Skip to main content

02 Wag

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

Die tweede element van gebed is om op die Here te wag. Dit kan op twee maniere verstaan word. En natuurlik beoefen word.

1. Die eerste manier van wag, is die erkenning van God se teenwoordigheid.

Soos Dawid dit in Psalm 27 sê:

14 Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here! (Ps 27:14; vgl Ps 31:25)

Let op hoe Dawid die vers begin en eindig met die opdrag om te wag op die Here. Hierdie wag op die Here is ‘n besluit wat jy neem om die Here te vertrou vir sy teenwoordigheid. Jy doen dit deur die Gees te vra om jou innerlik sterk te maak en moed te laat hou totdat die Here Homself aan jou openbaar, die middelste deel van die vers.

“Hou moed” is letterlik: “laat jou hart sterk wees”. Dws, staan eerstens sterk in jou oortuiging dat God daar is, en weier tweedens om in te gee vir enige gedagtes van moedeloosheid asof God nie bereikbaar is in gebed nie.

Dick Eastman noem dit “woordelose aanbidding”, of “stil vertroue”. Soos Dawid in Psalm 46 sê:

11Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” 12 Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, ‘n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Sela. (Ps 46:11)

Soos die Hebreërskrywer dit stel:

Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek. (Hebr 11:6)

Andrew Murray sê hieroor:

“Dit is die geheim van ‘n lewe van gebed. Om tyd te neem in die binnekamer. Om te buig en te aanbid. Om te wag op Hom totdat Hy Homself openbaar en jou in besit neem en jou leer … hoe ‘n mens in ‘n blywende gemeenskap met ‘n onsigbare Here kan leef en wandel.”

2. Die tweede manier van wag, is om te wag op ‘n belofte van die Here vir ‘n saak wat jy voor Hom bring.

Jy wag op die Here dat Hy ‘n woord aan jou gee as belofte vir ‘n situasie sodat jy dit kan bid vir die situasie. Dit is dus ‘n meer aktiewe wag op die Here.

In een van die pelgrimsliedere leer die Psalmboek gelowiges wat vasgevang sit in hulle sondes om “uit die dieptes” te roep na die Here, om Hom te vra om aandagtig te luister na hulle smeekbedes, en die volk van hulle sondeskuld te bevry.

5 Ek wag op die Here; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop6 My hele wese wag op my Heer, meer as wagte op die môre, ja, wagte op die môre. (Ps 130:5-6)

Dieselfde geld situasies waarvoor jy nie antwoorde het nie, en jy die Here se aangesig soek om insig en uitkoms.

Dit is wat ons by Habakuk leer. In Habakuk 1 worstel hy met die verval in die samelewing. Die wet het sy krag verloor. Die goddeloses omsingel die regverdiges. En Habakuk wonder hoe dit moontlik is dat die Here niks doen nie. Hy bid dat die Here sal antwoord:

1 Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. (Hab 2:1)

En dan kom die belofte – trouens die Here sê hy moet dit sommer op kliptafels skryf sodat mense dit maklik kan lees. Die Here gaan optree, soveel só dat Habakuk daardie beroemde woorde kan neerskryf:

“Al sou vyebome nie bot nie … nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos.” (Hab 3:17-18).

Prakties

Om te wag op die Here kan so eenvoudig wees as om doodgewoon stil te wees en jou gedagtes op Hom te fokus as Vader, Seun en Heilige Gees.

Daar is só min stilte rondom ons, soveel gedagtes wat ook in onsself rondmaal, dat ‘n paar minute van absolute stilte wondere sal verrig om jou in die teenwoordigheid van die Here in te neem.

Ek gaan egter Psalm 33 gebruik om jou te help om op die Here te wag. In die tweede deel van die Psalm word God vir sy alwetendheid (vers 13-15), almag (vers 16-19) en hulp (vers 20-22) geloof.

Die Psalm bely dat God ons denke en dade vorm as ons in ontsag vir Hom lewe. Hy sorg vir almal wat hulle hoop op Hom stel. Daarom wag ons met ons hele wese op die Here. Ek gee aan die einde van die geskrewe dokument op die webtuiste nog meer opsies vir jou gebruik in die toekoms.

Ek gaan telkens ‘n paar verse uit die Psalm lees en dan stilte met musiek op die agtergrond (Solitude) dat jy die woorde kan gebruik om tot stilstand kan kom, om op die Here te wag. Aan die einde sluit ek af met die laaste deel van die Ons Vader.

Gebed

18 Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde.

Stilte

20 Met ons hele wese wag ons op die Here; Hy is ons hulp en ons skild. 21 Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy heilige Naam vertrou ons.

Stilte

22 Mag u troue liefde oor ons wees, Here, terwyl ons op U wag!

Stilte

13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)

Opsies vir die toekoms

Jy kan hierdie vyftien verwysings uit die Psalms gebruik: Ps 27:14; 33:18, 20-22; 37:34; 38:16; 59:10; 69:4; 119:43, 74, 81, 114, 147; 130:5-7; 131:3; 145:15.

Ook hierdie agt verwysings uit die res van die Bybel: Spr 8:34; 20:22; Jes 8:17; 30:18; 33:2; 40:31; 64:4; Miga 7:7.

Die derde gebed is Bely.

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Waak en bid - Pinkster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda