Skip to main content

Drie dae en drie nagte?

Jesus verwys na die voorbeeld van Jona en verklaar dat Hy – soos Jona “drie dae en drie nagte” in die ingewande van die groot vis was – “drie dae en drie nagte” in die hart van die aarde sal wees (Matt 12:40). Hoe rym dié voorspelling van Jesus met die ander gegewens van die Evangelies (en ook Paulus) waarvolgens dit duidelik is dat Jesus op die Vrydag gekruisig en begrawe is, en die Sondag êrens vóór dagbreek opgestaan het?

Ek het al geskryf oor die wyse waarop die Evangelies oor die drie dae praat. Ek herhaal dit hier met ‘n paar byvoegings.

  1. Jesus was op elkeen van drie dae in die graf. Dit is duidelik uit die Evangelies. Die Vrydagmiddag (voor die sabbat begin het die aand), die hele Saterdag, en ongeveer die helfte van die Sondag. Hierdie feite kom ooreen met beide die voorspellings wat Jesus gemaak het, selfs die voorspellings in die OT, en hoe die kerk na die tyd daaroor berig het, onder andere Paulus.
  2. Jesus se verwysing na Jona se “drie dae en drie nagte” (Matt 12:40) was ‘n Hebreeuse idioom wat vir enige kombinasie van ‘n deel van drie verskillende dae gebruik kon word. So skryf RT France in sy Jesus and the Old Testament en D A Carson in die Expositors Bible Commentary. ‘n Mens sien hierdie Hebreeuse idioom aan die werk in 1 Samuel 30:12-13 waar die frase gebruik word om die tydperk van iemand se uitputting aan te dui, sonder om daarmee ‘n presiese tydsaanduiding te gee. Iets soortgelyks sien ‘n mens in 2 Kronieke 10:5 en 12 waar Rehabeam mense wegstuur om na drie terug te kom, maar hulle kom reeds op die derde dag terug. Dieselfde gebeur in die boek Ester waar sy die Jode beveel om drie dae en nagte te vas, maar dan “op die derde dag” voor die koning verskyn (Est 4:16; 5:1). Die vas het dus waarskynlik die aand van die eerste dag begin, maar is tegnies nie voluit klaargemaak tot die einde van die derde dag nie. Hulle het dus net twee volle dae lank gevas, al word daar steeds daarna na drie dae en drie nagte verwys. Die bevel en die uitvoering verskil in terme van ons letterlike verstaan van die verloop van tyd. Maar nie in terme van die Jode se verstaan van tyd nie.
  3. Hierdie vloeibare hantering van “drie dae en drie nagte” in die OT verklaar hoekom Jesus na Jona se ervaring kan verwys as ‘n voorbeeld van wat met Homself gaan gebeur, terwyl Hy in werklikheid nie presies dieselfde tyd in die graf gaan wees nie, soos die res van die getuienis in die Evangelies dit uitspel.
  4. Dit is ook duidelik uit die ander gegewens in die Evangelies dat daar ook op ander maniere na die tydsduur van Jesus se dood verwys word. Jesus sê ook in Markus dat Hy na drie dae sal opstaan (Mark 8:31; 9:31; 34). Trouens, op nog ‘n ander plek in Markus verklaar Jesus dat Hy “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58). Hy sê weer in Lukas dat Hy “op die derde dag” sal opstaan (Luk 9:22). Hierdie verskillende verwysings wys dat ‘n mens nie te letterlik moet omgaan met die opmerking oor Jona se drie dae en drie nagte nie, of oor die ná, óp, of binne uitsprake nie, maar dit idiomaties en vloeibaar moet interpreteer soos dit gerapporteer is in die Evangelies. Dit is immers duidelik uit die wyse waarop in daardie tyd na dae verwys is, dat ‘n deel van ‘n dag ook as ‘n dag getel het, en dat die dag boonop die vorige nag ingesluit het, omdat die dag die vorige aand begin het. Die Jode het die dae van sononder tot sononder getel wat ‘n vloeibaarheid in die verwysing na ‘n dag tot gevolg gehad het. Daarom kon Jesus sê “na drie dae” en “binne drie dae”. Dit het vir hom dieselfde betekenis gehad.
  5. Uiteindelik tel die fisiese beskrywing wat in al vier Evangelies gegee word dat Jesus die Vrydag gekruisig is en die Sondag opgestaan het.
  6. Dit is onder andere op hierdie getuienis van die Evangelies wat Paulus se getuienis berus wat vir ons sê Jesus is: “Op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” (1 Kor 15:4). Maar, wat Paulus se verwysing verder so uiters interessant maak, is dat hy dié feite verbind aan die profetiese uitspraak in Hosea 6:2: “Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan”! Wat in Hosea eintlik net dui op die sekerheid van God se verlossing waarop die volk kan staatmaak, word in die lig van Jesus se kruisiging en opstanding nuut geïnterpreteer. Vir die volk belowe God dat sy oordeel baie vinnig opgehef sal word as hulle na Hom toe terugkeer. God wil hulle juis só motiveer om te reageer op sy aanbod. Die oorlog sal net twee dae duur! Vir Jesus het dit die betekenis gehad dat die tydperk van Jesus se dood net twee dae sal duur, dws op die derde dag sal Hy opstaan. So het Paulus dit uitgelê.

Natuurlik is daar meer wat ‘n mens hieroor kan sê en daar is talle en talle artikels hieroor geskrywe. My weergawe is ook onderhewig aan enige getuienis wat na vore kom wat die bestaande gegewens vir ons beter in perspektief kan stel. Lees bv die artikel van Barry Smith, The Chronology of the Last Supper, in die Westminster Theological Journal vir ‘n goeie ontleding van al die standpunte hieroor.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…