Skip to main content

ESTER 7:1-6, 9-10; 9:20-22

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

ESTER 7:1-6, 9-10; 9:20-22

Ek gee al drie hoofstukke ter wille van konteks.

TEREGSTELLING VAN HAMAN

71Die koning en Haman het by koningin Ester gaan eet. 2Terwyl hulle op die tweede dag van die feesmaal wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gevra: “Wat is jou versoek, koningin Ester? Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” 3Koningin Ester het geantwoord en gesê: “As ek guns vind in u oë, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my lewe vir my gegee word, dit is my versoek; en die lewe van my volk, dit is my wens. 4Want ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg te word, om vermoor en uitgewis te word. Was ons net as slawe en slavinne verkoop, dan sou ek nog stilgebly het, want so ‘n beproewing sou nie genoeg gewees het om die koning daarmee te belas nie.” 5Koning Ahasveros vra toe vir koningin Ester: “Wie is hy? En waar is hierdie man wat hom aanmatig om so iets te doen?” 6En Ester antwoord: “’n Verdrukker en vyand is hierdie bose Haman.” Haman het ineengekrimp van vrees voor die koning en die koningin.

 7Die koning het woedend van die wynbanket af opgestaan en na die tuin van die paleis gegaan, maar Haman het agtergebly om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning reeds oor sy ondergang besluit het. 8Toe die koning terugkeer van die paleistuin na die feesvertrek, val Haman juis neer op die bank waarop Ester geleun het. Die koning het uitgeroep: “Wil hy die koningin aanrand, selfs hier by my in die paleis?” Die koning se woorde was nog nie koud nie, toe bedek die dienaars al Haman se gesig. 

9Garbona, een van die koning se paleisamptenare het gesê: “Kyk, Haman het selfs ‘n paal gereedgemaak vir Mordegai, wat in belang van die koning gepraat het. Daardie paal staan by Haman se huis, vyftig el hoog.” Die koning het gesê: “Hang hom daaraan op!” 10Hulle het Haman toe gehang aan die paal wat hy vir Mordegai voorberei het. Daarna het die woede van die koning bedaar.

81Op dieselfde dag het koning Ahasveros die besittings van Haman, die vyand van die Jode, vir koningin Ester gegee. Mordegai het voor die koning verskyn, want Ester het vir die koning gesê wat sy verwantskap met haar is. 2Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy van Haman afgeneem het en dit aan Mordegai gegee. En Ester het vir Mordegai aangestel oor Haman se besittings.

UITVAARDIGING VAN ‘N NUWE WET

3Ester het weer met ‘n versoek na die koning gegaan. Sy het voor sy voete neergeval en gehuil en hom gesmeek om die onheil af te weer wat Haman, die Agagiet, teen die Jode beplan het. 4Die koning het die goue septer na Ester uitgesteek. Sy het opgestaan en voor die koning gaan staan 5en gesê: “As die koning dit goedkeur, en as ek sy guns geniet, as die saak vir die koning aanvaarbaar is, en as die koning my goedgesind is, gee skriftelik opdrag dat die dokumente met die plan van Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, om die Jode uit te delg wat in al die provinsies van die koning is, herroep word. 6Want hoe sal ek dit kan verduur om toe te kyk hoe my volk deur so ‘n ramp getref word? En hoe sal ek dit kan verduur om toe te kyk hoe my familie uitgewis word?” 7Koning Ahasveros het vir koningin Ester en vir Mordegai, die Jood, gesê: “Kyk, Haman se besittings het ek vir Ester gegee en vir hom het hulle gehang aan die paal, omdat hy die Jode wou uitmoor. 8Skryf julle nou na goeddunke in die naam van die koning aan die Jode en verseël dit met die seëlring van die koning, want ‘n dokument wat geskryf is in die naam van die koning en verseël is met die seëlring van die koning kan nie herroep word nie.” 9Die skrywers van die koning is dadelik ontbied, in die derde maand, die maand Siwan, op die drie-en-twintigste dag. Net soos Mordegai beveel het, het hulle alles neergeskryf vir die Jode, die satrape, die streekgoewerneurs en die hoë amptenare van die provinsies, vanaf Indië tot by Kus, 127 provinsies. Dit is geskryf in die skrif van elke provinsie en in die taal van elke volk, ook aan die Jode in hulle skrif en hulle taal. 10Mordegai het in die naam van koning Ahasveros geskryf en die dokumente verseël met die koning se seëlring. Dit is uitgestuur met boodskappers te perd, ruiters op vinnige perde uit die koninklike stal. 11Die koninklike bevel het aan die Jode in elke stad en dorp die reg gegee om bymekaar te kom en hulleself te verdedig. Enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aanval, kon hulle verdelg, doodmaak en uitroei – vrou en kind – en hulle vyande se eiendom plunder. 12Dit alles kon op een bepaalde dag in al die provinsies van koning Ahasveros gedoen word, op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar. 13‘n Afskrif van die dokument moes as wet in elke provinsie in die openbaar afgekondig word aan alle volke, sodat die Judeërs op hierdie dag gereed kon wees om wraak te neem op hulle vyande. 14Die boodskappers, ruiters op vinnige perde uit die koninklike stal, het haastig vertrek volgens die koninklike bevel. Die wet is ook afgekondig in die vestingstad Susan. 15Mordegai het van die koning weggegaan, geklee in ‘n koninklike kleed van pers wolstof en linne, ‘n groot kroon van goud en ‘n mantel van fyn, wit materiaal en purperrooi wol. En die stad Susan het gejubel en gejuig. 16Vir die Judeërs was dit ‘n tyd van lig en vreugde, vrolikheid en eer. 17In elke provinsie en in elke stad, elke plek waar die woord en wet van die koning bekend geword het, was daar vreugde en vrolikheid onder die Jode, maaltye en feesdae. Baie mense uit die volke van die land het hulle as Jode voorgedoen omdat die vrees vir die Jode hulle oorval het.

TRIOMF VAN DIE JODE

91In die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag, moes die wet en bevel van die koning uitgevoer word. Dit was die dag waarvoor die vyande van die Jode gewag het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: Die Jode het diegene wat hulle gehaat het, oorweldig. 2Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros, om diegene wat hulle ondergang gesoek het, dood te maak. Niemand kon voor hulle stand hou nie, want vrees vir die Jode het al die volke oorval. 3Al die •hoë amptenare van die provinsies en die satrape, die streekgoewerneurs en die amptenare wat die koning se sake hanteer, het die Jode gesteun, want vrees vir Mordegai het hulle oorval. 4Mordegai het immers belangrik geword in die koninklike paleis en berigte oor hom het deur al die provinsies versprei. Ja, die man Mordegai het al hoe magtiger geword. 5Die Jode het op hulle vyande toegeslaan en met die swaard dood en verwoesting gesaai; hulle het met hulle haters gedoen net wat hulle wou. 6In die vestingstad Susan het die Jode vyfhonderd mense doodgemaak en uitgewis. 7Hulle het ook Parsandata en Dalfon en Aspata 8en Porata en Adalja en Aridata 9en Parmasta en Arisai en Aridai en Wajesata, 10die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en teenstander van die Jode, doodgemaak, maar nie ‘n hand op die buit gelê nie. 11Die aantal mense wat in die vestingstad Susan doodgemaak is, is nog dieselfde dag aan die koning bekend gemaak.

12Die koning het vir koningin Ester gesê: “In die vestingstad Susan het die Jode ‘n slagting aangerig. Hulle het 500 mense uitgewis, ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nie in die res van die provinsies van die koning gedoen het nie! Wat jy versoek, word aan jou gegee. Wat jy verder wens, sal toegestaan word.” 13Ester het geantwoord: “As die koning dit goedkeur, gee dan die Jode in Susan die toestemming om môre ook die wet soos vandag uit te voer en laat hulle die tien seuns van Haman aan die paal hang.” 14Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word. ‘n Wet is in Susan uitgevaardig en die tien seuns van Haman is gehang. 15Die Jode wat in Susan was, het weer bymekaargekom op die veertiende dag van die maand Adar. Hulle het nog driehonderd mense in Susan doodgemaak, maar nie ‘n hand op die buit gelê nie. 16Intussen is die res van die Jode in die koning se provinsies ook bymekaar geroep om hulle lewens te verdedig en verligting te kry van hulle vyande. Hulle het 75 000 van hulle haters doodgemaak, maar nie ‘n hand op die buit gelê nie. 17Dit het alles gebeur op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag het hulle gerus en dit ‘n dag van feesviering en vreugde gemaak. 18Die Jode wat in Susan was, het egter bymekaargekom op die dertiende en die veertiende dag. Eers op die vyftiende dag het hulle gerus en dit ‘n dag van feesviering en vreugde gemaak. 19Daarom maak die Jode wat in dorpe op die platteland woon, die veertiende dag van die maand Adar ‘n dag van vreugde en feesviering, ‘n feesdag waarop hulle eetgoed aan mekaar stuur.

INSTELLING VAN DIE PURIMFEES

20Mordegai het hierdie gebeure opgeskryf. Hy het toe briewe gestuur na al die Jode, naby en ver, in al die provinsies van koning Ahasveros, 21en hulle gelas om elke jaar die veertiende en die vyftiende dag van die maand van Adar te herdenk 22as die dae waarop die Jode bevry is van hulle vyande, as die maand waarin hulle droefheid verander is in blydskap en ‘n tyd van rou in ‘n tyd van feesviering. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed stuur en aan die armes geskenke uitdeel. 

23Die Jode het onderneem om voort te gaan met wat hulle begin het om te doen soos wat Mordegai vir hulle voorgeskryf het. 24Want Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, die vyand van al die Jode, het beplan om die Jode te vernietig. Hy het deur die Pur, dit is met die lot, beslis dat hulle ontwrig en vernietig moet word. 25Maar weens Ester se intrede by die koning het hy skriftelik beveel: “Haman se bose plan wat hy teen die Jode bedink het, moet op sy eie kop neerkom.” Toe het hulle hom en sy seuns aan die paal gehang. 26Daarom noem hulle hierdie dae Purim, na die naam Pur. Op grond van al die woorde in hierdie brief en alles wat hulle van die gebeure gesien en beleef het, 27het die Jode dit ingestel en hulle daaraan verbind, hulle en hulle nageslag, en almal wat by hulle aansluit, om nie hierdie twee dae na te laat nie, maar om dit altyd jaarliks, soos dit voorgeskryf is, op die vasgestelde tyd te eerbiedig. 28Hierdie dae moet onthou en gevier word deur elke volgende generasie, deur elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag onder die Jode nie nagelaat word nie en die herinnering daaraan mag onder hulle nageslagte nie vergete raak nie. 29Koningin Ester, die dogter van Abigajil, asook Mordegai, die Jood, het met volle gesag hierdie tweede brief geskryf om die Purim te bevestig. 30Die briewe is gestuur aan al die Jode in die 127 provinsies van Ahasveros se koninkryk – woorde van vrede en trou – 31om hierdie dae van Purim te bevestig op die tye soos wat Mordegai, die Jood, en koningin Ester dit vir hulle vasgestel het, en soos wat hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het volgens die voorskrifte van vas en weeklag. 32‘n Bevel van Ester het hierdie voorskrifte van die Purim bevestig en dit is in ‘n boekrol opgeskryf.

Teks en konteks

Ester se verhaal speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes – of Ahasveros, soos hy in die Bybel genoem word – in die stad Susan (486-465 v.C.).  Die gebeure van die boek kan daarom geplaas word tussen die verhaal van Esra 1-6 (die terugkeer onder Sesbassar van 539 v.C. af) en Esra 7-12 (die tyd van Esra en Nehemia van 458-430 v.C.).  Susan is ook die stad wat Daniël in een van sy visioene gesien het (Dan. 8) en waarvandaan Nehemia sy werk in Israel in opdrag van Artaxerxes (Artasasta – Neh. 2:1), Xerxes se seun, gaan doen.  Artaxerxes was nie Ester se eie seun nie, maar hulle moes mekaar waarskynlik wel geken het.  Só moontlik ook Nehemia en Ester.

Ester se verhaal gee vir ons ’n prentjie van die wedervaringe  van waarskynlik die meerderheid van die Jode wat ná die kleinerige klompie se terugkeer uit ballingskap, steeds in ander lande gebly het, in die sogenaamde diaspora.  Die boek fokus op die geweldige uitdagings waaraan hulle blootgestel is in die vreemde, in dié geval ook aan die bedreiging van ’n etniese suiwering waarin hulle byna uitgewis is.

Die uitkoms wat deur die bemiddeling van Ester en Mordegai (wie se naam in Persiese bronne genoem word) kom, word tot vandag toe nog met die jaarlikse Purim fees gevier.  Purim verwys na die lot (pur) wat gewerp is om die tyd van die Jode se uitroeiing te bepaal (Esra 3:7).

In Juda en Jerusalem is in dié tyd ‘n heel ander stryd gevoer.  Waar die eerste deel van die Kronistiese Geskiedwerk – 1 en 2 Kronieke – gefokus het op ‘n waarderende blik op die koninkryk van Juda vóór die ballingskap om die identiteit van die volk weer in God en hulle gesamentlike geskiedenis te vestig, fokus die boeke van Esra en Nehemia op die drie leiersfigure wat in uitdagende omstandighede die tempel moes herbou (Serubabel) die wetboek weer sy regmatige plek in die godsdienstige lewe van Juda laat inneem (Esra) en die stad se muur moes herbou om die gemeenskapslewe te herstel (Nehemia), soos in die tweede deel van die Kronistiese Geskiedwerk – Esra en Nehemia – vertel word.

Dit is ook die tyd van die profete Haggai, Sagaria en Maleagi wat op verskeie maniere die leiers en die volk bemoedig het.

Die boek word met baie humor en ironie geskrywe.  ’n Mens glimlag as jy lees dat die koning dink ’n wêreldwye bevel “dat elke man baas moet wees in sy eie huis” (1:22) sommer outomaties sal werk!  Haman probeer eer aan homself bewys, maar bevoordeel só vir Mordegai.  Haman probeer die Jode uitwis, maar vernietig net homself en sy familie.  Haman sterf op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou.

Maar dit is ook ’n ontstellende boek as ’n mens ingedagte hou dat Haman ’n Amalekiet was en Mordegai ’n Benjaminiet.  Trouens, Haman kom van die nageslag van Agag (3:1), dié koning van Amalek wat deur koning Saul – uit die stam van Benjamin (Mordegai se oupagrootjie se naam was ook Kis, soos ook Saul se pa – Est. 2:5; 1 Sam 9:1-2) – aanvanklik gespaar is in oorlog, maar toe deur Samuel om die lewe gebring is (1 Sam 15).  Die vete tussen Israel (Benjaminiete) en die Amalekiete (Agagiete) was dus baie diep en verbete.  So byna slaag die Amalekiete dus hier om die volk Israel uit te wis deur die konkelwerk van Haman!

Die diepste indruk wat die boek egter laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere verandering bewerk, selfs sonder dat sy naam enigsins eksplisiet in die boek gebruik word (soos ook in Hooglied).  Ester se keuse as koningin sit bv. die reeks gebeure aan die gang.  Die koning se slaaploosheid lei hom daartoe om Mordegai se heldedaad in die annale raak te lees en agter te kom dat hy hom nog nie daarvoor vereer het nie.  Ester se berekende risiko om die koning ongevraagd te nader slaag toe hy haar te woord staan. 

Daaragter sien ’n mens God se hand raak, waarmee Hy die veiligheid van sy mense regoor die wêreld waarborg, ook dié wat sukkel in Jerusalem om die geloofsgemeenskap weer op te bou.  Sy voorsienigheid is verborge en amper onopvallend, maar getuig tog van ’n ongelooflike betrokke teenwoordigheid wat die regte ding op die regte tyd laat gebeur.  God kruip nie weg nie, maar werk agter die skerms om “alles ten goede (te) laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28).  Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense.

Ester 6-7 – Die koning se slaaploosheid is die draaipunt in die verhaal

Waar hoofstuk 1-5 die dreigende gevaar vir die Joodse volk beskryf het, begin hoofstuk 6-9 nou die verstommende uitkoms beskryf wat orals in die wêreld redding vir hulle sal bring.  Interessant genoeg is dit die koning se slaaploosheid wat die draaipunt in die verhaal verteenwoordig.

Omdat die koning nie die nag kon slaap nie vra hy dat uit sy annale aan hom voorgelees word. Toe hy hoor van Mordegai se ontmaskering van ’n sameswering teen hom, besluit hy om Mordegai erkenning te gee daarvoor.  “Net toe” kom Haman daar aan met ’n bose plan teen Mordegai om hom te laat ophang op die galg wat vir hom opgerig is. Die koning spring Haman egter voor en reël dat Haman vir Mordegai eer bewys, presies op die wyse wat Haman self voorgestel het.

Soos Dawid Pawson dit beskryf: “It was an extraordinary coincidence – clearly the hand of God.” (Unlocking the Bible, 2007: 673).

Dit het ’n groot impak op Haman en beskaam hom selfs in die oë van sy raadgewers en sy vrou.  Let op die geweldige uitspraak wat hulle oor Haman maak, dat: “jy  nie (sal) kan standhou voor hom (Mordegai) nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”!

Dit is egter nog maar die begin van die probleme wat Haman ervaar.  Terwyl hulle by die tweede geleentheid besig is om wyn te drink, kom Ester met die hele mandjie patats na vore: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”

Let op hoe sy nie net oor haarself en haar lot praat nie, maar dit veral motiveer in die lig van wat met haar volk gaan gebeur.  Maar die beste argument is eintlik dat sy vir Ahasveros duidelik maak dat sy eie belange daardeur geskaad sal word.  Sy kies die beste moontlike geleentheid vir haar versoek en sy doen dit op die beste en deurdagte manier moontlik!

Toe Ahasveros agterkom dat Haman hiervoor verantwoordelik is – in Ester se woorde: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman” – was sy doppie geklink.  Sy smeking om genade lyk boonop vir die koning na aanranding en Haman word opgehang op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou het.

Ester 8 – Die Jode kry die reg om hulle teen etniese suiwering te verdedig

Haman se vernedering duur selfs ná sy dood voort.  Sy eiendom word aan Ester gegee wat dit aan Mordegai toevertrou om te bestuur, nadat sy haar verwantskap met hom aan die koning verklaar het.  Die posisie wat Haman gehad het, word boonop aan sy vyand, Mordegai, gegee, verseël met die seëlring van die koning.

Met Haman so verneder en uit die weggeruim, was die probleme van die Jode egter nie op ’n einde nie.  Die bevel van die koning was steeds dat hulle op die dertiende van die maand Adar uitgewis sou moes word.  Dié bevel kon nie as sodanig verander word nie, al het Ester voor Ahasveros gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek.

Daarom stel Ester voor dat daar ander briewe geskrywe word, aan elke volk in hulle eie taal, dat die Jode die reg het om hulle te verdedig en die ramp wat hulle kon tref, só te kan afweer.  So 20 dae voor die voltrekking van die vorige gebod van Ahasveros rondom die uitwissing van die Jode, het boodskappers op resiesperde dié nuus versprei deur die hele ryk dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Trouens, die bevel was dat hulle enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet kon uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê. ’n Radikale ommekeer in die koning se voorskrifte en een wat vandag nog weerklink in die manier waarop die Jode hulle teen die wêreld beveilig.

Die nuwe opdrag was dus net soos die vorige een, wreed, aggressief en ongenaakbaar, maar waarskynlik die enigste manier om só ’n groot gevaar, dié van etniese suiwering, te vermy.

Die bevel van die koning het tot groot vreugde in die stad Susan gelei en vir die Jode was daar weer “lig en vreugde en blydskap en ‘n gevoel van eiewaarde”. Hulle het maaltye gehou en feesgevier, iets wat uiteindelik oor sou gaan in die jaarlikse instelling van die Purimfees, soos ons in die volgende hoofstuk gaan lees. Interessant genoeg, sê die skrywer, het baie mense van ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode. Hoe wydverspreid dit was, sou ’n mens nie kon sê nie, maar die gemoedstemming van almal is gelig.

Hierdie gebeure in die Persiese ryk, waarin ’n dreigende uitwissing deur die Jode afgeweer is, gee ’n mens dus ’n beter begrip van die Joodse psige.  Dit is gevorm deur eeue lange ervarings van konflik met hulle buurvolke.  Diep in hulle volksgeheue was die ervaring van slawerny (Egipte), die bevryding daaruit (Eksodus), die heilige oorlog teen die ander nasies in Kanaän (Intog), die ballingskap weens hulle ongehoorsaamheid (Babel), die hervestiging in Israel (Terugkeer – waaroor ons in Esra en Nehemia gaan lees) ingebrand.  Op die koop toe was daar hierdie gevaar van etniese suiwering (Persiese ryk). 

Só sou daar nog ’n paar groot gevare op hulle pad wees, die verwoesting onder Antiogos IV Epiphanes in die Makkabeërtyd van die 2de eeu v.C., die verwoesting onder die Romeine in 70 n.C., die ghetto’s van die Middeleeue in Europa, die Volkslagting onder die Nazi’s (Duitsland) en die vele oorloë om hulle reg op nasieskap en ’n grondgebied te verseker na 1948.  Dit is ’n uitmergelende geskiedenis van konflik en oorlog waarvan die einde nog nie in sig is nie.

Dit is daarom wel jammer dat hulle nie ander gun wat hulle hulleself gun nie, spesifiek die Palestyne in die voortslepende konflik in Israel vandag.  Maar ’n mens het tog begrip vir hulle aggressie, gegewe só ’n konflikterende geskiedenis, al sou ’n mens graag wou hê dat hulle vreedsame naasbestaan najaag.

Ester 9-10 – God red die Jode deur die leierskap van Mordegai en Ester

Die dertiende dag van Adar breek toe aan met die tafel gedek vir grootskaalse oorlog.  Omdat die Jode egter voorbereid was, kon hulle weerstand bied en het hulle hul vyande oorweldig. Niemand kon voor hulle standhou nie.

Een van die redes vir die omkeer van die situasie was natuurlik dat Mordegai nou ‘n hoë posisie aan die hof van die koning beklee het en hy mag oor die goewerneurs van die provinsies gehad het. Trouens dit het bekend geword dat hy al hoe meer mag kry.  Niemand wou dus van hom ’n vyand maak nie en al die leiers, verteenwoordigers, goewerneurs en ander in diens van die koning het die Jode daarom uitgelos oral in die 127 provinsies waar hulle in beheer was.

Daar was egter steeds gevegte.  Selfs in die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, waaronder lede van die familie van Haman.  Interessant genoeg word daar ’n paar keer gesê dat die Jode nie op die oorwonne vyande se besittings beslag gelê het nie.

Selfs die koning het ’n heilige ontsag gekry vir die weerstand van die Jode, sodat hy vir Ester sê: “Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy ‘n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.” Dit illustreer sy wispelturigheid en beginselloosheid.  Hy is eintlik maar net besorg oor homself en hoe dinge homself gaan raak.

Ester is egter nie links nie en vra dat die Jode in Susan nog ’n dag toegelaat word om hulle self te verdedig, waarskynlik omdat sy meer eerstehandse kennis gehad het van die weerstand wat hulle daar ondervind het. Sy vra ook dat ’n voorbeeld gemaak word van die tien seuns van Haman wat eintlik alreeds doodgemaak is, maar nou ook verder verneder word deur hulle aan die galg te laat ophang.

Nog drie honderd man is daarom in Susan doodgemaak, maar weereens nie op hulle besittings beslag gelê nie. In totaal is vyf en sewentig duisend man doodgemaak in die Jode se verdedigingsproses reg deur die ryk.

Die 14de dag (15de dag in Susan, omdat hulle oorlog langer geduur het) is daarom ’n dag van feesviering en vreugde gemaak, weens die noue ontkoming van die Jode. Uit vreugde het hulle ook die gebruik gevestig dat dit ’n feesdag is waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur uit dankbaarheid vir die oorwinning.

Die Purimfees

Mordegai het hierdie feesdag geformaliseer deur al die gebeure te laat neerskryf (hy is daarom ook waarskynlik die skrywer van die boek Ester) en briewe te stuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode te gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het.  Dit is ook bevestig deur ’n brief van Ester.  Die Jode moes hierdie twee dae, dae van feesviering en vreugde maak, en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur.  Dit het toe só ‘n vaste gebruik geword, iets wat vandag nog só gevier word.

Daar was ook ’n geestelike kant met voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Eintlik staan daar in die gebruikte grondteks nie die woord God nie, maar wel die volgende sin: “soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het.”  Die weeklag het natuurlik met God te make, maar dit word nie eksplisiet só gestel nie.

Een van die voorskrifte vir die fees is dat die boek Ester telkens voorgelees moet word om die geskiedenis in hulle geheue te verfris.  Daarby is een van die tradisies dat die Jode geleer word om elke keer dat Haman se naam genoem word, uit te roep: “Vervloek is Haman!” Elke keer wat Mordegai se naam gelees is, moet hulle uitroep: “Geseënd is Mordegai!” Die voorskrif lui verder, dat daar op dié fees baie wyn gedrink mag word, om die waarheid te sê, soveel wyn, het die rabbi’s gesê, totdat niemand meer die verskil sou ken tussen “vervloek is Haman” en “geseënd is Mordegai” nie.  Kan jy nou meer!

Die boek sluit af met ’n paar verdere mededelings oor Ahasveros se regering, gekenmerk deur dwangarbeid, asook oor Mordegai se hoë pos, die tweede in bevel onder die koning, soos in die annale van die konings van Medië en Persië aangeteken is: “Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.

Boodskap en betekenis

Die diepste indruk wat die boek op my laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur.  Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in everything that is happening to you.  So respond to everything that happens as if to respond to God’s action” (Responsible Self).  Dit is ’n baie raak beskrywing van wat ons in dié boek Ester aantref, al word God se naam nie een keer eksplisiet genoem nie.

God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend.  Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede  laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28).  Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses.  Ons noem dit God se voorsiening.  Hy IS die voorsienigheid!  Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede!

Die boek leer ons ook hoe EEN persoon ’n verskil kan maak.  Dit is ten diepste wat leierskap is, die besluit om ’n verskil te maak en dit uit te voer al bars die bottel.  God gebruik ons waar ons is, al is ons alleen.  Dit help natuurlik om ’n ondersteuningsnetwerk te hê soos Mordegai dit vir Ester is.  En daar is dinge wat Ester kon doen, wat Mordegai nie kon nie en omgekeerd. Maar een mens wat doen wat God vra, wat met oorleg en wysheid optree en nie terugdeins van die verantwoordelikheid om dit te doen nie, maak ’n groot verskil, veral waar dit gedoen word in vertroue op die Here.  Sela!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar