MARKUS 7:24-37

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 7:24-37

GELOOF VAN DIE SIRO-FENISIESE VROU

(Matt 15:21-28)

24Hy het daarvandaan weggegaan en na die gebied van Tirus vertrek. Hy het ‘n huis binnegegaan en wou nie hê dat iemand dit moes weet nie; maar Hy kon nie onopgemerk bly nie. 25En gou het daar ‘n vrou wie se dogtertjie ‘n onrein gees gehad het, van Hom gehoor, en voor sy voete kom neerval. 26Dit was ‘n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het Hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf. 27Hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” 28Sy antwoord Hom toe: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.” 29Daarop sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, gaan huis toe! Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.” 30En toe sy by haar huis kom, kry sy die kindjie op die bed lê, en die demoon was reeds uit haar uit.

GENESING VAN ‘N DOOFSTOM MAN

31Jesus het weer uit die gebied van Tirus vertrek en deur Sidon na die See van Galilea gegaan, deur die gebied van Dekapolis. 32Hulle bring toe iemand wat doof was en met ‘n spraakgebrek na Hom, en smeek Hom om die man die hande op te lê. 33Nadat Hy die man eenkant toe geneem het, weg van die skare af, het Hy sy vingers in die man se ore gesteek, gespoeg en sy tong aangeraak. 34Nadat Hy na die hemel opgekyk het, sug Hy en sê vir hom: “Effata!” dit is, ‘Gaan oop!’ 35En dadelik is sy ore geopen, die band van sy tong losgemaak, en hy kon normaal praat. 36Jesus het hulle beveel om dit aan niemand te vertel nie. Maar hoe meer Hy hulle dit beveel het, hoe meer het hulle dit uitbasuin. 37Hulle was uitermate verwonderd en het gesê: “Hy het alles goed gedoen – selfs dowes laat Hy hoor en stommes laat Hy praat.” (2020-vertaling)

Teks en konteks

7:24 Jesus is nog steeds besig om stilte te probeer opsoek, soos net te vore in Betsaida.  Hier soek Hy dit in die noordoostelike gebied van Tirus, wat so 25 km van Kapernaum af begin het, die enigste keer dat hy die Joodse gebied heeltemal verlaat het. Die dissipels word nie hier en in die volgende verhaal in Dekapolis eksplisiet deur Markus genoem nie, maar Matteus sê dat hulle wel daar was.

Jesus gaan bly daar in ‘n “heidense” huis waarmee hy verder demonstreer dat Hy ernstig is oor die lering wat Hy oor rein/onrein gegee het. Wat God rein verklaar, is rein. Dit geld nie net alle kos nie. Dit geld ook enigiemand uit watter nasie ook al wat in Hom glo. Hierdie verhaal is die eerste getuienis daarvan.

7:25-26 ‘n Griekse vrou van Siro-Fenicië het gou van Hom te hore gekry en vra Hom dat Hy ‘n “onrein gees” – dit is hoe die demoon beskryf word – uit haar dogtertjie dryf.

7:27 Jesus wys eers haar versoek af met beeldspraak. ‘n Mens neem nie die brood van die kinders en gee dit vir die hondjies nie. Heidene is honde (kunes) genoem, maar Jesus versag dit darem na hondjies (kunariois) waarmee Hy waarskynlik hondjies bedoel het wat in die huis toegelaat is.

7:28 Sy gryp egter in geloof aan Hom vas met haar eie beeldspraak. Let op hoe die tema van brood, wat al by Jaïrus se dogtertjie – wat iets te ete moes kry na haar opwekking uit die dood – steeds ‘n deurlopende tema is. Let ook op dat sy Jesus as Meneer (kurie) aanspreek, ‘n beleefdheidsterm, maar dat dit tegelykertyd ook Here kan beteken, wat moontlik ‘n belydenis oor Hom kan wees. So vertel Matteus dit wat laasgenoemde interpretasie versterk.

7:29-30 Jesus genees dan haar dogtertjie op grond van wat sy gesê het. Letterlik: “op grond van hierdie woord (logos) van jou”. Jesus bedoel daarmee haar geloof en vertroue in Hom.  Dit is ook een van die min afstand-genesings.

7:31 Jesus keer hiervandaan af terug na die noorde van Dekapolis, die gebied van tien stede oorkant die Jordaan. Legio is in die suide daarvan van sy demone verlos. 

7:32 Jesus ontmoet daar onder andere ‘n dowe man (waarskynlik nie doof gebore nie, anders sou hy glad nie kon praat nie), wat na Hom gebring is met die smeking dat Jesus die man hande oplê, uiteraard om daarmee hom van sy doofheid en spraakgebrek te genees.

7:33-34 Jesus neem die man eenkant. Weereens ‘n blyk van sy deernis om die man ‘n stuk privaatheid te gun. Jesus het sy vingers in sy ore gesteek, op sy hande gespoeg, sy tong aangeraak, en ‘n hemelwaartse sug (stenazō – ‘n sug van deernis) gegee met die enkele woord in Aramees: Effata (gaan oop).

7:35 Die man se ore het onmiddellik oopgegaan en die “binding” van sy tong het losgeraak sodat hy normaal kon praat.

7:36-37 Ten spyte van Jesus se poging om die reaksie binne perke te hou, kon niemand dit binne hou nie: “Alles wat Hy doen, is goed.” Die getuienis van Legio het hulle waarskynlik hierop voorberei. 

Interessant genoeg word die man nie aangeraai om oral te getuig soos Legio nie, heel moontlik omdat Jesus reeds oorbekend was en dat dit vir Hom moeilik geraak het om in die openbaar op te tree, iets wat nie nodig was met sy eerste besoek aan die Dekapolis nie.

Die mense van Dekapolis maak die konneksie tussen Jesus en die OT verwagting van die Messias, want hulle verbind die genesing met Jesaja se visie op die Messias wat en dowes sou laat hoor en stommes sou laat praat: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.” (Jes 35:5-6). 

Boodskap en betekenis

Die Griekse vrou staan in sterk kontras met die onbegrip nie net van die skares nie, maar ook van die dissipels. En haar verhaal gee ‘n rasionaal aan die latere beweging van die kerk oor sosiale en godsdiens grense. Soos Jesus, so ook die kerk. Oral waar mense in Hom geglo het, het God hulle rein verklaar, hulle harte gereinig en deel van die volk van God gemaak.

Dit is ‘n lering wat Petrus eers lank hierna regtig sou aanvaar op grond van die visioen wat God hom gegee het. God het Petrus daar geleer dat alle mense wat Hy rein verklaar het, deur Petrus aanvaar moet word (Hand 10:28). In sy toespraak hieroor later in Jerusalem lê hy die beginsel vir die kerk van alle tye neer dat daar geen onderskeid tussen gelowiges uit die verskillende nasies is nie. Hulle harte is almal deur geloof gereinig (Hand 15:9).

Die genesing van die doofstomme getuig van ‘n baie intieme betrokkenheid van Jesus by die man. Die eenkant neem. Die vingers in die ore. Die spoeg op sy hand waarmee Hy aan sy tong vat. Dit wys hoe intens persoonlik Jesus by mense betrokke geraak het. 

Dit roer my eie hart en laat my vra: hoe intiem en intens is my eie betrokkenheid by mense?

Die verhaal versterk ook die verwagting dat Jesus regtig goed is: “Alles wat Hy doen, is goed.”

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: