Skip to main content

2 SAMUEL 5:1-5, 9-10

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

2 SAMUEL 5:1-5, 9-10

Dawid koning oor die hele Israel 

1 Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en gesê: “Hier is ons – ons is u bloedfamilie. 2 Selfs in die verlede, toe Saul oor ons koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die Here het vir u gesê, ‘Jy sal herder wees van my volk Israel, en jy sal ‘n leier word oor Israel.’ ” 3 Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het koning Dawid voor die Here ‘n verbond met hulle gesluit in Hebron; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel. 4 Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank regeer. 5 In Hebron was hy koning oor Juda sewe jaar en ses maande lank, en in Jerusalem was hy koning oor die hele Israel en Juda drie-en-dertig jaar lank. 

Inname van Jerusalem 

6 Die koning en sy manne het na Jerusalem gegaan, na die Jebusiete wat in dié gebied gewoon het. Die Jebusiete het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie! Selfs blindes en kreupeles sal jou afweer deur te sê, ‘Dawid sal hier nie inkom nie!’ ”7 En tog het Dawid die vesting van Sion, dit is die Stad van Dawid, ingeneem. 8 Dawid het daardie dag gesê: “Elkeen wat die Jebusiete wil verslaan, moet deur die watertonnel kruip om die kreupeles en blindes by te kom, hulle wat veragtelik is vir Dawid.” Daarom word daar gesê: “’n Blinde en ‘n kreupele mag nie die huis binnekom nie.” 

9 Dawid het in die vesting gaan woon en dit die Stad van Dawid genoem. Dawid het rondom bouwerke opgerig, van die terrasse af na binne. 10 Dawid het al hoe sterker geword. Die Here, die God van alle magte, was met hom.

11 Hiram, die koning van Tirus, het gesante na Dawid gestuur, asook sederhout, skrynwerkers en klipmesselaars. Hulle het vir Dawid ‘n paleis gebou. 12 Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel gevestig het en dat die Here sy koningskap aansien gegee het ter wille van sy volk Israel. 13 Dawid het nog byvroue en vroue uit Jerusalem geneem nadat hy uit Hebron daar aangekom het. Daar is toe vir Dawid nog seuns en dogters gebore. 14 Dit is die name van die kinders wat vir hom in Jerusalem gebore is: Sammua, j Sobab, Natan en Salomo; 15 Jibgar, Elisua, Nefeg en Jafia; 16 Elisama, Eljada en Elifelet. 

Teks en konteks

God se keuse van Dawid as koning word nou ook deur die hele volk erken: “Hier is ons – ons is u bloedfamilie (u eie mense).” Let op hoe Dawid se koningskap verbind word aan herderskap en charismatiese leierskap (dit is wat die woordjie nagid wat hier gebruik word, beteken).

Ook al die leiers van Israel sluit met hom voor die Here ‘n verdrag. Die lang en stormagtige pad na die troon is voltooi.

Vers 8 is moeilik om te verstaan. Die verwysing na die watertonnel kan beteken dat Dawid dit gebruik het om in die stad in te kom. Die verwysing na die blindes en kreupeles word moontlik sarkasties gebruik.

Die keuse van Jerusalem was briljant. Nie net was dit neutrale grond tussen Juda en Benjamin nie, maar dit was ook ‘n strategiese plek wat maklik verdedig kon word. Geen wonder dat dit steeds vandag die hoofstad van Israel is nie. Daarmee het Dawid polities die volk verenig, sodat daar nie ‘n stryd kon wees oor watter stam belangriker as ander sou wees nie.

Boodskap en betekenis

Die erkenning van Dawid se koningskap wentel om twee belangrike aspekte van leierskap:

  • om om te gee soos ‘n herder vir mense,
  • en deur die Gees en sy gawes leiding te gee.

Dit bly selfs vandag nog fundamentele eienskappe van leierskap, soos ons dit ook in die lewe van Jesus raaksien. Die Goeie Herder (Joh 10) en die Leidsman (en Voleinder) van die geloof (Hebr 12).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.