Skip to main content

HEBREËRS 9:24-28

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HEBREËRS 9:24-28

CHRISTUS SE VOLMAAKTE OFFER

23Dit was dus nodig dat die afbeeldings van wat in die hemele is, deur hierdie dinge gereinig word – maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Want Christus het nie ‘n mensgemaakte heiligdom, ‘n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn; 25ook nie sodat Hy Homself herhaaldelik sou offer nie – anders as die hoëpriester, wat jaar ná jaar in die Heilige met ‘n ander se bloed ingaan – 26aangesien Hy dan dikwels, van die grondlegging van die wêreld af, sou moes ly. Maar nou, by die volheid van die tye, het Hy eens en vir altyd verskyn om met sy offer die sonde ter syde te stel. 27En net soos dit bestem is vir mense om slegs een maal te sterf, en daarna kom die oordeel, 28so sal •Christus, nadat Hy eenmalig geoffer is om die sondes van baie te dra, ‘n tweede maal verskyn aan hulle wat Hom verwag, nie weens sonde nie, maar om hulle te verlos.

Teks en konteks

Die skrywer kom nou by die derde gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap:

  • Benewens die feit dat Jesus in die eerste plek tussen ons en God staan as Middelaar om ons met Hom te versoen (Hebr. 8:1-13),
  • benewens die feit dat Hy in die tweede plek ons gewete reinig van dooie werke om die lewende God vandag te dien (Hebr. 9:1-22),
  • verskyn Hy in die derde plek in die hemelse heiligdom voor God ter wille van ons totdat Hy weer kom om ons te verlos (Hebr. 9:23-10:18). 

En dít doen Hy vir ewig.

Die skrywer spel hierdie derde gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap in twee perikope uit:

  • Jesus reinig die hemelse heiligdom deur sy bloed – 9:23-28
  • Jesus maak ons heilig eens en vir altyd – 10:1-18 (ons lees dit volgende week)

9:23-28 – Jesus reinig die hemelse heiligdom deur sy bloed

Let op dat sonde hier nie net as iets geteken word wat ’n effek op die sondaar en sy gemeenskap het nie, maar dat dit inderdaad ’n invloed in die hemel gehad het.  Sonde het ’n wig ingedryf tussen ons en God, want dit het sy verhouding met ons besoedel.  Daarom was dit nodig dat Jesus ’n offer bring wat die afstand tussen God en ons kon oorbrug, en so “die sonde ter syde te stel”, waarna Hy die voorreg kon benut om “nou ter wille van ons voor God te verskyn”.

Dít kon die aardse rituele van die aardse heiligdom nooit regkry nie, want dit het beperkinge in terme van ruimte en tyd gehad.  Dit was uiteraard aardsgebonde, maar ook lewensduurte gebonde – die hoëpriesters het immers almal gesterwe!  Jesus daarenteen is die Een wat ewig lewe.  Met Sy kruisdood, opstanding en hemelvaart het Hy die hemelse heiligdom gereinig en God se guns vir mense verwerf.  Met Sy wederkoms sal Hy die proses voltooi, waarmee ons, wat Hom verwag, nie maar net van ons sondes bevry sal word nie – Hy het immers reeds daarvoor gesorg – maar volkome verlos sal word (9:28).

Boodskap en betekenis

Die werk van Jesus Christus in elkeen van ons se lewe is van onskatbare waarde.  Dit omvat ons hele lewe.  Daar is niks waarvoor Jesus nie verantwoordelikheid vat in ons lewe nie:

  • Jesus het afgehandel met ons verlede deur ons met God te versoen (Hebr. 8).  Ons kan daarop staatmaak!
  • Jesus stel ons in staat om God te dien vandag, omdat ons gewete gereinig is en ons sonder skroom voor God kan staan (Hebr. 9).  Al wat nodig is om die waarde hiervan te geniet, is om ons skuld voor Hom te bely en sy belofte om ons gewete te reinig, vir onsself toe te eien en God dan met alles in ons te dien (vgl. ook 1 Joh. 1:9: “As ons ons sondes erken – Hy is getrou en regverdig en daarom sal Hy ons ons sondes vergewe en ons van alle kwaad reinig.”).
  • Jesus neem verantwoordelikheid vir ons toekoms deurdat Hy 1) vir altyd voor God verskyn ter wille van ons en 2) ons heilig maak eens en vir altyd (Hebr. 10).  En daarmee sal Hy nooit ophou nie, totdat Hy weer kom ons te verlos en Hy ons aan God bekend sal stel met die woorde: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” (Hebr. 2:13).

Dít is natuurlik ook waarom ons niks anders as Hy nodig het nie.  Jesus is genoeg.  Hy handel met verlede, hede en toekoms.  Jesus is meer as genoeg.  Hy sal ons nooit in die steek laat nie.  Hy sal ons verlos.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda