Skip to main content

PSALM 130

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 130

1 ‘n Pelgrimslied. 

Uit die dieptes roep ek na U, Here.

2 My Heer, hoor tog my stem, 

laat u ore aandagtig luister na my smeekbedes. 

3 As U sondeskuld toereken, Here – 

my Heer, wie kan dan staande bly? 

4 Maar by U is daar vergifnis, 

sodat U ontsag afdwing. 

5 Ek wag op die Here; my hele wese wag, 

en op sy woord vestig ek my hoop. 

6 My hele wese wag op my Heer, 

meer as wagte op die môre, 

ja, wagte op die môre. 

7 Israel, vestig jou hoop op die Here; want by die Here is troue liefde, 

by Hom is volkome bevryding. 

8 Dit is Hy wat Israel bevry 

van al sy sondeskuld. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Ek onthou só goed die woorde waarmee Totius dié Psalm geskryf het:

“Uit dieptes, gans verlore,

van redding ver vandaan,

waar hoop se laaste spore

in wanhoop my vergaan;

uit diep van donker nagte

roep ek, o Here, hoor,

en laat my jammerklagte

tog opklim in u oor.”

As kind het dié woorde sowel as die melodie my hart geroer en geïnspireer om selfs in die moeilikste omstandighede – “waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan” – tóg die Here aan te roep en op Hom te vertrou. Dit is juis wanneer dit voel asof die diep waters jou insluk en jy dreig om weg te sink dat hierdie gebed uit ‘n mens geskeur word in die hoop dat Iemand sal hoor.

En dít is presies wat die pelgrims met dié lied bely en gesmeek het. Soos Psalm 119 bely het dat God se Woord ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet is – dat ons na Sy stem luister – só maak Psalm 130 staat op die feit dat God ook na ons stem luister, dat ons woord aan Hom vir ons vergifnis, ‘n antwoord en bevryding sal inhou.

VERGIFNIS: Want, inderdaad, wie kan staande bly as die Here nie met sy vergifnis ons sondeskuld uitwis nie? Die Psalmis bely dat ons nie ‘n intrinsieke aanspraak op die Here het, asof ons Hom kan dwing nie. Ons kan immers nie ons goeie dade teen ons bose dade laat opweeg en ongeskonde ander kant uitkom nie. Ons het nodig dat die Here eenvoudig ons skuld uitwis, soos Hy in Jesus aan die kruis gedoen het. Ons kan ons net verlaat op die genade van die Here.

ANTWOORD: Soms is ons behoefte nie aan vergifnis nie, maar aan ‘n woord van hoop, ‘n woord wat klaarheid in ons binneste sal bring, wat vir ons die pad vorentoe sal aandui. Die Psalmis wag met sy hele wese daarna, soos wat die wagte uitsien na die môre, ja, soos wagte na die môre.

BEVRYDING: Die fokus skuif weg van die persoonlike behoefte aan vergifnis en ‘n antwoord na die gemeenskap se behoefte aan bevryding. Die Psalmis vestig die pelgrims se aandag op die Here se troue liefde en nooi hulle uit om hulle hoop op Hom te vestig vir bevryding, selfs al gaan hulle gebuk onder sondeskuld. Die Here het die vermoë – en die liefde! – om in oorvloed te bevry.

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm laat dus die behoefte van die gelowige en die geloofsgemeenskap oor mekaar skuif, want die een kan eintlik nie sonder die ander nie. Verandering kom wanneer God sentraal staan in beide jou eie lewe as in dié van jou geloofsgemeenskap. Bid dus vandag met volle oorgawe vir jouself sowel as vir die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is. En vestig jou vertroue volledig op die troue liefde van die Here. Hy sal vergewe. Hy sal ‘n antwoord gee. Hy sal bevry.

Bonus: Martin Luther het dié Psalm in 1523 berym: “Aus tiefer Noth schrei ich zu dir“. Hy het dit ‘n Pauliniese Psalm genoem weens die wyse waarop oor die inhoud van vergifnis daarin gepraat word. Hy het dit baie keer self gesing in situasies van aanvegting en by sy begrafnis in 1546 is dié Psalm ook gesing.

Dit is deur Catherine Winkworth as volg in 1863 vertaal:

“Out of the depths I cry to Thee;

Lord, hear me, I implore Thee!

Bend down Thy gracious ear to me;

I lay my sins before Thee.

If Thou rememberest each misdeed,

If each should have its rightful meed,

Who may abide Thy presence?

Thou grantest pardon through Thy love;

Thy grace alone availeth;

Our works could ne’er our guilt remove;

Yea, e’en the best life faileth.

For none may boast himself of aught,

But must confess Thy grace hath wrought

Whate’er in him is worthy.

And thus my hope is in the Lord,

And not in my own merit;

I rest upon His faithful Word

To them of contrite spirit.

That He is merciful and just,

Here is my comfort and my trust;

His help I wait with patience.”

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…