Skip to main content

1 SAMUEL 8:4-11, (12-15) 16-20 (11:14-15)

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 SAMUEL 8:4-11, (12-15) 16-20 (11:14-15)

Lees gerus die hele verhaal van hoofstuk 8 tot aan die einde van hoofstuk 11 vir konteks.

Versoek om ‘n koning 

8:1 Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel. 2 Sy eersgebore seun se naam was Joël en sy tweede seun se naam was Abia. Hulle was rigters in Berseba. 3 Sy seuns het egter nie in sy voetspore gevolg nie. Hulle was uit op winsbejag, het omkoopgeskenke aanvaar en het die reg verdraai. 

4 Al die oudstes van Israel het toe byeengekom en na Samuel in Rama gegaan. 5 Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie. Stel dan nou vir ons ‘n koning aan om ons te rig, soos dit by al die nasies is.” 6 Dit was egter verkeerd in die oë van Samuel dat hulle gesê het: “Gee vir ons ‘n koning om ons te rig.” Samuel het toe tot die Here gebid. 7 Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. 8 Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou. 9 Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer.” 10 Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom ‘n koning gevra het. 11 Hy het gesê: “Dit sal die regte van die koning wees wat oor julle gaan regeer: Julle seuns sal hy vat en hulle vir hom aanstel by sy strydwa en sy span perde. Hulle sal voor sy strydwa uit moet hardloop.

12 Hy sal hulle vir hom aanstel as aanvoerders oor duisend en aanvoerders oor vyftig, om sy ploegland te ploeg, sy oes in te samel en om toerusting vir sy oorloë en vir sy strydwaens te maak. 13 Julle dogters sal hy vat as salfmengers en as kokke en bakkers. 14 Julle beste landerye, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee. 15 Van julle graanoes en  wingerdoes sal hy ‘n tiende vat en vir sy paleisamptenare en dienaars gee.

16 Julle slawe en slavinne, die keur van julle jong manne en donkies sal hy vat en vir sy eie werk gebruik. 17 Van julle kleinvee sal hy ‘n tiende vat. Julle self sal sy slawe wees. 18 Julle sal op daardie dag om hulp roep oor julle koning wat julle vir julle verkies het, maar die Here sal julle op daardie dag nie verhoor nie.” 19 Die volk het egter geweier om na Samuel te luister. “Nee,” het hulle gesê, “maar daar moet ‘n koning oor ons wees! 20 Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer, hy moet voor ons uit trek en ons oorloë vir ons voer.” 

21 Samuel het na al die woorde van die volk geluister en dit aan die Here voorgelê. 22 Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na hulle en stel vir hulle ‘n koning aan.” Samuel het daarna vir die mense van Israel gesê: “Gaan elkeen dan nou na sy stad toe!” 

Herbevestiging van Saul se koningskap 

11:14 Samuel het vir die manskappe gesê: “Kom, laat ons na Gilgal gaan en die koningskap daar herbevestig.” 15 Al die manskappe het toe na Gilgal gegaan en hulle het Saul daar in Gilgal, in die teenwoordigheid van die Here, as koning ingehuldig. Hulle het daar voor die Here maaltydoffers geslag. Saul en al die manne van Israel was baie vrolik daar. (2020-vertaling).

Teks en konteks

1 Samuel 8:1-9:27 vertel ons van drie belangrike bewegings in die lewe van die volk. Hulle beweeg van:

  1. ‘n teokrasie (Goddelike heerskappy) na ‘n monargie (koninklike heerskappy);
  2. van rigters na konings;
  3. van Godsbesit na koningsbesit.

Die aanleidende oorsaak is die feit dat Samuel se seuns nie veel beter vaar as Eli s’n nie, hoewel daar steeds ‘n groot persoonlike onderskeid tussen Samuel en Eli se leierskap was. Dit is ironies dat Samuel se seuns, net soos Eli s’n, hulle vader “opvolg”, maar nie “navolg “nie.

Maar, dit is daarom vreemd dat die volk vir ’n koningshuis gebaseer op oorerflikheid kies, gesien in die lig van hulle slegte ervarings van beide Eli en Samuel se nageslag. Hulle ignoreer ook die waarskuwings rondom die diensplig, dwangarbeid, en belasting waaraan hulle nou blootgestel gaan word.

Die tema van koningskap kom natuurlik van vroeg af voor. Reeds in die Pentateug praat die Bybel daaroor: Gen 17:6,16; 35:11; 49:10; Num 24:17; Deut 17:14–20; 28:36. Die probleem wat Samuel dus het met die volk se versoek, is nie dat daar ‘n koning sou kon kom nie, maar eerder dat die volk dit op hierdie tydstip vir die verkeerde redes wil hê – sodat hulle soos die ander volke kan wees, wat implisiet ‘n verwerping van God se koningskap ingesluit het.

Dit is waarteen beide Samuel en God in opstand kom. God het immers deurgaans met leiers gewerk. Selfs die aartsvaders was leiers van hulle familiegroepe, en Moses, Josua, al die Rigters, en veral Samuel was sterk leiers.

Dit lyk asof Samuel hierdie versoek dus eintlik as ‘n persoonlike belediging opgeneem het. Samuel is egter ’n uitstekende leier, in kontak met die mense sowel as in kontak met God.

Hy waarsku dus die volk oor die gevare van koningskap, maar salf desnieteenstaande uiteindelik die eerste koning, Saul. Hy gehoorsaam God hierin, al stem hy nie saam nie!

Dit tref ‘n mens dat so iets gewoons – soos ‘n klomp donkies wat wegraak – ‘n reeks gebeure aan die gang kan sit wat uitloop op die aanstelling van die eerste koning van Israel, Saul. En darem ironies dat dit die slaaf is wat die drie gram silwer het waarmee hulle die siener-profeet wil betaal! Die slaaf is voorbereid. Saul nie!

En dan op meesterlike wyse lig die skrywer ons in dat Samuel al die tyd geweet het wat gaan gebeur, en gereed was vir die ontmoeting met Saul. Saul se karakter word met ‘n paar pennestrepe getrek, en die prentjie maak gemengde gevoelens by ‘n mens los. Hy blyk nie baie inisiatief aan die dag te lê nie. Hy het nie ‘n groot dunk van homself of sy familie nie – of is dit maar net Midde-Oosterse beskeidenheid? Die verloop van die verhaal sal uitsluitsel gee daaroor.

1 Samuel 10:1-11:15 handel oor Samuel wat Saul as koning salf. Hy bevestig die gesag van sy woorde met ’n paar profesieë. Saul se donkies is gevind. Die mans wat gaan offer het, sal vir Saul van hulle offerandes gee wat sy status as gesalfde sal bevestig, aangesien dit net priesters was wat dit kon eet.

Die finale teken is dat die Gees van die Here oor hom sal kom om hom ’n profetiese funksie te gee. Dit sal hom toerus vir sy taak as koning.

Saul steek aanvanklik egter sy status as koning weg. Dit is eers by Mispa wat die lot gebruik word om God se aanvanklike keuse om Saul as koning te salf, op nóg ’n manier te bevestig.

Onmiddellik is daar volgelinge waarmee die instelling van die monargie gestalte kry. Dit lei tot die verdere bevestiging van sy keuse as koning met sy sukses in die oorlog teen die Ammoniete.

Soos ’n Simson van ouds raak die Gees van die Here oor Saul vaardig en kry hy dit reg om die verskillende stamme agter hom te verenig en ’n grootskaalse oorwinning oor die Ammoniete te behaal.

Let op hoe grootmoedig hy aan die einde daarvan is deur nie op te tree teen dié wat teen sy koningskap gekant was nie. Dit sou egter sy enigste eerbare optrede in sy koningskap wees. Hy is finaal by Gilgal gesalf as koning.

Boodskap en betekenis

Publieke leierskap is dikwels ‘n ramp. Dit geld alle lande, selfs die mees ontwikkelde lande. Daarom gee hierdie gedeelte ons geleentheid om te reflekteer oor leierskap, beide verkose leiers as (self)aangestelde leiers. Hulle gedrag het gevolge vir ander. Hulle volgelinge se reaksie daarop het eweneens ook gevolge.

Uiteindelik sou Jesus vir ons kom demonstreer hoe ware leierskap lyk. Ware leiers dien God en hulle naaste sodat sy wil oral kan geskied. Ware leiers tree op met die gawes en bemagtiging van die Heilige Gees om God se wil in die hele wêreld te vestig.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar