PSALM 51:1-11

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 51:1-11

Weereens lees ons dit in die konteks van die hele Psalm.

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. 2 Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het. 

3 Wees my genadig, o God, 

volgens u troue liefde; 

wis my oortredings uit 

volgens u groot ontferming. 

4 Was my heeltemal skoon van my sondeskuld 

en reinig my van my sonde 

5 want ek is deeglik bewus 

van my oortredings 

en my sonde is voortdurend voor my. 

6 Teen U, teen U alleen, het ek gesondig 

en gedoen wat verkeerd is in u oë,

sodat U gelyk sal hê 

as U uitspraak lewer, 

volkome reg wanneer U oordeel.

7 Kyk, in sondeskuld is ek gebore, 

sondig toe my moeder 

met my swanger geraak het. 

8 Kyk, getrouheid verwag u reeds 

in die moederskoot,

in die verborgenheid leer U my wysheid. 

9 Neem my sonde weg met marjolein

sodat ek rein kan wees, 

was my, dan sal ek witter as sneeu wees. 

10 Laat my weer uitroepe 

van vreugde en blydskap hoor; 

laat die gebeente 

wat U verbrysel het, juig. 

11 Sluit u oë vir my sonde, 

en al my sondeskuld, wis dit uit! 

12 Skep ‘n rein hart vir my, o God, 

vernuwe ‘n bestendige gees 

in my binneste. 

13 Moet my tog nie wegdryf 

uit u teenwoordigheid nie; 

en moet u heilige Gees 

nie van my wegneem nie. 

14 Laat my weer die vreugde 

oor u verlossing ervaar, 

laat ‘n gewillige gees my ondersteun. 

15 Ek wil oortreders u paaie leer, 

dat sondaars na U kan terugkeer. 

16 Red my van bloedskuld, o God, 

God wat my verlos, laat my tong 

juig oor u geregtigheid. 

17 My Heer, maak my lippe oop 

en my mond sal u lof verkondig. 

18 U vind immers geen vreugde 

in slagoffers nie, 

anders sou ek dit gee; 

brandoffers aanvaar U nie. 

19 Offers aan God is ‘n gebroke gees, 

‘n gebroke en verpletterde hart 

sal U, o God, nie minag nie. 

20 Doen volgens u wil goed aan Sion, 

herbou die mure van Jerusalem. 

21 Dan sal U vreugde vind in offers van geregtigheid – 

brandoffers en volledige offers – 

Dan sal daar op u altaar 

jong bulle geoffer word. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Psalm 51 is die bekendste van die sogenaamde boetepsalms in die Psalmboek (Ps 6; 32; 38; 51; 102; 130; 143).  Dit word gekoppel aan Dawid se reaksie op die profeet Natan se veroordeling van sy owerspel met Batseba en die verraad teen haar man Urija wat tot sy dood gely het (2 Sam 11-12) soos vers 1-2 uitspel.  Maar die betekenis hiervan is vir alle tye en in alle situasies waar om vergifnis en herstel gebid word.

Die Psalm kan op verskillende manier ingedeel word.  Vers 1-2 is duidelik ’n inleiding en vers 20-21 ’n verdere stukkie kommentaar.  Die hart van die Psalm lê in die gebed van vers 3-19 wat volgens die inhoud daarvan in twee breë kategorieë verdeel kan word wat ook die boodskap van die Psalm die beste beskrywe:

  1. Gebed om vergifnis – vers 3-11;
  2. Gebed om herstel – vers 12-19.

Die laaste 2 verse, vers 20-21, se verwysing na die herbou van die mure van Jerusalem en die hervatting van die offerkultus kan moontlik metafories bedoel wees, maar is meer waarskynlik in die na-ballingskap tydvak bygevoeg. Dit gee aan die Psalm ’n gemeenskapsbetekenis wat die persoonlike betekenis daarvan uitbrei en afrond.

Gebed om vergifnis – vers 3-11

Met die inleidende sin, “Wees my genadig, o God …” begin hierdie Psalm met die diepste nood van sondaarmense, die behoefte aan ’n herstelde verhouding met God.

Die basis van sy gebed om vergifnis word in God se troue liefde (hesed) en groot barmhartigheid (compassion) gevind (vers 3).  Die woord wat vir barmhartigheid gebruik word, ragamîm, kan op verskillende maniere verklaar word.  Een van die moontlike verklarings is dat die woord die intensiewe vorm is van die woord vir baarmoeder (rêgêm). Dit gee die betekenis aan die woord van die gevoel wat ’n ma vir haar ongebore kind het.  Om vir God om barmhartigheid te vra, beteken dus volgens dié verklaring dat ’n mens van God vra dat Hy met dieselfde liefde as ’n ma vir haar ongebore kind teenoor jou sal optree.  Nogal iets om oor na te dink in jou meditasie oor dié teks!

Die gebed om God se genade (vers 3) is ook die tipe gebed wat die tollenaar in die tempel gebid het: “O God, wees my, sondaar, genadig” (Luk. 18:13).  Waarop Jesus opgemerk het dat die tollenaar – eerder as die Fariseër wat op homself en sy nakoming van die wet  in terme van die 7de-9de gebod staatgemaak het en op ander neergesien het – genade gevind het by God en huis toe gegaan het as iemand wie se saak met God reg is.  Let op dat die Fariseër juis dié gebooie aanhaal wat Psalm 50 (vers 16-20) as sonde uitwys, maar dat dit hom nie red van Jesus se oordeel nie.  Hy begryp nie dat hy nie homself in die laaste instansie kan regverdig voor God nie en steeds die genade van God nodig het, soos ons almal.  Selfs Dawid, die koning na God se hart, het immers genade nodig gehad, soos Psalm 51 dit vir ons uitspel.

Die gebed in vers 3, “wis my oortredings uit” vra waarskynlik dat God Dawid se oortredinge uit God se boek oor Dawid se doen en late sal uitvee en die gebed in vers 4, “was my skoon van my skuld” na die reiniging van Dawid se binnekant, soos hy in vers 8 weer sal herhaal.  Dawid wil dus hê dat die bewussyn van sy sonde beide uit God se hart, sowel as uit sy eie hart, sal verdwyn.

Let op hoe duidelik Dawid bewus is daarvan dat sy sonde ten diepste teen God is: “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë”, (vers 6), selfs al was dit primêr gerig teen sy naaste.  Hy erken daarom ook dat God se oordeel oor hom regverdig is, soos aanvanklik aan hom oorgedra deur die profeet Natan.

Terloops, Paulus gebruik in sy brief aan die Romeine hierdie vers, “U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig“, om God se regverdige oordeel oor alle mense te bevestig: “Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ’n leuenaar, soos daar geskrywe staan: ‘U is regverdig wanneer U uitspraak doen en U wen U saak wanneer U aangekla word.’”

Dawid openbaar hiermee ’n diep stuk wysheid, soos Spreuke 28:13 dit ook het:  “Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.”  Maar, Dawid gaan nog dieper en verklaar dat hierdie sonde deel van sy menswees is (vers 7).  En daarvan kan ’n mens net verlos word deur God se genade.

Hierdie verklaring van Dawid is tradisioneel met die leerstuk van die erfsonde uitgedruk.  Let op dat hy die ”erfsonde” nie net as ’n persoonlike werklikheid en skuld van homself as mens uitdruk nie (“Ek was al skuldig toe ek gebore is”), maar ook as ’n sosiale werklikheid (“met sonde belaai toe my moeder swanger geword het”).  Dawid is gebore as sondaar in ’n wêreld wat ook vol is van sonde en wat op soveel wyses ’n wedersydse impak het op sy werklikheid.  Sonde is dus ook nie net ’n uitsonderlike gebeurtenis nie, soos in die sonde met Batseba te siene is nie, maar kenmerk sy mensheid van die begin af sowel as die mensheid van sy gemeenskap, veral in die verbreekte verhouding met God (vers 6) wat in houdings en gedrag teenoor die naaste gesien kan word (vers 1-2). 

Lees ook hierdie beoordeling van menswees in die res van die Skrif om die prentjie net meer volledig te kry:

  • “Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge” – God in Gen 8:21;
  • “Wie kan rein uit onrein laat voortkom? Niemand nie!” – Job in Job 14:4;
  • “Hoe kan ’n mens rein wees? Hoe kan ’n sterfling onskuldig wees? As God nie eers die hemelwesens vertrou nie en selfs die hemel nie rein is in sy oë nie, hoeveel minder ’n onrein,verdorwe mens wat boosheid indrink soos water?” – Elifas in Job 15:14-16;
  • “Hoe kan ’n mens reg hê voor God?  Hoe kan iemand wat uit ’n vrou gebore is, onskuldig wees? As vir God selfs die maan nie helder is nie  en die sterre nie blink genoeg nie, hoeveel te minder ’n mens,  ’n blote wurm, ’n mensekind, wat maar net ’n ruspe is?” – Bildad in Job 25:4-6;
  • “Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie!” – Dawid in Ps. 143:2;
  • “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” – Jesus in Joh. 3:6.

Gebed om herstel – vers 12-19

Hierteenoor word die wonder van God se betrokkenheid by mense reg van die begin van hulle bestaan natuurlik ook reg deur die Bybel erken.  Ons lees dit op ’n hele paar plekke:

  • “U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder. Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God.” – Dawid in Ps 22:10-11;
  • “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” – Dawid in Ps 139:13–16;
  • “Het U my nie soos botter berei, soos kaas gevorm nie? U het vir my vel en vleis gegee,U het my bene en senings aanmekaargeweef. U het my die lewe gegee en my met liefde versorg, met sorg het U oor my gewaak.” – Job in Job 10:10–12.

Dit vorm dus die agtergrond vir die gebed om herstel wat Dawid in die tweede deel van die Psalm van God vra.  Net soos die sonde van die begin af ’n woord in mense se lewe spreek, só doen God dit immers ook.  En dít is waarvoor Dawid vra, dat God diep in sy binneste weer vir hom God se wil sal bekend maak, hom opregtheid diep in sy hart sal gee (vers 8).  Soos Peterson in The Message vertaal: “Enter me, then; conceive a new, true life.”  Die Century Version vertaal vers 8 só: “You want me to be completely truthful, so teach me wisdom.”

Daarmee erken Dawid dat opregtheid (waarheid) ’n gawe is, dat die vermoë om te doen wat God wil, ’n werk is wat Hy doen binnekant ons.   Let op dat hy vra dat God die sonde weg sal neem (vers 9 – vgl. ook Jes. 1:18 vir dieselfde metafoor van “witter as sneeu”), waarmee hy waarskynlik vir meer vra as maar net dat die sonde met Batseba weggeneem sal word.  Hy wil van sy sondigheid verlos word, iets wat eers in Christus Jesus regtig volledig moontlik geword het.

Hy wil weer die blydskap en vreugde van God se teenwoordigheid geniet deurdat God aan die eenkant nie meer ag slaan op sy sonde en skuld nie (vers 11), maar aan die ander kant ook ’n rein hart, nuwe gees en standvastige self vir hom sal gee (vers 12).  Dawid gebruik die woord “skep” waarmee hy in Skeppingstradisie taal skryf oor God se hernuwende werk in hom.  Dit verbind hy dan ook aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat hy pleit nie van hom weggeneem sal word nie.  Terloops: die verwysing na die Heilige Gees kom net nog 2 keer in die OT voor (Jes 63:10, 11).  Neh. 9:20 praat ook van die Goeie Gees, maar in die res van die OT word net die woord Gees, sonder byvoeglike naamwoorde, gebruik.

Dán sal Dawid God weer met toewyding kan dien (vers 14) en sal hy ander oortreders kan leer wat God van ’n mens verwag, wat hy opsom met die woorde: ”dat die sondaars hulle tot U sal bekeer” (vers 15).  Vergifnis lei tot bediening!  Die lof waarvan Psalm 50 gepraat het, sal dan weer deel van sy lewe word (vers 16).  Let ook op hoe hy Psalm 50 ook eggo in vers 18-19, dat offers nie soseer is wat God wil hê nie, maar dan in die lig van sy ervaring iets by die eis tot lofprysing in Psalm 50 sit, die eis van God vir ’n hart wat vol ootmoed en berou is.  Dít is iets wat God nie gering sal ag nie.

Gebed vir Sion – vers 20-21

Die Psalm sluit met ’n gebed vir Sion dat hulle God se liefde en goedheid weer sal ondervind veral in die herbou van die mure van Jerusalem.  Daarmee sal die tempeldiens weer herstel kan word, waaruit ’n mens kan aflei dat dié twee verse later in die tyd na die ballingskap bygevoeg is by die Psalm.  Die byvoeging is teologies egter baie belangrik, omdat dit keer dat sondebelydenis en vergifnis net persoonlik verstaan word.  Sondebelydenis en vergifnis is ook ’n sosiale- en gemeenskapswerklikheid.

Boodskap en betekenis

Gebruik die Psalm as jy die Here om vergifnis en herstel wil vra. Jy kan dit vir enige sondeskuld gebruik. Onthou die twee kante van só ‘n gebed. Die gebed om vergifnis (vers 3-11) en die gebed om herstel (vers 12-19). Sonde is ten diepste ’n oortreding teen God en sy wil vir die lewe is. Dit kom uit die diep ingebore sondigheid van die mens. En dít is waar Dawid vir verandering vra, dat God diep in sy binneste weer vir hom God se wil sal bekend maak, hom opregtheid diep in sy hart sal gee. Soos Peterson in The Message vers 8 vertaal: “Enter me, then; conceive a new, true life.” Hoe mooi is vers 12-14 dan nie: “Skep ‘n rein hart vir my, o God, vernuwe ‘n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u Heilige Gees nie van my wegneem nie. Laat my weer die vreugde oor u verlossing ervaar, laat ‘n gewillige gees my ondersteun.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: