Skip to main content

HEBREËRS 10:11-14 (15-18), 19-25

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HEBREËRS 10:11-14 (15-18), 19-25

1Die wet bevat immers net ‘n afskaduwing van die toekomstige goeie dinge, nie ‘n presiese weergawe daarvan nie. Daarom kan dit nooit deur dieselfde offers, wat onophoudelik jaar ná jaar gebring word, diegene wat kom aanbid, tot volmaaktheid bring nie. 2Sou hulle nie andersins opgehou het om offers te bring, omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie? 3Maar deur dié offers word hulle nou jaarliks aan hulle sondes herinner; 4want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik sondes wegneem.

5Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld:

“Offerande en offergawe

wou U nie hê nie,

maar ‘n liggaam het U vir My voorberei;

6ja, brandoffers en reinigingsoffers

het U nie tevrede gestel nie.

7Toe het Ek gesê,

‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!

Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ”

8Eers sê Hy hierbo,

“Offerandes en offergawes”,

en “brandoffers en reinigingsoffers

wou U nie hê,

en het U nie tevrede gestel nie” –

dit is wat volgens die wet geoffer word. 9Dan sê Hy:

“Kyk, hier is Ek om u wil te doen!”

Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. 10Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

11Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; 12maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. 13Sedertdien wag Hy totdat sy vyande ‘n voetbank vir sy voetegemaak word. 14Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.

15Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het,

16“Dit is dan die verbond

wat Ek ná daardie dae

met hulle sal sluit, sê die Here:

Ek sal my wette in hulle harte gee,

en dit op hulle verstand neerskryf,”

sê Hy ook:

17“Aan hulle sondes

en aan hulle wettelose dade

sal Ek glad nie meer dink nie.”

18Waar daar vergifnis hiervoor is, word ‘n offer vir sondes nie meer gebring nie.

OPROEP EN WAARSKUWING

19Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, 20langs ‘n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, 21en ons het ‘n groot Priester oor die huis van God. 22Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.23Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. 24Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, 25sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!

26Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer ‘n offer vir ons sondes oor nie, 27maar wel ‘n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. 28Wanneer iemand die wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. 29Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die •Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? 30Want ons ken Hom wat gesê het:

“Aan My behoort die wraak;

Ek sal vergeld.”

en ook:

“Die Here sal sy volk oordeel.”

31Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!

32Maar onthou die vroeër dae toe julle, nadat julle verlig is, ‘n geweldige stryd van lyding deurstaan het. 33Aan die een kant is julle deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak; aan die ander kant het julle julle vereenselwig met dié wat so behandel word. 34Ook het julle met die gevangenes medelye gehad, en die beslaglegging van julle besittings met vreugde aanvaar, omdat julle weet dat julle ‘n beter en blywende besitting het. 35Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou ‘n groot beloning in. 36Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry.

37Want nog net

“’n baie kort rukkie,

en Hy wat kom, sal kom

en nie talm nie.

38My regverdige sal deur geloof leef.

As hy hom egter sou onttrek,

het Ek geen behae in hom nie.”

39Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe. (2020-vertaling)

Teks en konteks

Hebreërs 10:1-18 – Jesus maak ons heilig eens en vir altyd

Die skrywer hak by wyse van vergelyking aan by die offerkultus van die OT wat sy waarde gehad het, maar nooit die aanbidders tot volmaaktheid kon bring nie.  Die offers van die OT kultus kon nie die besef van sonde uitwis nie, iets wat inderdaad moontlik is in die nuwe bedeling wat Jesus gebring het.  Trouens, die gedurige offers het juis die aanbidders aan hulle sondes herinner, want die bloed van die diere offers kon per slot van sake onmoontlik hulle sondes weggeneem het.

Daarom was die offer van Jesus nodig met die liggaam wat God vir Hom voorberei het: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!” aangehaal uit Psalm 40:7-9 as heenwysing na Jesus Christus.  Die Levitiese offerstelsel is daarmee beëindig met die volmaakte offer van Christus: “Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

Sedertdien wag Jesus totdat sy vyande “’n voetbank vir sy voete gemaak word, want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.”  Dít is die erfenis van elkeen wat in Hom glo.  Dít is die verbond wat met ons gesluit word dat God nie net sy wette in ons harte gee en op ons verstand neerskryf nie, maar glad nie meer aan ons sondes en ons wettelose dade dink nie!

Hebreërs 10:19-39 – Laat ons die heiligdom ingaan met vrymoedigheid

Die skrywer rond nou die tema af wat hy in hfst. 5 begin het deur die geloofsgemeenskap op te roep om nie vas te val by die basiese prediking oor Christus nie – die “melk” van “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (6:1-2) – en eerder te fokus op die “vaste kos” van onder andere “die boodskap van regverdiging”, “die aanvoeling, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad” (5:13-14) en “die volle sekerheid van die hoop” op God se beloftes (6:11).

Dit is immers waarom hy die moeite gedoen het om die omvattende waarde van Jesus se Hoëpriesterskap uit te spel in hfst. 7-10, want die regte perspektief daarop, sal hulle in staat stel om geestelike volwasse te word en die wedloop te hardloop wat vir elkeen van hulle voorlê.  Hy staan immers in vir hulle verlede, hede en toekoms.

10:19-25 – Laat ons tot God nader met vrymoedigheid

Die onderwerp wat hy nou aanraak, is die feit dat ons vrymoedigheid het om met God gemeenskap te hou: “ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het.”  Soos Paulus op soortgelyke wyse aan die Efesiërs skryf, het ons dus in Jesus Christus “deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God” (Ef. 3:12).

Daarom die oproep om hierdie vrymoedigheid aan te gryp in ons verhouding met God: “Laat ons daarom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.” Laasgenoemde verwys na die doop.  Let ook op die samehang van die interne reinigingswerk van God met die uiterlike teken daarvan, die doop.

Dit is dus nie genoeg om mense by geloofsekerheid uit te bring nie, hoe belangrik dit ook al is by die begin van die pad met God.  Geestelike groei kom wanneer ons vrymoedigheid voor God eksponensieel toeneem soos ons al hoe meer die voorreg om met Hom gemeenskap te hou, benut (10:22), in alles fokus daarop om sy wil te doen (10:36) en so te groei in die geloof wat lei tot behoud van die lewe (of “siel” – 10:39). 

Die Griekse woord wat die skrywer hier vir vrymoedigheid gebruik, is parrēsia en dra ook die betekenisse van moed, vertroue, reguit en openhartig (in Engels: courage, boldness, confidence, en frankness). 

Vrymoedigheid is só noodsaaklik in ons kontak en gesprek met God.  Sonder dié vrymoedigheid kan ons moeilik vir Johannes navolg waar hy skryf: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.  En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14-15). 

Dit is net so noodsaaklik in ons omgang met mense.  Van Paulus word bv. gesê dat hy die koninkryk van God  verkondig het en die mense van Rome “met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig,” het (Hand. 29:31; vgl. Ef. 6:19). En hy wys uit hoe goeie dienswerk (diakens) in die gemeente ’n mens se vrymoedigheid in die geloof laat groei (1 Tim. 3:13).

Ons moet egter nie net persoonlik op vrymoedigheid fokus nie, maar ons moet ons ook “daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade”, boonop sonder dat ons in die proses ons eie samekomste verwaarloos, soos sommige ongelukkig die gewoonte gehad het in sy tyd (10:24-25).

Die volwasse wordende geestelike lewe bestaan dus uit 1) persoonlike toewyding, 2) aansporing en bemoediging van medelowiges tot liefde en goeie dade, sowel as 3) gereëlde samekomste as geloofsgemeenskap.  Dít is die dinge wat ons vrymoedigheid in die teenwoordigheid van die Here bevorder en ons in staat stel om die beloftes wat Hy vir ons in vervulling wil laat gaan, in ontvangs te neem.

10:26-31 – Moenie God se gawes gering ag nie

Na die positiewe aanmoediging om in hulle vrymoedigheid teenoor God te groei, waarsku die skrywer hulle ernstig dat die alternatief eenvoudig verskriklik sal wees.  “As ons willens en wetens sondig” bly daar niks oor om ons situasie te beredder nie.  “Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het en die Gees van genade uitgedaag het.”  Sterk woorde!

Dit is ’n kant van God wat baie van ons nie graag wil hoor nie, maar wat noodsaaklik is om regtig te agterkom wat op die spel is.  Die skrywer is oortuig dat niemand van hulle geloofsgemeenskap dié pad sal volg nie, maar hy waarsku nietemin sterk, omdat hy ook dié kant van God ken.

10:32-39 – Moenie julle vrymoedigheid prysgee nie

Hy herinner hulle dus aan die stryd wat hulle aanvanklik gehad het toe hulle tot geloof gekom het: beledigings, verdrukking, bespotting en verlies van besittings.  Wat hulle toe aangespoor het, was die wete dat hulle ’n beter en blywende besitting het, iets waaroor hy verder sal uitbrei in die volgende hoofstuk.

Dit is ook die rede vir die dringende oproep: “Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou ’n groot beloning in.” (10:35).  Dit is immers hierdie vrymoedigheid in ons verhouding met God wat ons in staat stel om te bid en te volhard. 

Hy bemoedig hulle dus dat die uitkoms naby is, want net nog ’n kort rukkie, “en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.”  Wat nodig is dat hulle uit die geloof in God sal bly lewe en hulle nie aan Hom onttrek en só afdwaal van die geloof nie.

Boodskap en betekenis

Die besef van sonde is dus uit God se geheue weggeneem deur die offer van Jesus … dit is die omvattende betekenis van hierdie boodskap.  Dít is waarom daar ook nie meer ’n offer vir ons sondes nodig is nie, want die vergifnis wat Jesus gebring het, het God se geheue vir ons sonde uitgewis: “Ek sal glad nie meer aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade dink nie.

In die lig van die omvattende voorsiening wat Jesus Christus vir elkeen van God se kinders gemaak het om gemeenskap met God te geniet, is dit geen wonder dat die skrywer hulle oproep om met vrymoedigheid self die heiligdom van God in te gaan.  Die pad is oop en niks moet ons verhinder om in hierdie gemeenskap te volhard nie.  Trouens, ons moet mekaar voortdurend daartoe aanmoedig.  Enigiets minder sal dislojaal wees aan dié Een wat sy lewe daarvoor gegee het.

In die volgende hoofstukke sal die skrywer ons verder herinner aan die skare van voorbeelde van vrymoedige geloofsvolharding wat ons aanmoedig en inspireer (hfst. 11), sodat ons hierdie wedloop van geloof self met volharding sal hardloop, veral in die lig van die sonde wat ons so maklik aankleef, so maklik ons vrymoedigheid wegneem, en ons geestelik moeg kan maak (hfst. 12).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar