Skip to main content

MARKUS 8:27-38

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 8:27-38

PETRUS SE BELYDENIS

(Matt 16:13-20; Luk 9:18-21)

27Jesus en sy dissipels het na die dorpe van Caesarea-Filippi vertrek. Op pad het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is Ek?” 28Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper; ander sê Elia, en nog ander sê een van die profete.” 29Hy vra hulle toe: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus.” 30Jesus het hulle toe opdrag gegee om niemand van Hom te vertel nie.

EERSTE LYDENSAANKONDIGING

(Matt 16:21-28; Luk 9:22-27)

31Hy het begin om hulle te leer dat die Seun van die Mens baie moet ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak moet word, en ná drie dae moet opstaan. 32Hy het openlik hieroor gepraat. Petrus het Hom eenkant toe geneem en Hom begin berispe. 33Maar Hy het omgedraai, na sy dissipels gekyk en Petrus berispe: “Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.”

34Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. 35Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. 36Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? 37Wat sou ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? 38Want wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele.”

Teks en konteks

8:27 Op pad na Sesarea-Filippi – onthou dit is in die teenoorgestelde rigting as Jerusalem, trouens die verste noord wat Jesus met sy dissipels gereis het – draai die gesprek met sy dissipels om sy identiteit: “Wie, sê die mense, is Ek?”

8:28  Interessant is dat al die antwoorde is van mense wat Jesus se voorlopers was. Sowel as dat hulle almal weer teruggekeer het vanuit God se ruimte! ‘n Opgestane Johannes die Doper, ‘n terugkeer van Elia wat natuurlik nooit gesterf het nie (Mal 4:5),  of een van die ander profete.

8:29 Petrus maak dan die belangrike belydenis dat Jesus die Christus is, dit beteken: die gesalfde, die Messias, presies dit waarmee Markus sy evangelie begin: “Die evangelie van Jesus Christus …”

8:30 Getrou aan Jesus se werkswyse belet Hy hulle om dié belydenis verder bekend te maak om die leiers van die volk nie  iets te gee wat sy bediening voortydig kan inkort nie.

8:31 Markus vertel ons ook van die wending wat in die verhaal intree na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus. Die dissipels het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as dieLydende Messias leer ken (vgl Jes 52-53), dat Hy deur die gemeenskap, die kerk, en die teoloë verwerp moet word. Hulle sal Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy opstaan.

Op ‘n ander plek sê Markus egter dat Jesus “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58). Ek sal later meer aandag hieraan gee, maar dit is duidelik uit die wyse waarop in daardie tyd na dae verwys is, dat ‘n deel van ‘n dag ook as ‘n dag getel het. Joodse dae is immers van sononder tot sononder getel wat ‘n vloeibaarheid in die verwysing na ‘n dag tot gevolg gehad het. Daarom kon Markus sê “na drie dae” en “binne drie dae”. Dit het vir hom dieselfde betekenis gehad.

8:32 Jesus het hierdie aankondiging gemaak sonder om enige doekies om te draai. Dit word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en vermaan Hom.  Petrus se woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie.

8:33 Jesus het egter skerp op dié vermaning gereageer, want die een ding wat ‘n mens nie kan bekostig op ‘n lydenspad is dat iemand jou ‘n kortpad daaruit probeer wys nie. Hy vermaan Petrus verder in die teenwoordigheid van al sy dissipels, omdat dit ‘n ernstige waarskuwing aan hulle ook is.

Let op hoe skerp Jesus Petrus aanspreek. Hy spreek Hom as Teenstander, dws Satan, aan. Iemand wat nie die dinge van God bedink nie, maar dié van die mense. Hy wys uit in hoe ‘n groot kontras hierdie optrede van Petrus is met sy pas afgelope belydenis dat Jesus die Christus is. Daarom sê Hy, “Gaan weg agter My, Satan!”

8:34 Jesus gaan voort om die dissipels dieper in te lei oor die betekenis van sy Messiasskap. Soos Hy ‘n Lydende Messias is, só sal van hulle ook gevra word om alles prys te gee om Jesus te volg. Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig. Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie, hoewel dit martelaarskap kan insluit) en navolging. 

8:35-37 Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou.  Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe nie.

8:38 Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaam koppel: Wie Hom nou skaam vir Jesus se woorde tussen owerspelige en sondige mense, vir Hom sal die Seun van die mens hom dan skaam tussen die heilige engele wanneer Jesus terugkeer in die heerlikheid van sy Vader.

Owerspelig word hier gebruik in ‘n figuurlike sin vir iemand wat nie getrou bly aan die ware geloof nie, die geloof soos dit deur God aan ons oorgelewer is. Sondig beteken hier om ongehoorsaam aan God se wil en wet op te tree. Die punt wat Jesus maak, is dat sy dissipels ‘n keuse sal moet maak of hulle aan sy wil en woorde in hierdie lewe gehoorsaam gaan lewe óf aan die wêreld se wil en woorde. Die keuse sal hulle lot beseël by die wederkoms.

Boodskap en betekenis

Dit is merkwaardig hoe Jesus dit regkry om almal oor Hom te laat praat, maar net die binnekring toe te laat om te weet wie Hy regtig is. Trouens, selfs hulle weet uiteindelik net genoeg om in Hom te glo. Ook hulle sal eers ná die opstanding die volle omvang besef van wat Jesus as die Seun van God, die Messias, op aarde kom verrig het.

Ons het egter ‘n ingebore weerstand teen lyding, veral as ons dit as onregverdig en onvanpas beskou. Jesus leer ons hier egter dat dissipelskap lyding inhou, en dat die taak van dié wat saam met ons die pad stap, nie is om ons te help om die lyding te vermy nie, maar om die lyding te kan dra.

Dit is immers hoe God lyding in die lewe van Jesus gebruik het. Hy het gehoorsaamheid aan God geleer uit die dinge wat Hy gely het (Hebr 5:8). As lyding dus noodsaaklik was vir Jesus, hoeveel te meer nie ook vir ons nie.

Ignatius, ‘n biskop van Antiogië in die begin van die tweede eeu n C, het dit goed besef. Hy was op pad na Rome.  Hy was ter dood veroordeel weens sy geloof in Christus.  Op pad deur Turkye word hy besoek deur gelowiges uit Rome wat hulle invloed wou gebruik om hom van sy vonnis te onthef.

Sy hele lewe het hy geleef vir die Here Jesus, het hy Hom aanbid, en hy was gereed om sy getuienis met sy lewe te beseël.  Daarom het hy nie gedink dat die Romeinse Christene hom ‘n guns sou bewys nie.  Inteendeel.  Dit sou hom verhinder om Jesus te volg tot die einde toe.

Daarom skryf hy in sy brief aan die Christene in Rome, interessant genoeg uit die stad Smirna, hedendaagse Izmir, waar ons gemeente, Somerstrand, se sendelinge, Gerrit en Sonja Brink, op ‘n tyd gedien het, die volgende aangrypende woorde: 

“I fear your kindness, which may harm me.  You may be able to achieve what you plan.  But if you pay no heed to my request it will be very difficult for me to attain unto God.”

Al wat hy wil hê van sy mede Christene is dat hulle sal bid dat hy getrou bly, met sy hele hart, aan die pad wat die Here vir hom gegee het:

“If you remain silent about me, I shall become a word of God.  But if you allow yourselves to be swayed by the love in which you hold my flesh, I shall again be no more than a human voice.” (Letter from Ignatius, Romans 1,2-2.1)

Geen wonder dat Ignatius bekend geword het as die “Draer van God” en dat die legende ontstaan het dat hy die jong kind was wat Jesus gebruik het om te illustreer hoe ‘n mens die koninkryk van die hemele binnegaan (Matt 18:1-5).

Jesus spel dissipelskap daarom uit as ‘n bereidheid om sy wil en woorde te volg ten spyte van die teenstand wat mens in die wêreld sal ervaar. Dit sal selfverloëning, kruis dra en gehoorsaamheid vra. Dit vra ‘n groot offer, maar die verlies in die ewigheid as Jesus Hom vir jou gaan skaam, sal baie groter wees as dit wat jy hier kan ly.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar