Skip to main content

1 Kronieke 25-26 – Dawid se reëlings vir ’n omvattende Levitiese bediening

Hierdie twee hoofstukke fokus op Dawid se reëlings in terme van die liturgiese en profetiese funksies van die drie Levitiese bedieningsgroepe (hfst. 25) en die Leviete se funksies as poortwagte, toesighouers oor die tempelskatte en handhawers van die orde en regspraak (hfst. 26).  Die Leviete het regtig ’n omvattende bediening gehad wat selfs sekere meer “sekulêre” funksies ingesluit het.

Dawid reël die liturgiese en profetiese funksies van die Leviete

Hoofstuk 25 fokus op die drie Levitiese bedieningsgroepe uit die Kehatgroep, die bekende groepe van Asaf, Heman en Jedutun (waarskynlik ’n ander naam vir Etan).  Interessant genoeg word hierdie keer bygevoeg dat hulle mense was wat onder begeleiding van die liere, harpe en simbale as profete opgetree het.  Hulle het dus nie net ’n funksie in terme van die begeleiding van die liturgie in die tempel en die geloofsgemeenskap nie, maar ook ’n funksie in terme van die begeleiding van die geloofsgemeenskap om God se wil te hoor en te interpreteer.

Hulle het dus in ’n spesiale verhouding tot God gestaan, soos dit van die Skrifprofete (bv. Jesaja, Jeremia en Esegiël) en die profeteskole waar was (bv. Elisa).  Die Asafgroep  word hierin uitgesonder as profeties in diens van die koning, die Jedutungroep as profeties in die dank en lof aan die Here en van die Hemangroep dat Heman ’n siener was wat die koning in godsdienstige sake begelei het.

Die droom van God in Eksodus begin hier dus ’n al hoe groter vorm aanneem: As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.” (Eks. 19:5–6).  Ook Moses het sy versugting na dié spesiale verhouding met God uitgespreek: Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” (Num. 11:29).

Dit is ’n droom wat uiteindelik in die NT volledig waar sou word: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.” (1 Pet. 2:9).  Let op hoe die NT ook die profetiese funksie van gelowiges by die koninklike en priesterlike byvoeg: “die verlossingsdade moet verkondig”.

Wat van die Hemangroep egter nog meer verrassend is vir my, is dat hulle waarskynlik vroue gebruik het in die tempeldiens.  Daarom staan daar, ná Heman se veertien seuns en drie dogters gelys is: “Hulle het almal onder leiding van hulle pa die sang in die huis van die Here begelei …” (1 Kron. 26:6).  Omdat Heman ’n siener was en groot aansien weens sy baie seuns geniet het, het dit hom waarskynlik die vryheid gegee om sy dogters ook in te span, ’n man so na my hart!

Daarom praat Ps 68:26-27 van meisies wat tamboeryne slaan: vooraan die sangers, agteraan dié wat snaarinstrumente speel, en tussenin, meisies wat tamboeryne slaanHulle loof God in kore, die nasate van Israel loof die Here.” Die gebruik om ná die ballingskap al hoe meer vroue in die tempel as sangeresse te gebruik (Esra 2:65; Neh. 7:67) kom dus van dié ontwikkeling van Heman af. Hy was nie net sy tyd vooruit nie, maar het dinge met sy optrede vir altyd verander, al was die ontwikkelinge stadig.

Dit tref ook dat oud en jonk saam in die dienswerk gebruik word op ’n volledig gelyke basis en dat selfs opleiding nie onderskeiding gebring het tussen opgeleides en leerlinge nie (1 Kron. 25:8).  Oud en jonk en gevorderdes en beginners het gelyke status gehad in die dienswerk.  Dit wys op ‘n diep insig in en keuse vir die noodsaaklike inter-generasionele en mentors dinamiek van die geloofsgemeenskap.  Oud en jonk moes by mekaar leer.  Gevorderdes en beginners moes by mekaar leer.

O, hoe nodig het ons nie om dié boodskap vandag weer te hoor vir wat in ons kerke gebeur nie.  Alle ouderdomme móét deel wees van die erediens, en mense van alle vaardigheidsvlakke móét ingetrek en gebruik word in die diens aan God.  Ons het dringend nodig om dié dinamiek uit ons geloofsgeskiedenis in Kronieke te herontdek en ons kerkwees op dié basis te herontwerp en uit te voer.

Die poortwagte, toesighouers en handhawers van orde en die regspraak

Hoofstuk 26 fokus op drie verdere groepe van die Leviete, die poortwagte, die toesighouers van die tempelskatte en die handhawers van die orde en die regspraak, funksies wat voorheen met die Rigters geassosieer is.

Die poortwagte

Uit die Asafgroep was daar ook die Koragiete onder die poortwagte waarvan ons ’n versameling Psalms het (Ps. 42-50; 73-88).  Obed-Edom, van “ark-oppas” faam, val ook op, veral met die aantekening dat die Here hom besonderlik geseën het en hulle as groep baie bekwaam was.  Hulle was onder andere verantwoordelik om gelowiges te help verstaan wat die korrekte manier is om by die tempel as deel van die geloofsgemeenskap op te tree (vgl. Ps. 15 en veral Ps. 24 waar die toegangsvereistes deur die “poorte” uitgespel word).  Weereens is oud en jonk gelyk geag in die dienswerk.

Die toesighouers oor die tempelskatte en wydingsgeskenke

Sommige van die Leviete het die taak gehad om toesig te hou oor die tempelskatte sowel as die wydingsgeskenke.  Dié geskenke het veral van die konings en ander leiers gekom.  Dit val onder andere op dat Samuel en Saul (ironies!) in die lysie donateurs genoem word.  Baie van dié skatte het natuurlik van oorlogsbuit gekom.

Die handhawers van die orde en die regspraak

‘n Ekstra funksie van die Leviete word hier uitgespel, die handhawing van orde in Israel en die verantwoordelikheid vir die regspraak.  Die omvang van dié werk het alles ingesluit wat verband hou met die diens aan God en met die diens aan die koning.

by Chris van Wyk

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronieke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda