Skip to main content

JOB 1:1; 2:1-10

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

JOB 1:1; 2:1-10

JOB SE TEENSPOED

11In die land Us was daar ‘n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy. 

2Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. 3Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en ‘n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste.

4Sy seuns het die gewoonte gehad om elkeen in sy eie huis, om die beurt, ‘n fees aan te bied. Hulle het dan ‘n boodskap gestuur en hulle drie susters genooi om saam met hulle te eet en te drink. 5Wanneer die feesdae verby was, het Job hulle laat haal en hulle geheilig. Hy het vroeg in die môre vir elkeen van hulle ‘n •brandoffer gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek.Job het dit elke keer gedoen.

JOB SE GELOOFSTOETS

6Toe, op ‘n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom.

7Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” 8Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, ‘n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy.” 9Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Is dit sonder rede dat Job ontsag het vir God? 10Is dit nie U self wat hom en sy huis, en alles wat aan hom behoort, aan alle kante afgeskerm het nie? Sy handewerk het U geseën, en sy veestapel het in die land uitgebrei. 11Maar steek nou net u hand uit en tas alles aan wat aan hom behoort – hy sal U beslis in u gesig vloek.”

12Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, alles wat aan hom behoort, is in jou hand. Net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af.

13Toe, op ‘n dag, terwyl sy seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, 14kom daar ‘n boodskapper by Job aan en sê: “Die beeste was aan die ploeg, en die donkiemerries het langsaan gewei; 15toe loods die Sabeërs ‘n aanval en vat hulle. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”

16Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom ‘n ander een daar aan en sê: “Die vuur van God het uit die hemel geval en die kleinvee en werkers verbrand en verteer. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”

17Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom ‘n ander een daar aan en sê: “Galdeërs het drie eenhede opgestel, ‘n plundertog uitgevoer op die kameeltroppe en hulle gevat. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”

18Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom ‘n ander een daar aan en sê: “U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis, 19toe daar onverwags ‘n sterk wind van die woestyn se kant af kom en die vier hoeke van die huis tref. Dit het op die jongmense ingestort en hulle het gesterf. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”

20Job het toe opgestaan, sy mantel geskeur, sy kop kaal geskeer, op die grond neergeval en in aanbidding gebuig. 21Hy het gesê:

“Naak het ek uit my moeder se skoot gekom,

en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer.

Die Here het gegee

en die Here het geneem.

Mag die Naam van die Here geprys word!”

22Ondanks dit alles het Job nie gesondig nie en aan God niks ongerymds toegeskryf nie.

21Toe, op ‘n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom om sy plek by die Here in te neem. 2Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” 3Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, ‘n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy. Hy volhard steeds in sy onberispelike optrede, al het jy My aangestig om hom sonder rede te laat ondergaan.” 4Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Dit is maar ‘n vel vir ‘n vel. Alles wat aan ‘n mens behoort, sal hy gee in ruil vir sy lewe. 5Maar steek net u hand uit en tas sy beendere en sy vleis aan – hy sal U beslis in u gesig vloek.”

6Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, hy is in jou hand, maar sy lewe moet jy spaar.” 7Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af. Hy het Job getref met dodelike swere, van kop tot tone.

8Job het ‘n potskerf gevat om hom mee te krap, terwyl hy in die as sit. 9Sy vrou het vir hom gesê: “Volhard jy steeds in jou onberispelike optrede? Vloek God, en sterf!” 10Hy het egter vir haar gesê: “Jy praat soos een van die dwase vroue praat. Die goeie wat van God kom, dié aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” Ondanks dit alles het Job nie met ‘n enkele woord gesondig nie.

JOB SE DRIE VRIENDE

11Drie van Job se vriende het gehoor van al die teenspoed wat hom oorgekom het. Hulle het toe van die plekke waar hulle woon, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, op ‘n bepaalde plek byeengekom om met hom meegevoel te gaan betuig en hom te gaan bemoedig. 12Toe hulle van ver af opkyk en hom nie eens herken nie, het hulle hardop gehuil. Hulle het elkeen sy mantel geskeur, en hulle het stof in die lug op gegooi, oor hulle koppe. 13Hulle het saam met hom op die grond gesit – sewe dae en sewe nagte lank. Niemand het ‘n woord met hom gepraat nie, want hulle het gesien dat die pyn ondraaglik erg was.

Teks en konteks

Die verhaal van Job vind waarskynlik plaas in die tyd van die patriarge, Abraham, Isak en Jakob, soos uit die plekname en gebruike in die boek afgelei kan word.  Die boek het waarskynlik eers later tot stand gekom.

Job was egter nie ‘n Israeliet nie, maar van die land Us, ‘n gebied wat óf met die Arameërs in die Noord-ooste (Gen. 10:23; 22:21) óf met die Edomiete (Gen. 36:28) in die Ooste van Israel af verbind word.

Job se vriende was ook nie Israeliete nie.  Elifas was van Teman, ‘n naam wat ook met die Edomiete geassosieer word (Gen. 36:11).  Teman was bekend vir wysheid (Jer. 49:7).  Bildad was van Suag, ‘n naam wat ook met een van Abraham se seuns geassosieer word (Gen. 25:2).  Sofar was van Naäma, ‘n naam wat met die nageslag van Kain geassosieer word (Gen. 4:22) sowel as met ‘n stad in Kanaän (Jos. 15:41).  Dit is ook die naam van Rehabeam se ma, ‘n Ammonitiese vrou (1 Kon. 14:21).

Omdat die plekke nie verder geïdentifiseer word nie, is dit egter moeilik om enige afleidings daaruit te maak, behalwe dat dit waarskynlik met die geskiedenis vóór die totstandkoming van Israel as nasie geïdentifiseer word.

Dit word bevestig deur die vertelling van die mense uit Skeba (waarskynlik Arabiere) wat sy kinders oorval en hulle beroof het (Job 1:15) en die drie groepe Galdeërs (waarskynlik die voorloper stamme wat uiteindelik deel van die Galdeërryk van Nebukadnesar gevorm het) wat die kamele geroof het (Job 1:17 – die Griekse LXX vertaling vertaal dit net met “perderuiters”). 

Dieselfde geld die feit dat Job aan die einde van die boek die offers van sy drie vriende ontvang en vir hulle bid (Job 42:8).  Hy tree dus as priester op waarskynlik vóór die kultus van Israel met die tabernakel en tempel tot stand gekom het.

Dieselfde geld ook sy ouderdom.  Soos die patriarge – hulle het tussen ‘n 100 en 175 jaar oud geword – het hy lank gelewe, meer as ‘n 140 jaar waarin hy die voorreg gehad het om sy latere kinders en kleinkinders tot in hulle vierde geslag te gesien het (Job. 42:16)

Job was aanvanklik baie ryk en ook invloedryk: “Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man”! (Job 1:3).  Ná sy lyding het dié rykdom en invloed egter nog verder toegeneem: “Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste.” (Job 42:12). 

Veral sy drie dogters wat ná sy worsteling gebore is, was merkwaardig.  Nie net word hulle name genoem nie, Jemima, Kesia, Keren-Puk (die seuns se name word verswyg!), en was hulle besonder mooi nie, maar hulle het ook saam met hulle broers geërf, soos die geval later ook was met die dogters van Selofgad, as gevolg waarvan dié reëling in die wet ingeskryf is (Num. 27; 36).

Die boek Job begin in hfst. 1-2 met die vraag na vroomheid in ‘n situasie van verlies.  “Sal Job vroom bly, al word hy sonder rede geruïneer?”  Aanvanklik neem die Satan al Job se goed sonder rede van hom weg (hfst. 1).  Daarna is dit sy gesondheid wat sonder rede van hom af weggeneem word (hfst. 2).

Die antwoord wat in Job se lewe uitspeel, is dat hy vroom bly, selfs al word hy sonder rede geruïneer, en al is hy onbewus van die oorsake van sy ellende.  Job sê oor sy verlies: “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?’  Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.” (2:10).

Die vraag na sy vroomheid in verlies en die antwoord hierop word op dramatiese wyse in vyf tonele in die twee hoofstukke vertel. 

  • Die eerste (1:1-5), derde (1:13-22) en vyfde (2:7-13) tonele beskryf die situasie en ervarings vanuit die perspektief van Job en sy mense
  • Die tweede (1:6-12) en vierde (2:1-6) tonele beskryf die situasie uit die perspektief van God in ‘n gesprek met die Satan.

Job is natuurlik heeltemal onbewus van wat in God se teenwoordigheid gebeur.  Net ons, die lesers, word daaroor ingelig.

Die laaste hoofstuk van die boek vorm eintlik die sesde en sewende toneel van dié vertelling waarin God ná sy openbaring van Homself aan Job (hfst. 38-42:5), die twee perspektiewe bymekaar uitbring.  Hy tree toe tot Job en sy mense se wêreld en gebruik nie net vir Job om versoening vir sy drie vriende te doen nie (42:7-9), maar verander Job se situasie ook totaal.  Job se einde is twee maal beter as sy begin (42:10-17).

Job is vroom en opreg – 1:1-5 – Eerste toneel

Soos ons al gesien het, was Job nie ‘n Israeliet nie, maar van die land Us, ‘n gebied wat óf met die Arameërs in die Noord-ooste (Gen. 10:23; 22:21) óf met die Edomiete (Gen. 36:28) in die Ooste van Israel af verbind word.

Vier eienskappe van Job se lewe word uitgelig: vroom (tâm: pure, perfect, “honest inside and out” – The Message), opreg (jâshâr: right, just, “a man of his word” – The Message), godvresend (jerê’ êlôhîm – “ontsag vir God”), en kwaadafwykend (sâr mêrâc – “wegdraai van die kwaad”).  Die skrywer beskryf sy verlede só (1:1), en God beskryf sy teenswoordige lewe só (1:8).  Sy rykdom en invloed in sy gemeenskap word ook uitgelig.  Hy was werklik ‘n besondere mens – uiterlik en innerlik.

Dis merkwaardig dat die sewe seuns elke dag van die week om die beurt fees gevier het!  Dit is hoe vers 4 verstaan moet word.  Telkens is die drie dogters ook daarheen uitgenooi.  Dit beteken nie dat hulle noodwendig hulle pa se goed deurgebring óf losbandig gelewe het nie.  Hulle het egter die lewe absoluut ten volle geniet.  Elke dag.  Elke week.  Elke maand.  Elke jaar.

Net so merkwaardig is dat Job telkens op die dag na ‘n week van feesvieringe, d.w.s. die Sondag, die eerste dag van die volgende week, vir hulle versoening gedoen het met die brandoffers wat hy namens hulle geoffer het.  Sy kinders se vroomheid en erkenning van God word nie genoem nie.  Hulle plesier in die lewe staan voorop.

Let op dat Job bang was dat hulle die Here sou vloek in hulle gedagtes.  Die Hebreeuse woord bârak word gebruik wat meesal in die betekenis van seën gebruik word, maar in hierdie konteks die betekenis van vloek dra.  Dit is ook die waarskynlike betekenis van dieselfde woord in die mond van die Satan sowel as Job se vrou.

Die Satan is skepties oor Job se vroomheid – 1:6-12 – Tweede toneel

Die “hemelwesens” wat hier genoem word, word in die Hebreeus as “seuns van God” aangedui.  Ons sal hulle weer aantref in Job 38:7.  Dié frase kom ook in Gen. 6:2,4 voor.  Die frase “seuns van …” word hier doodgewoon gebruik om die “hemelwesens” wat aan God behoort, aan te dui.

Interessant genoeg word gelowiges in die NT die “seuns van God” genoem (Luk. 20:36; Rom. 8:14; Gal. 3:26), d.w.s. dié mense op aarde wat aan God behoort – dit sluit uiteraard mans en vroue in.  Dié frase dui op die besondere status van gelowiges.  Dit neem reeds nou ‘n aanvang aan, weens die inwoning van die Gees, maar sal eers in die toekomstige bedeling tot volle openbaring kom.

Die woord satan beteken in Hebreeus teenstander.  Dié betekenis van teenstand word hier beklemtoon deur telkens die lidwoord die saam met die woord Satan te gebruik.  Hoewel die woord later as ‘n eienaam vir die duiwel gebruik word, is dit nog nie hier die geval nie. 

Let op dat die Satan hom – soos die hemelinge – voor God kom stel (1:6; 2:1 – vgl. Sag. 3:1-2).  Hy staan onder verpligting aan God om as’t ware verslag van sy doen en late te doen.  Dié voorreg is hom egter met die koms van Jesus ontneem (Luk. 10:18; Openb. 12:9).

God se beskerming van Job word as volg uitgedruk: “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?” (OAV).  Die prentjie wat dit oproep van God se beskerming, is dat God as’t ware ‘n muur rondom hom en sy mense gebou het om hulle te beskut.

Let op dat die Satan weier om te aanvaar dat iemand vroom kan wees sonder dat dit iets vir hom of haar inhou.  Hy is skepties oor Job se vroomheid en wil hom kwaad aandoen om sy punt te bewys.  Soos Anderson (Job) sê: “The Satan believes nothing to be genuinely good – neither Job in his disinterested piety nor God in His disinterested generosity … cynicism is studied disbelief; and a mind turned in upon its own malice is the final horror of the diabolical.

Vier tragedies tref Job, maar hy deurstaan die toets – 1:13-22 – Derde toneel

Die vier tragedies begin op dié dag wat Job volgens sy gewoonte offers vir sy kinders gebring het, dié dag wat die oudste seun se beurt was om fees te vier.  Dit moes waarskynlik bygedra het tot Job se smart.  Sy offers kon die tragedie nie voorkom nie:

  • Eerstens verloor hy sy osse, donkies en van sy slawe deur die toedoen van die aanvallers uit Skeba, waarskynlik Arabiere.
  • Tweedens verloor hy sy kleinvee en hulle wagters deur ‘n natuurramp, weerlig.
  • Derdens verloor hy sy kamele en die laaste klomp van sy slawe deur drie groepe Galdese aanvallers, waarskynlik die voorloper stamme wat uiteindelik deel van die Galdeërryk van Nebukadnesar gevorm het).  Die Griekse LXX vertaling vertaal dit net met “perderuiters”.
  • Vierdens verloor hy sy kinders, ook deur ‘n natuurramp, waar die wind só sterk gewaai het, dat die huis van alle kante af op hulle ingeval het.  Al tien kinders is dood.

Ons het reeds kennis geneem vanEsegiël 14 se verwysing na Job as voorbidder waarin hy uitgewy het oor die perke van gebed, soos ‘n mens hier pertinent in die lewe van Job agterkom met sy offers.  Dit laat ons besef dat gebed en godsdiens wel noodsaaklik is in ons verhouding met God, maar dat ons gebede en ons godsdiens nie noodwendig die antwoord of uitkoms kan gee wat ons graag wil hê nie.  Die antwoord op ons gebede berus ten diepste op God se keuse.

Onthou ook dat Job nie weet wat tussen God en die Satan gebeur het nie.  Hy is onbewus van die feit dat dit sy vroomheid is wat ironies genoeg die aanleiding vir sy verlies is.  Dit maak sy volharding nog meer merkwaardig, omdat hy ten spyte van sy verlies in sy getrouheid aan die Here volhard.

Let verder op dat Job nie die tragedies verwens, of die persone wat daarvoor verantwoordelik is nie.  Hy verwyt selfs nie die Here nie.  Hy val slegs in aanbidding op die grond en bevestig sy verbintenis aan die Here al gebeur wat ook al: “Die Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloofd!” (OAV).

Job deurstaan dus die hemelse toets, al is die redes daarvoor vir hom verborge: “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.” (OAV).

Sy antwoord kan jou dus motiveer om self te bly volhard in jou vroomheid en verbintenis aan die Here ten spyte van enige verlies wat jy sou ly, selfs al is dit sonder rede.

Job 2 – Job bly vroom, al word hy sonder rede geruïneer

Die Satan bly skepties oor Job se vroomheid – 2:1-6 – Vierde toneel

Job se integriteit blyk intakt te bly.  Tot die Here se vreugde.  Tot die Satan se argwaan.  Let op met hoeveel trots die Here oor Job se lojaliteit praat: “Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.

Let op hoe die Here daarmee eintlik die Satan uitnooi om twee goed agter te kom. Een, dat dié eksperiment rondom Job se vroomheid in verlies eintlik verniet was, onnodig, redeloos.  Twee, dat dié eksperiment geslaag het.  Job het vroom gebly al is hy sonder rede geruïneer.

Die Satan bly egter skepties oor Job se vroomheid.  Hy dink dat ‘n mens wel alles sal gee wat jy het, selfs die lewe van jou kinders, as jy maar net self in die lewe kan bly: “Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.

In wese bly die Satan natuurlik eintlik skepties oor God self.  Hy bevraagteken eintlik hiermee God se status op aarde.  Hy sê hiermee op verskuilde wyse dat God nie genoeg is vir mense nie, dat God nie geëer word ómdat mense sy Naam eer en aan Hom verbind is, kom wat wil nie, maar ómdat hulle sy seën wil bly geniet.  God se invloed in mense se lewe word dus met die Satan se sinisme in twyfel getrek. Mense dien Hom ómdat Hy vir hulle goed is.  Daarsonder sou hulle Hom die rug toekeer.

Wanneer God dus toestemming gee aan die Satan om nie net Job se goed nie, maar ook sy gesondheid te neem, is dit nie net Job se vroomheid wat op die spel is nie.  God se invloed in mense se lewe is op die spel.  Soos in die tuin van Eden wil die Satan ‘n wig indryf tussen God en sy mense.  En hierdie keer is dit nie sonde wat die skeiding sou kon bring nie, maar lyding, die smart oor onverdiende onskuldige verlies en pyn.

God self kom dus in die gedrang … soos dit veel later in die lewe van Jesus aan die kruis ook aan die orde sou kom.  Die vraag aan die kruis was intens: Sal Jesus vroom bly al word Hy sonder rede geruïneer?  En in sy geval was dit nie net sy gesondheid nie, maar sy lewe self, wat van Hom gevra is.

Die hele Skepping het dus hier asem opgehou … en ‘n sug van verligting laat hoor toe nie net Job nie, maar ook Jesus aan God getrou gebly het.  Want, daarmee het die vryheid van vryspraak gekom, ‘n nuwe manier om die pad met God te bly stap op pad na die herstel van sy koninkryk.

Job verloor sy gesondheid, maar hy deurstaan weereens die toets – 2:7-13 – Vyfde toneel

Dat Job aan God getrou bly ten spyte van die verlies wat hy ervaar, is ‘n ongelooflike belangrike gebeurtenis.  Selfs al is die verlies nie net sy goed nie, maar ook sy gesondheid.  Die “pynlike swere” is waarskynlik een of ander vorm van velsiekte, nie noodwendig elefantiasis of melaatsheid soos sommige dit identifiseer nie.  Uiterlik het dit gemanifesteer met rowe en barste wat aanhoudend ge-etter het en waaraan wurms gesmul het (7:5).  Sy vel het swart geword en hy het gegloei van koors (30:30).  Hy het sleg geruik en sy vrou het gewalg aan sy asem (19:17).

Job deurstaan egter weereens die toets.  Sy verbintenis aan die Here bly onwrikbaar sterk.

Job wys daarmee dat die eenvoudige teologie van oorsaak-en-gevolg nie die enigste verklaring van dié werklikheid is nie, dat Job in sy verhouding met die Here nie net staatmaak op só ‘n eenvoudige teologie, en dit boonop net tot sy eie voordeel nie. 

Job gryp dus aan God vas, kom wat wil, ten spyte van alles wat met hom en sy mense gebeur. God self is vir hom belangriker as God se goeie gawes. Hy bly aan God verbind deur dik en dun.

Watter ongelooflike voorbeeld!  Watter diep motivering om self aan God getrou te bly!  Jy kan ook getrou bly aan God, kom wat wil.

Job gryp selfs aan God vas ten spyte van die tradisionele antwoord op lyding wat sy eie vrou aan hom gee.  En onthou, Job se verlies was natuurlik ook haar verlies.  Sy betwyfel ook nie Job se integriteit nie.  As God nie sy deel nakom nie, sê sy egter, dood-realisties, kan geen mens verwag dat jy steeds vroom sal bly nie: “Bly jy nog steeds vroom?  Vervloek God en sterf!” (2:9).

Die Septuagint (LXX – die Griekse vertaling van die OT) plaas ‘n langer respons in haar mond wat haar eie pyn beter verwoord (en onthou dat die LXX die eerste Christene se mees gebruikte “Bybel” was). Dit lui as volg:

“How long will you endure, saying, Behold, I will wait yet for a little time, looking for the hope of my salvation? Behold, the memory of you has been blotted out from the earth, [namely] the sons and daughters, the travail and pain of my womb, whom with toil I reared for nothing. And yet you yourself sit in the decay of worms, passing the nights under the open sky, while I am a wanderer and a servant, from place to place and from house to house, waiting until the sun goes down, so that I may rest from my toils and from the pains that now grip me. Now, say some word against the Lord, and die. But he, looking at her, said to her.…”

Job bly egter, wonder bó wonder, aan God getrou, al tref siekte en lyding hom, al word al sy voorspoed van hom weggeneem, en al moedig sy vrou hom aan om die stryd om vroomheid gewonne te gee.  Let op dat hy haar eintlik saggies teregwys en nie as ‘n dwaas afmaak nie, net wat sy sê as onverstandig bestempel.

Job bly egter “regverdig” teenoor God, Hy volhard in sy lojaliteit, al kos dit hom baie pyn en lyding: “Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

‘n Kantaantekening:  Job se vrou word heel waarskynlik uiteindelik ingesluit in die lotsverandering aan die einde, al word sy nie direk genoem nie.  Die skrywer vertel nie vir ons dat Job ‘n ander vrou getrou het nie, en het dus waarskynlik die kinders ná sy lotsverandering steeds by sy eerste en enigste vrou.  Haar lot word dus ook verander.

Die prosagedeelte sluit af met die beskrywing van Job se vriende wat opdaag om met hom te simpatiseer.  Soos hy was hulle ook nie Israeliete nie.  Elifas was van Teman, ‘n naam wat ook met die Edomiete geassosieer word (Gen. 36:11).  Teman was bekend vir wysheid (Jer. 49:7).  Bildad was van Suag, ‘n naam wat ook met een van Abraham se seuns geassosieer word (Gen. 25:2).  Sofar was van Naäma, ‘n naam wat met die nageslag van Kain geassossieer word (Gen. 4:22) sowel as met ‘n stad in Kanaän (Jos. 15:41).

Hulle kom om hom te troos en hulle deelneming te betuig.  Sewe dae en sewe nagte lank – net so lank soos ‘n normale feessiklus van die kinders sou duur – sit hulle by hom, en kies om niks te sê nie, omdat sy smart so groot was.

Maar, plaas daarvan dat hulle hou by hulle aanvanklike skok en stilte … begin hulle wel reageer, toe Job sy eie stilte verbreek … en daaroor handel die volgende poëtiese gedeeltes van Job.

Boodskap en betekenis

Die boek van Job het soveel komplekse perspektiewe op menswees en ons interaksie met die geestelike wêreld dat dit baie moeilik is om die boodskap daarvan te reduseer tot ‘n enkelvoudige punt wat vir almal sal sin maak.

Dat dit oor lyding gaan, en spesifiek die lyding van onskuldiges en regverdiges, is só.  Dat dit gaan oor die morele orde van die wêreld (Clines), en óf ‘n mens kan staatmaak op die wetmatigheid van oorsaak en gevolg, is ook só.

Maar, hoe meer ‘n mens jou blootstel aan wat die tallose mense deur die eeue oor die boek geskryf het, hoe versigtiger word ‘n mens om jou eie bydrae te verwoord, veral omdat dit so maklik die boodskap van die boek kan verduister en eerder jou eie perspektief op die lewe kan weergee.

Job handel oor die vraag na regverdigheid

Die boek Job handel myns insiens hoofsaaklik oor die vraag na die regverdigheid van die lewe.  Van die mens se kant gesien is daar twee aspekte hiervan:

  • Kan ‘n mens staatmaak daarop dat – as jy reg lewe en die Here dien – die Here jou met beskerming en voorspoed sal beloon?  Sal God regverdig wees teenoor jou?  Seën God godvresendes?
  • En, is die omgekeerde ook waar?  Kan ‘n mens staatmaak daarop dat – as mense onreg pleeg en die Here versaak – die Here hulle met teëspoed sal straf?  Sal God regverdig wees teenoor hulle?  Straf God goddeloses?

Is daar dus ‘n eenvoudige reglynige verband tussen oorsaak en gevolg in ons godsdiens, in ons verhouding met die Here? Of nie? 

Dit is die kern van die verskil in die gesprekke tussen Job en sy drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar.  Hulle hou vol dat daar ‘n eenvoudige reglynige verband is tussen oorsaak en gevolg.  Dit maak empiries, histories en intellektueel vir hulle sin. 

Job verskil egter daarvan, want sy ervaring trek ‘n streep deur dié eenvoudige teologie.  Dit kan in die algemeen waar wees, ja, maar slegte goed het met hom gebeur, al het hy die Here voluit gedien.  Hy het dus méér nodig as net die algemene eenvoudige waarheid van oorsaak en gevolg, iets waarvoor die jongman Elihu Job voorberei. 

Job het God self nodig.  Iets wat uiteindelik net in die ontmoeting met God kon gebeur, en vir hom rus en vrede gebring het.

Deur Job se lewe kom ‘n mens dus agter dat die lewe nie altyd regverdig en billik is nie, maar dat ‘n mens steeds in God se teenwoordigheid ‘n ruimte kan vind om mens te wees.  Dit is selfs moontlik dat God ‘n mens se lot kan verander, soos Hy inderdaad later met Job doen.  Want, God is nie uitgelewer aan ‘n eenvoudige oorsaak en gevolg dogma nie.  Hy kan kies hoe Hy optree, soos Hy in die natuur van die begin af geïllustreer het.

Hierdie vraag na regverdigheid word in die poëtiese gedeeltes van die boek gevind – hfst. 3-42:6.

Job handel ook oor die vraag na vroomheid

Job handel egter ook vir my oor die dieper vraag na die vroomheid van godvresendes, veral in ‘n situasie van verlies.  Die Satandie teëstander onder die “seuns van God”, die hemelwesens – draai dié vraag na regverdigheid as volg om.  Sal godvresendes “regverdig” wees teenoor God, by wyse van spreke, selfs al word hulle teleurgestel in hulle verwagting van sy beskerming en sy geskenk van voorspoed?  Sal godvresendes Hom bly dien, selfs al gaan dinge vir hulle verkeerd, al ly hulle onskuldig en onregverdig?  Die Satan bevraagteken dus die lojaliteit van godvresendes.

Die Satan beweer dat godvresendes nie lojaal teenoor God sal wees as Hy nie vir hulle gee wat Hy belowe nie.  Daar is dus, beweer die Satan, net so ‘n reglynige verband tussen oorsaak en gevolg in die toewyding van godvresendes.  Hulle dien God net ómdat Hy hulle beskerm en voorspoedig maak.  As God sou toelaat dat slegte goed met godvresendes gebeur, sal hulle Hom vervloek. 

Deur die Satan toe te laat om hierdie bewering van hom na te vors – onthou dat God in die eerste plek die verhaal van Job aan die orde gestel het, Hy is dus in beheer! (Job 1:8) – gee die Here sy beskerming van Job op, staak Hy sy voorsiening aan Job, en laat Hy toe dat Job se vroomheid getoets word.

Job se vrou gee die tradisionele antwoord op dié vraag na vroomheid.  As God nie sy deel nakom nie, kan geen mens verwag dat jy steeds vroom sal bly nie: “Bly jy nog steeds vroom?  Vervloek God en sterf!” (Job. 2:9).

Job bly egter, wonder bó wonder, aan God getrou, al tref siekte en lyding hom, en al word al sy voorspoed van hom weggeneem, en al moedig sy vrou hom aan om die stryd om vroomheid gewonne te gee.  Hy bly “regverdig” teenoor God, Hy volhard in sy lojaliteit, al kos dit hom baie pyn en lyding: “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.” (Job 1:22).

Ná die worstelgesprek van Job met sy drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, sowel as met die jongman Elihu – alles in poësie – ontmoet God Job vanuit ‘n stormwind en bring hom tot ‘n dieper insig van God self en tot bekering om by God se bedoelinge in te val.  Dit sluit genade vir Job se drie vriende in, sowel as ‘n verandering van Job se lot: “die Here (het) die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het.” (Job. 42:10).

Dié vraag na vroomheid word volledig in die prosa gedeelte aan die begin en einde van die boek gevind – hfst. 1-2 en hfst. 42:7-17.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar