EFESIËRS 4:25-5:2

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

EFESIËRS 4:25-5:2

Vermanings oor die alledaagse lewe 

4:25 Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. 26 Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. 27 Moenie vir die Duiwel plek gee nie. 28 Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. 29 Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. 30 En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. 31 Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. 32 Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.

5:1 Volg dan die voorbeeld van God a as geliefde kinders, 2 en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as ‘n offergawe aan God, as ‘n offerande met ‘n aangename geur.

3 Maar, soos dit heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie, 4 ook nie van skandelikhede en dwase of lawwe praatjies, wat alles onvanpas is nie, maar eerder van danksegging. 5 Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard – so iemand is ‘n afgodedienaar – het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Paulus beweeg nou in hoofstuk 4 en 5 van die beskrywing van hoe die kerk behoort te werk, na hoe hulle lewens behoort te werk.  En in drie perikope beskryf hy hoe dié lewe daar moet uitsien: 1) ‘n heilige lewe – 4:17-24; 2) ‘n lewe in liefde – 4:25-5:5; 3) vervul met die Heilige Gees – 5:6-20 (ons lees dit volgende week).

‘n Heilige lewe – 4:17-24

Dit is interessant vir my dat Paulus se appèl op ‘n heilige lewe (vers 24) gebaseer is op wat God reeds vir hulle gedoen het (vers 20), en wat in die kerk se groei na Christus toe geïllustreer word (vers 15-16).

Paulus sê nie vir hulle: kry julle lewens reg sodat julle deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges kan word nie.  Hy sê in teendeel: julle is deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges – tree dan op as mense van wie dit waar is.  Dit is ómdat ons die Here leer ken het, en ómdat ons in ‘n gemeenskap van gelowiges tereg gekom het, dat ons eintlik nie anders kan as om regtig te breek met die ou sondige mens in ons, en ons gees en gedagtes nuut kan word.

‘n Lewe in liefde – 4:25-5:5

Paulus brei hier uit op hoe só ‘n lewe lyk.  En hy fokus op baie praktiese aspekte:

  • Om die waarheid te praat, veral omdat ons een familie is (vers 25);
  • Om nie te sondig as jy kwaad raak, en veral nie lank kwaad te bly nie (vers 26-27);
  • Om hard te werk sodat jy iets het om die armes mee te dien (vers 28);
  • Om opbouende gesprekke te voer (vers 29);
  • Om die Heilige Gees toe te laat jou lewe te beheer (vers 30);
  • Om niks te doen wat sleg is nie (vers 30);
  • Om goedgesind en hartlik te wees (vers 32);
  • Om in liefde te lewe, soos God dit vir ons ‘n voorbeeld gegee het (5:1-2);
  • Om soos heiliges (dit is die Griekse woord wat met gelowiges vertaal is) te lewe (5:3-5).

Boodskap en betekenis

Ons roeping om as nuwe mense te lewe wat na die beeld van God geskep is, begin by ons insluiting in die liggaam van Christus, iets wat God in ons lewens bewerk het. En dit help my verstaan dat veroordeling van mense vir hulle onkunde of selfs losbandigheid (vers 19) nie help nie, want daardeur druk jy mense weg van presies die plek waar hulle kennis en genesing kan kry.  Wat wel ongelooflik belangrik is, is dat ons ‘n ernstige beroep op mense kan maak (wat onkundig  of losbandig lewe)  dat hulle moet optree soos hulle Christus leer ken het, en moet breek met dít wat na regte agter hulle lê.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d