Skip to main content

PSALM 1

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 1

1 Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie, 2 maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. 3 So iemand sal wees soos ‘n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy. 4 So is die goddeloses nie; inteendeel, hulle is soos kaf wat die wind wegwaai. 5 Daarom sal goddeloses nie kan opstaan tydens die regspraak, of sondaars in die byeenkoms van regverdiges nie. 6 Ja, die Here dra sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddeloses loop dood.

Teks en konteks

Psalm 1 is ’n wysheid Psalm en vestig die basiese veronderstelling van die Psalmboek, dat die sin en betekenis van alles in God self gevind word. Wysheid begin by die fokus op God en sy woorde. Ons persoonlike verhoudinge met God het vreugde en voorspoed tot gevolg.

Psalm 1 lei die hele Psalmboek in. Die redakteurs het dit hier geplaas waarskynlik omdat hier twee groepe mense gekontrasteer word, wat telkens in die res van die Psalmboek genoem sal word: die regverdiges (Ps 1:5, 6) en die goddeloses (Ps 1:1, 4, 5, 6). In wese is dit die kern van die Psalms (en die Bybel) se boodskap:

  • Die sin van die lewe word in die regte verhouding met God gevind.
  • Dit is dwaas om sonder God te probeer lewe.

Let op hoe die Psalm die impak uitspel wat regverdiges en goddeloses se onderskeie lewenstyle (1:1-2) op hulle ervarings (1:3-4) en bestemming het (1:5-6). Die pad wat jy kies in hierdie lewe het gevolge. Saam met God is daar vreugde en voorspoed – jy is soos ’n boom by standhoudende water. Sonder God is daar verydeling en ondergang – jy is soos kaf in die wind.

Dit laat ’n mens dink aan Jesus se tipering van twee paaie in Matt 7:13–14. Die een is ’n poort na die verderf, die ander die poort na die lewe.

Geseënd is die regverdiges

Die Psalm begin met die Hebreeuse woord gelukkig/geseënd (ʾǎš∙rê) wat vertaal is met “dit gaan goed met” en pas dit toe op die een wat kies om die raad van die goddeloses te vermy en liewer die woord van die Here te oordink en na te volg. Die oorspronklike woord herinner ons onmiddellik aan die Saligsprekings van Jesus in Matt 5:3. Trouens dieselfde woord word in die Griekse vertaling van Psalm 1:1 (LXX) gebruik as in Jesus se uitsprake in die NT: makarios – gelukkig of geseënd.

Die goddeloses word met twee ander woorde getipeer: sondaars en ligsinniges (of spotters). Dit is mense wat kies om God nie te gehoorsaam nie (sondaars), en trouens geen respek vir Hom of ’n verantwoorde lewe wys nie (ligsinniges). Soos Elwell dit stel, dit gaan goed met iemand wat “the corrosive influence of the cynical” vermy, “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”.

Die fokus van die regverdiges is die woord (tôwrâh) van God, waarmee veral na die wet (tien gebooie sowel as die eerste 5 boeke van die Bybel, die Pentateug) verwys word, die riglyne vir die lewe. Hierdie doelbewuste keuse vir die woorde en weë van God is die wyse pad na voorspoed in die teenwoordigheid van God.

Die Psalmis gebruik die woord mediteer as hy oor die besig-wees met die Woord skrywe, wat in die NAV vertaal is met oordink. Hierdie tipe meditasie is fluisterend of hardop gedoen.

Die metafoor van die boom herinner ’n mens aan die boom van lewe in die tuin van Eden. Ook Jeremia gebruik die metafoor in soortgelyke taal om die regverdige te beskryf (Jer 17:8) en die goddelose met ’n droë bossie in die woestyn te vergelyk.

Die verwysing na die goddelose wat hom nie kan handhaaf voor die Here nie, antisipeer die vraag in Psalm 15:1: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here” en Psalm 24:3: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan?” Dit is net dié wat na sy wil vra (24:6 – Hom soek) en onberispelik wandel (15:2).

Dit is kennelik nie waar van die goddelose nie. NT-gesproke kan jy ook dink aan Judas wat “na die plek gegaan het wat hom toekom.” (Hand 1:25)

Die Here ken die pad van die regverdiges

Die frase in vers 6: “die Here lei die regverdiges op hulle pad” is eintlik ’n vertaling van die volgende Hebreeuse frase: “die Here ken die pad van die regverdiges”. Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous” op voetspoor van Dahood wat aangedui het dat die woord ken ook in die betekenis van beskerm gebruik kan word (Craigie).

Let op dat die Psalm nie sê dat die regverdigheid van die regverdiges die basis vir hulle voorspoed is nie, maar die feit dat God met hulle in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm. Hulle bestemming is die gevolg van God se beskerming.

Paulus verwys na dieselfde gedagte in Galasiërs 4:9, waar hy skryf dat Christene vreugde moet vind nie soseer in die feit dat hulle God ken nie, maar dat God hulle ken: “Daar was ’n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls?” Daarom bid hy dat Christus self in hulle gestalte sal kry, eerder as wette en reëls, juis omdat God met hulle in verhouding getree het, en hulle ken.

Boodskap en betekenis

Psalm 1 help jou om oor die bron van jou lewe te besin. Die metafoor van die boom by die waterstroom spel die primêre plek uit wat die Woord in jou lewe moet hê. Die Here lei jou daardeur op die regte pad.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda