EFESIËRS 2:11-22

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

EFESIËRS 2:11-22

Eenheid in Christus 

11 Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. 12 Onthou dat julle in daardie tyd sonder Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13 Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom d deur die bloed van Christus. 14 Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. 15 Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, 16 en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. 17 En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. 18 Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees. 

Een bouwerk van God 

19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges , en lede van die huisgesin van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. 21 In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. 22 In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees. (2020-vertaling).

Teks en konteks

Uit die gesprek en gebed van hoofstuk 1 trek Paulus nou vier gevolgtrekkings in hoofstuk 2-3 wat hy met ‘n verskeidenheid beelde inkleur. ‘n Mens kan dit so opsom:

  1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – Ef. 2:1-10;
  2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Ef. 2:11-18;
  3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Ef. 2:19-22.
  4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – Ef. 3:1-13

Hy sluit dié gevolgtrekkings af met een van die mooiste gebede in die Bybel – Ef. 3:14-21 – waarin hy vra dat hierdie hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Efesiërs 2:11-18

Paulus kontrasteer hier die “onbesnedenes” – dit is dié nie-Jode wat nie in God geglo het nie – met die “besnedenes” – dit is die Jode wat deel van die Godsvolk was. Christus het die vyandskap wat tussen dié twee groot groepe bestaan het, afgebreek soos ’n mens ’n muur sou afbreek. Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

Let op dat die mikpunt van hierdie eenheid die onbelemmerde vrye toegang tot die Vader is deur die werk van die een Gees.

God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Efesiërs 2:19-22

Paulus gebruik 5 beskrywings van hierdie gemeenskap van gelowiges:

  1. medeburgers,
  2. huisgesin,
  3. gebou,
  4. tempel,
  5. woonplek van God deur die Gees.

Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring. Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel. Let op dat die gemeenskap van gelowiges nou die tempel is, en nie ’n kerk nie.

Boodskap en betekenis

Wat my besonderlik tref is dat Paulus hier skryf dat die gemeenskap van gelowiges ’n plek word waar God woon deur sy Gees. Soos Hy vir ons ’n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ’n plek by ons, in ons teenwoordigheid. En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word). Die kerk, as liggaam van Christus, is in ’n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen 1:26). ’n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor leef nie, mis sy doel.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: