Skip to main content

JOHANNES 17:6-19

Ons lees hierdie week die vier tekste wat vir Sondag 16 Mei in die RCL gebruik word.

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOHANNES 17:6-19

Ons lees die teks in sy volle konteks in hoofstuk 17.

1 Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë na die hemel opgerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik –

2 net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.

3 En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus. 4 Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen. 5 En nou, Vader, verheerlik My by U met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.

6 “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam. 7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. 8 Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee, en hulle het dit aanvaar en werklik besef dat Ek van U af gekom het. En hulle het geglo dat U My gestuur het.

9 “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10 En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne, en in hulle is Ek verheerlik. 11 Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld, en Ek kom na U. Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees. 12 Toe Ek by hulle was, het Ek hulle wat U aan My gegee het, in u Naam bewaar. Ek het hulle ook beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.

13 Maar nou kom Ek na U. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek in die wêreld is, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. 14 Ek het aan hulle u woorde gegee; maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. 16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 17 Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid. 18 Net soos U My in die wêreld ingestuur het, so het Ek ook hulle in die wêreld ingestuur. 19 En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan wees.

20 “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, 21 dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22 En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: 23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het.

24 Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het. 25 Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle weet dat U My gestuur het. 26 En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” (Die Bybel 2020-vertaling ).

Teks en konteks

Dit tref mens dat hierdie gebed in Johannes eintlik die rol inneem van die gebed wat Jesus in Getsemane gebid het, en waar sy dissipels nie wakker kon bly nie. Dit is sy finale aardse gebed (en lering) vir die dissipels.

Hierna sou Hy as Hoëpriester hemelse gebede bid vir hulle (Hy is daar ons Voorspraak – 1 Joh 2:1; Hy leef daar vir altyd om vir ons in te tree – Hebr 7:25; Hy pleit daar vir ons [nes die Gees in ons harte] waar Hy sit aan die regterhand van God – Rom 8:34).

Die inhoud van hierdie gebed is net so omvattend soos die Ons Vader wat Jesus aan sy dissipels geleer het.

Die gebed vertoon die volgende drieledige struktuur (Westcott) wat interessante ooreenkomste vertoon met die wyse waarop Aäron sy rol as Hoëpriester gespeel het (doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente – Lev 16:17):

  • Jesus bid vir Homself en die voltooiing van sy roeping: dat God Hom sal verheerlik soos tevore, want Hy het sy taak voltooi (“dit is volbring” – Joh 19:30), om God se woorde aan mense bekend te maak – Johannes 17:1-8;
  • Jesus bid vir die dissipels:
    • Vir die beskerming van die dissipels se onderlinge gemeenskap, sodat hulle net soos Hy en die Vader een kan wees – Johannes 17:9-12;
    • Vir die beskerming van die Bose (soos in die Ons Vader) deurdat hulle toegewy bly aan die waarheid van God se woord, al erken Jesus dat Judas verlore is soos die Skrif voorspel het (Ps 41:10) – Johannes 17:13-19;
  • Jesus bid vir die kerk:
    • die eenheid van al die gelowiges wat deur die dissipels se werk tot geloof in Jesus sal kom, as ’n verdere getuienis aan die wêreld – Johannes 17:20-23;
    • Jesus bid vir ’n hereniging met die gelowiges dat hulle Sy ware heerlikheid kan sien en Sy liefde volkome in hulle kan bly – Johannes 17:24-26.

Let op dat die ewige lewe hier nie soseer op die hemel as sodanig dui nie, ook nie op ’n tydloosheid nie, maar op ’n onbelemmerde verhouding met God.

Let ook op dat die eenheid tussen gelowiges gehandhaaf moet word in die midde van die eksterne aanvalle van die Bose en die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie.

Boodskap en betekenis

Dit bly die primêre Skrifgedeelte wat die eenheid van die gemeenskap van gelowiges as ’n fundamentele waarheid beskryf, wat altyd ’n aanmoediging sal bly om waar daar skeuring is, alles in ’n mens se vermoë te doen om die eenheid te herstel.

Paulus sou ook baie tyd aan hierdie gedagtes spandeer en dit verder uitspel (1 Kor 12-14; Ef 3-4). Ook Petrus (1 Pet 2:1-10). Dit is uiteraard ‘n eenheid wat net in die waarheid gestalte kan kry – Jesus bid immers hier dat ons deur die waarheid geheilig sal word – maar steeds iets wat vir almal wat in die waarheid wandel, geldig bly.

Hierdie gebed is daarom die lewende testament van Jesus. Hy bid vir en werk vir eenheid, ’n eenheid presies soos Hy dit met die Vader en die Gees beleef. Niks minder as dit kan ooit ons doelwit en passie bly nie.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda