Skip to main content

MARKUS 7:24-37

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 7:24-37

GELOOF VAN DIE SIRO-FENISIESE VROU

(Matt 15:21-28)

24Hy het daarvandaan weggegaan en na die gebied van Tirus vertrek. Hy het ‘n huis binnegegaan en wou nie hê dat iemand dit moes weet nie; maar Hy kon nie onopgemerk bly nie. 25En gou het daar ‘n vrou wie se dogtertjie ‘n onrein gees gehad het, van Hom gehoor, en voor sy voete kom neerval. 26Dit was ‘n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het Hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf. 27Hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” 28Sy antwoord Hom toe: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.” 29Daarop sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, gaan huis toe! Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.” 30En toe sy by haar huis kom, kry sy die kindjie op die bed lê, en die demoon was reeds uit haar uit.

GENESING VAN ‘N DOOFSTOM MAN

31Jesus het weer uit die gebied van Tirus vertrek en deur Sidon na die See van Galilea gegaan, deur die gebied van Dekapolis. 32Hulle bring toe iemand wat doof was en met ‘n spraakgebrek na Hom, en smeek Hom om die man die hande op te lê. 33Nadat Hy die man eenkant toe geneem het, weg van die skare af, het Hy sy vingers in die man se ore gesteek, gespoeg en sy tong aangeraak. 34Nadat Hy na die hemel opgekyk het, sug Hy en sê vir hom: “Effata!” dit is, ‘Gaan oop!’ 35En dadelik is sy ore geopen, die band van sy tong losgemaak, en hy kon normaal praat. 36Jesus het hulle beveel om dit aan niemand te vertel nie. Maar hoe meer Hy hulle dit beveel het, hoe meer het hulle dit uitbasuin. 37Hulle was uitermate verwonderd en het gesê: “Hy het alles goed gedoen – selfs dowes laat Hy hoor en stommes laat Hy praat.” (2020-vertaling)

Teks en konteks

7:24 Jesus is nog steeds besig om stilte te probeer opsoek, soos net te vore in Betsaida.  Hier soek Hy dit in die noordoostelike gebied van Tirus, wat so 25 km van Kapernaum af begin het, die enigste keer dat hy die Joodse gebied heeltemal verlaat het. Die dissipels word nie hier en in die volgende verhaal in Dekapolis eksplisiet deur Markus genoem nie, maar Matteus sê dat hulle wel daar was.

Jesus gaan bly daar in ‘n “heidense” huis waarmee hy verder demonstreer dat Hy ernstig is oor die lering wat Hy oor rein/onrein gegee het. Wat God rein verklaar, is rein. Dit geld nie net alle kos nie. Dit geld ook enigiemand uit watter nasie ook al wat in Hom glo. Hierdie verhaal is die eerste getuienis daarvan.

7:25-26 ‘n Griekse vrou van Siro-Fenicië het gou van Hom te hore gekry en vra Hom dat Hy ‘n “onrein gees” – dit is hoe die demoon beskryf word – uit haar dogtertjie dryf.

7:27 Jesus wys eers haar versoek af met beeldspraak. ‘n Mens neem nie die brood van die kinders en gee dit vir die hondjies nie. Heidene is honde (kunes) genoem, maar Jesus versag dit darem na hondjies (kunariois) waarmee Hy waarskynlik hondjies bedoel het wat in die huis toegelaat is.

7:28 Sy gryp egter in geloof aan Hom vas met haar eie beeldspraak. Let op hoe die tema van brood, wat al by Jaïrus se dogtertjie – wat iets te ete moes kry na haar opwekking uit die dood – steeds ‘n deurlopende tema is. Let ook op dat sy Jesus as Meneer (kurie) aanspreek, ‘n beleefdheidsterm, maar dat dit tegelykertyd ook Here kan beteken, wat moontlik ‘n belydenis oor Hom kan wees. So vertel Matteus dit wat laasgenoemde interpretasie versterk.

7:29-30 Jesus genees dan haar dogtertjie op grond van wat sy gesê het. Letterlik: “op grond van hierdie woord (logos) van jou”. Jesus bedoel daarmee haar geloof en vertroue in Hom.  Dit is ook een van die min afstand-genesings.

7:31 Jesus keer hiervandaan af terug na die noorde van Dekapolis, die gebied van tien stede oorkant die Jordaan. Legio is in die suide daarvan van sy demone verlos. 

7:32 Jesus ontmoet daar onder andere ‘n dowe man (waarskynlik nie doof gebore nie, anders sou hy glad nie kon praat nie), wat na Hom gebring is met die smeking dat Jesus die man hande oplê, uiteraard om daarmee hom van sy doofheid en spraakgebrek te genees.

7:33-34 Jesus neem die man eenkant. Weereens ‘n blyk van sy deernis om die man ‘n stuk privaatheid te gun. Jesus het sy vingers in sy ore gesteek, op sy hande gespoeg, sy tong aangeraak, en ‘n hemelwaartse sug (stenazō – ‘n sug van deernis) gegee met die enkele woord in Aramees: Effata (gaan oop).

7:35 Die man se ore het onmiddellik oopgegaan en die “binding” van sy tong het losgeraak sodat hy normaal kon praat.

7:36-37 Ten spyte van Jesus se poging om die reaksie binne perke te hou, kon niemand dit binne hou nie: “Alles wat Hy doen, is goed.” Die getuienis van Legio het hulle waarskynlik hierop voorberei. 

Interessant genoeg word die man nie aangeraai om oral te getuig soos Legio nie, heel moontlik omdat Jesus reeds oorbekend was en dat dit vir Hom moeilik geraak het om in die openbaar op te tree, iets wat nie nodig was met sy eerste besoek aan die Dekapolis nie.

Die mense van Dekapolis maak die konneksie tussen Jesus en die OT verwagting van die Messias, want hulle verbind die genesing met Jesaja se visie op die Messias wat en dowes sou laat hoor en stommes sou laat praat: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.” (Jes 35:5-6). 

Boodskap en betekenis

Die Griekse vrou staan in sterk kontras met die onbegrip nie net van die skares nie, maar ook van die dissipels. En haar verhaal gee ‘n rasionaal aan die latere beweging van die kerk oor sosiale en godsdiens grense. Soos Jesus, so ook die kerk. Oral waar mense in Hom geglo het, het God hulle rein verklaar, hulle harte gereinig en deel van die volk van God gemaak.

Dit is ‘n lering wat Petrus eers lank hierna regtig sou aanvaar op grond van die visioen wat God hom gegee het. God het Petrus daar geleer dat alle mense wat Hy rein verklaar het, deur Petrus aanvaar moet word (Hand 10:28). In sy toespraak hieroor later in Jerusalem lê hy die beginsel vir die kerk van alle tye neer dat daar geen onderskeid tussen gelowiges uit die verskillende nasies is nie. Hulle harte is almal deur geloof gereinig (Hand 15:9).

Die genesing van die doofstomme getuig van ‘n baie intieme betrokkenheid van Jesus by die man. Die eenkant neem. Die vingers in die ore. Die spoeg op sy hand waarmee Hy aan sy tong vat. Dit wys hoe intens persoonlik Jesus by mense betrokke geraak het. 

Dit roer my eie hart en laat my vra: hoe intiem en intens is my eie betrokkenheid by mense?

Die verhaal versterk ook die verwagting dat Jesus regtig goed is: “Alles wat Hy doen, is goed.”

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda