Skip to main content

MARKUS 9:38-50

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 9:38-50

TEEN ONS OF VIR ONS

(Luk 9:49-50)

38Johannes het vir Hom gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.” 39Maar Jesus het gesê: “Moet hom nie keer nie, want niemand wat in my Naam ‘n kragtige daad doen, kan net daarna sleg van My praat nie. 40Want wie nie teen ons is nie, is vir ons. 41Wie vir julle in my Naam ‘n beker water te drinke gee omdat julle aan Christus behoort – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning verbeur nie.”

WAARSKUWING TEEN STRUIKELBLOKKE

(Matt 18:6-9; Luk 17:1-2)

42“Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit sou vir hom beter wees as die maalklip van ‘n donkie om sy nek gehang en hy in die see gegooi word. 43As jou hand jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om vermink die lewe in te gaan as om met twee hande weg te gaan tot in Gehenna, in die onblusbare vuur. 45As jou voet jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om kreupel die lewe in te gaan as om met twee voete in Gehenna gegooi te word. 47En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit! Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan as om met twee oë in Gehenna gegooi te word, 48waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie. 49Want elkeen sal met vuur gesout word. 50Sout is goed, maar as sout smaakloos geword het, waarmee sal julle dit weer smaak gee? Julle moet sout in julleself hê en in vrede met mekaar leef.” (2020-vertaling)

Teks en konteks

9:38 Markus vertel dieselfde verhaal (Matteus nie). Baie interessant, dit lyk volgens Markus of dit nie soseer oor Jesus gaan nie, maar oor hulle. Hulle het die demoonuitdrywer probeer verhinder: “omdat hy ons nie gevolg het nie.”

9:39-40 Volgens Markus voeg Jesus by dat niemand ‘n kragtige daad in sy Naam sal doen – soos duiweluitdrywing – en dan kwaad van Hom sal kan praat nie. Dit is eintlik half logies, want jy kan nie met sekerheid in Jesus se Naam optree, as jy nie in Hom glo nie. Want hy wat nie teen ons is nie, is vir ons.

 9:41 Jesus voeg daarby die maatstaf van onderlinge hulpverlening wat tot stand sal kom tussen dié wat in Jesus se Naam optree. Trouens, wie ook al ‘n beker water sal gee vir Jesus se volgelinge, net omdat hulle van Christus is, sal vir seker nie hulle loon verloor nie. God sal hulle beloon.

9:42 Jesus waarsku hier dat hulle versigtig moet wees om een van “hierdie kleintjies” wat in Hom glo te laat struikel. “Hierdie kleintjies” in die konteks van Markus dui in die eerste plek op kinders (vgl Mark 9:36-37), maar in die verlengde daarvan op almal wat in Jesus glo. Só ‘n persoon – wat ander laat struikel – moet eerder self doodgaan – deur ‘n meulsteen van ‘n donkie wat koring maal om sy nek te sit en hom in die see te gooi vir ‘n verskriklike dood – as dat hy gelowiges laat struikel.

9:43 Dieselfde geld jouself. Kap eerder jou hand af as dié jou laat struikel, ‘n kras hiperboliese oproep tot bekering van sonde van die hand. Dit is beter dat jy vermink “in die lewe ingaan” – die ewige lewe – as dat jy met twee hande “weggaan hel toe”, na die onblusbare vuur.

Die woord Gehenna (γέεννα) word gebruik as metafoor vir die plek van God se toorn. Dit is ‘n Griekse transkribering van die Hebreeuse woorde ge hinnom (‘Vallei van Hinnom”). Dit was die vallei aan die suidekant van Jerusalem. In OT-tye is dit gebruik vir menslike offers aan die heidense god Molek (vgl. Jer 7:31; 19:5–6; 32:35). Dit is ook gebruik as ‘n plek waar menslike ontlasting en rommel weggegooi, en verbrand is. In die tyd tussen die OT en NT het die Jode die woord simbolies begin gebruik as die plek van goddelike straf.

Vers 44 voeg daarom by dat dit ‘n allerverskriklike plek van voortdurende pyn is. Die wurms hou nie op om te eet aan jou nie. Die vlam hou nie op om jou te brand nie (Jes 66:24).

9:45 Dieselfde geld jou voet. Kom tot bekering, selfs al kos dit jou ‘n ledemaat, want dit is beter dat jy kreupel in die ewige lewe aankom as dat jy met twee voete in die hel gegooi word.

9:47-48 Dieselfde geld jou oog. Kom tot bekering, selfs al kos dit jou jou oog, want dit is beter dat jy met een oog in die koninkryk van God ingaan, as dat jy twee oë het en in die hel gegooi word. Die wurms hou daar nie op een aan jou nie. Die vuur wat jou brand, word nie geblus nie (Jes 66:24).

9:49-50 Ons het reeds vers 49-50 van hierdie perikoop in Markus 9 by die bespreking van die Bergrede van Matteus hanteer, maar ek plaas dit weer hier ter wille van die konteks wat dit aan hierdie perikoop verleen. Vergelyk ook die gebruik van die metafoor van sout in Lukas 14:43-35 in Jesus se gesprek met die menigte wat Hom volg op sy laaste reis na Jerusalem. In Markus word die metafoor van sout gebruik om die dissipels te waarsku oor struikelblokke en die gevaar van afvalligheid. In Lukas gebruik Jesus die metafoor van sout as ‘n opsommende aanmoediging aan hulle om die koste van dissipelskap te bereken.

Boodskap en betekenis

Dit is goed om hierdie drie maatstawwe wat Jesus vir ons in Lukas 9 en 11, sowel as in Markus 9 gee, goed onder die knie te kry. Samewerking en onderlinge hulpverlening is twee duidelike tekens van koninkrykskinders. Dit is die maatstaf wat ons na buite moet aanlê in die ekumene. Maar, nog meer basies – dit is ‘n absolute lojaliteit aan Jesus self. Dit is die maatstaf waarmee ons onsself moet meet.

Let op dat Jesus nie hier praat met sondaars in die eerste plek nie. Hy praat met gelowiges. Mense wat Hom alreeds dien. Wat sy dissipels is. Uiteraard praat Hy op ander plekke ook oor die hel met die Fariseërs (Matt 23:33) en brei Petrus later uit oor die helse oordeel vir dwaalleraars en onregverdiges (2 Pet 2). Maar Jesus gesels in die evangelies meer kere daaroor met sy dissipels as met enigiemand anders. Dit moet ons wakker laat skrik en die erns van dissipelskap laat besef.

Jesus waarsku sy dissipels teen twee gevare. Die een gevaar is dat ’n mens een van die volgelinge van Jesus wat in Hom glo, kan laat struikel, deur óf só iemand aanstoot te gee, óf só iemand te verlei tot sonde. So iemand is beter af om diep in die see te gaan wegkruip, weg van die toorn van God. 

Die ander gevaar is dat ’n mens self kan struikel, want daar is baie struikelblokke in die wêreld – dinge wat jy doen (hande), of plekke waarheen jy gaan (voete), of dinge wat jy sien en begeer (oë). ’n Mens moet jouself eerder leed aandoen as toelaat dat jou aksies, optredes, of begeertes jou verlei en laat struikel.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar