke 31:17.
  9. Sy dryf ‘n begroting, al moet haar lamp laatnag aan die brand bly – Spreuke 31:18.
  10. Sy produseer goedere met die spinwiel – Spreuke 31:19.
  11. Sy is vrygewig en sorg vir die armes – Spreuke 31:20.
  12. Sy sorg dat haar gesin klere het teen die koue – Spreuke 31:21.
  13. Sy maak self beddegoed en klere van linne en wol – Spreuke 31:22.
  14. Sy sorg dat haar man met die leiers kan beraadslaag – Spreuke 31:23.
  15. Sy bedryf ‘n besigheid met klere en gordels – Spreuke 31:24
  16. Sy het ‘n sterk en edel persoonlikheid – Spreuke 31:25.
  17. Sy praat met wysheid en gee leiding met liefde – Spreuke 31:26.
  18. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding – Spreuke 31:27.
  19. Sy is haar kinders se trots, haar man bewonder haar – Spreuke 31:28.
  20. Sy is voortreflik onder die knap vrouens – Spreuke 31:29.
  21. Sy leef in ontsag vir die Here – Spreuke 31:30.
  22. Sy word in die gemeenskap geëer – Spreuke 31:31.

Natuurlik is hierdie skets die prentjie van ‘n ideale vrou. Maar dit wil eintlik net ‘n prentjie gee van wat moontlik is as potensiaal toegelaat word om te ontwikkel. En na watter tipe eienskappe gekyk moet word in ‘n toekomstige lewensmaat.

Boodskap en betekenis

Ek sluit af met ‘n bykomende manier van interpretasie. ‘n Mens kan die gedig oor hierdie vrou ook as ‘n verdere verpersoonliking van Vrou Wysheid in Spreuke sien.

Dit beteken dan dat Vrou Wysheid nie net by die Skepping teenwoordig was nie (Spr 8), nie net almal uitnooi om van haar wyshede te geniet nie (Spr 9), maar haar woning by ons in die werklike lewe kom maak, as’t ware die metgesel van ‘n werklike persoon word (Spr 31). Dit is nou jy!

Soos Murphy (Word) dit so pragtig stel:

“She is not some lofty, remote ideal for those initiated into her mysteries, but a practical, ever-present, faithful guide and lifelong companion for all who choose her ways. Her origins are with God (8:22–30) and her teaching wins blessings from God (8:35). But her home is in this world. This is the way Wisdom herself wanted it. Even while she was beside the Creator, playing before him, she was also, in her own words from 8:31: rejoicing in his inhabited world and delighting in the sons of men.”

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar