Skip to main content

JAKOBUS 1:17-27

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JAKOBUS 1:17-27

Ek gee weer ‘n bietjie breër konteks ter wille van die vloei van Jakobus se argument.

BEPROEWING EN VERSOEKING

12Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. 13Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. 15Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.

GOEIE GAWES VAN GOD

16Moenie mislei word nie, my geliefde broers. 

17Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. 18Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees.

OM TE HOOR EN TE DOEN

19Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. 20Want die woede van ‘n mens bewerk nie geregtigheid voor God nie. 21Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle siele te verlos. 22Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. 23Want wie ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. 24Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. 25Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener. 26As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ‘n mens se godsdiens is vergeefs. 27Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou. (2020-vertaling)

Teks en konteks

1:12-18 – Die verleiding van beproewings en versoekings versus God se gawes

In hierdie gedeelte is God se voorsiening in die gedrang.  Dit is ook die tema wat die gedeelte saamsnoer.

  • Aan die een kant bring volharding in beproewings ’n groot seën.  Sulke gelowiges ontvang die kroon van die lewe as hulle die toets deurstaan.  Dit het hy reeds in vers 2-4 beklemtoon.
  • Aan die ander kant kan versoekings gelowiges verlei om God daarvoor te verkwalik, terwyl versoeking eintlik net vanuit jou eie begeertes na vore kom.  As ’n mens boonop daarop reageer, bring dit die sonde voort en kan dit jou dood kos.  Die skuld daarvoor kan nie voor die deur van God gelê word nie.

Daarom beklemtoon Jakobus dat God se gawes daarteenoor ’n hemelse karakter het en ons ’n uitkoms gee.  Hy help ons om nie af te wyk van sy wil nie.  Daarom moet ons nie mislei word nie en leef as sy skepsels wat deur sy voorsiening gevoed word, net soos Hy dit aanvanklik by die skepping gedoen het.

Die geheim van volharding in beproewings en versoekings lê in die wag op die geskenke en gawes van God.  Dit is goed en dit is volmaak.  Dit bevat geen donker kante nie en verduister nie jou lewe nie.

As God vrygewig is, as Hy genadig is en as Hy die beste voorsien, veral wanneer mens van hom wysheid vra (Jak. 1:5), dan is dit net logies dat Hy kan verwag dat ’n mens sal doen wat Hy sê.  Die wysheid wat Hy gee, is bedoel vir optrede en gehoorsaamheid.  Ons moet doen wat Hy sê.

Jakobus pas hierdie waarhede van God nou toe op ’n aantal praktiese maniere wat as volg gekategoriseer kan word:

  • Doen wat die woord sê – 1:19-27 (die hart van die gedeelte wat ons vandag lees)
  • Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie – 2:1-12
  • Doen wat jy glo – 2:13-26

Let veral op hoe die twee liefdegebooie – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – verweef word regdeur hierdie gedeelte.  Dit is twee kante van dieselfde munt.

1:19-27 – Doen wat die woord sê

FLINK OM TE LUISTER: Om te kan doen wat die woord sê, moet ‘n mens uiteraard in die eerste plek die woord van God kan hoor.  Hoor gaan doen vooraf.  Dit is waarom Jakobus klem lê op drie dinge: dat ‘n mens 1) “flink (moet) wees om te luister,”2) “stadig om te praat, en 3) “stadig om kwaad te word.”  In alles wat met jou en rondom jou gebeur, moet jy jou dus instel om agter te kom wat aan die gang is, en veral wat die Here besig is om te doen.  In alles is Hy besig om wysheid te gee, uitkoms te gee en sy voorsiening te laat gebeur.  Daarom moet jy nougeset luister en nie te gou wees om te praat nie, en veral nie kwaad te word oor wat gebeur nie

Dit is al manier waarop ons die woord van God “wat in ons geplant is” kan hoor.  ‘n Mens het ore nodig om te luister – dus flink om te luister.  Jy het ‘n wag voor jou mond nodig om genoeg tyd te hê om jou woorde te weeg voor jy dit sê – dus stadig om te praat.  En jy moet veral jou humeur oor en ongeduld met wat gebeur bedwing, sodat jou emosies oor wat gebeur nie God se stem uitdoof en jy uiteindelik net jou eie stem hoor nie – dus stadig om kwaad te word.  God se woorde (wette) word immers in die nuwe verbond in ons harte gegee, en op ons verstand neergeskryf (Jer. 31:33; Hebr. 8:10; 10:16).  Dit veronderstel ‘n innerlike proses wat baie meer subtiel en intuïtief is as iets wat ‘n mens doodgewoon uit die eksplisiete gebeure om jou kan aflei. 

Soms is die luisterproses ook ‘n pynlike proses, want die “woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard.  Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” Alles is immers oop en bloot voor God en dit is aan Hom wat ons ons moet verantwoord (Hebr. 4:12-13).

Oor woede leer Jakobus ons dat dit nie “geregtigheid voor God” bewerk nie.  Dit stel dinge nie reg nie.  Trouens dit vererger meesal dinge.  Daarom is sy raad dat hulle: “in sagmoedigheid afstand doen van alle morele besoedeling en die ongebreidelde kwaad.”  Die bron van die kwaad, hulle sondige natuur, moet afgelê word, sodat hulle (en ander) nie daardeur besoedel en verlei word nie.  Die gevolge daarvan is ongebreideld, d.w.s. dit kan nie beheer word nie.  Soos Paulus aan die Efesiërs skryf: “dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê wat as gevolg van sy drang na dwaling vergaan.  Julle moet eerder deur die aard van julle denke vernuwe word.  Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (Ef. 4:22-24).

Dan sal hulle die “ingeplante woord” van God kan hoor, en dié woord sal hulle red.  Dit is hoe God liefgehê word.

DOEN DIE WOORD: As ‘n mens flink is om te luister, is daar egter nog iets waarop jy moet fokus as jy wil doen wat die woord sê.  En dit is, om die woord in jou lewe toe te pas, om dit prakties uit te voer: “Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.”  Anders is jy soos iemand wat in die spieël kyk, maar weer gou vergeet hoe jy lyk.

Jakobus roep hulle dus op daartoe om hulle te verdiep in die “volmaakte wet van vryheid” en daarby te bly deur dit uit te voer.  God se woord is volmaak en dit maak vry, aan die een kant vry van sonde en aan die ander kant vry om die lewende God te kan dien, en spesifiek in deernis teenoor ander te kan optree, soos in die laaste verse van die perikoop uitgespel word.

Dan sal hulle lewens aan God se standaarde beantwoord.  Dan kom hulle liefde vir God tot sy volle reg.  Hulle sal nie net hulle tong kan beheer nie, iets waaroor hy nog verder gaan uitwy, maar ook kan omsien na mense wat in ellende is, weeskinders en weduwees, wat suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader is.  Dit is deel van hulle liefde vir hulle naaste.

Daarby sal hulle onbesmet deur die wêreldse dinge kan lewe.  Let op dat deernis met behoeftige mense jou in ‘n sekere sin in staat stel om vry van die besmetting van die wêreld te bly, waarskynlik omdat jy dan nie toegee aan die sondige begeerte om net na jou eie belange om te sien nie.  Nogal iets om oor na te dink.  Liefde vir die naaste help jou om lief te bly vir God!

Boodskap en betekenis

Dit is belangrik om Jakobus se beskrywing van God se karakter in dié gedeelte ter harte te neem.  Dit dra die res van die boodskap van hierdie brief.  Drie goed van God staan uit.  God is vrygewig.  God is genadig. God voorsien net die beste.  Daarop kan ons staatmaak.  Daarvoor kan ons bid.  Daarvoor kan ons wag.  Daarmee sal ons die lewe in oorvloed kan geniet!

Maar, dit is net een kant van die munt. Om daardie God te dien, vra van ons ‘n oorgawe aan sy Woord. Om flink te word om te luister; om te doen wat God van ons vra. En dié luister is nie na ons eie idee wat die Woord van ons vra nie. Dit is om die Woord self te gehoorsaam soos God dit vir ons deur sy Gees gegee het.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.