07 Vra
Ons kom by die sewende element van gebed: Vra (Youtube).
Ons Vader
Andrew Murray sê daar is eintlik net twee tipe gebede – gebed vir persoonlike behoeftes, en gebed wat vir ander intree by God. En hy moedig ons aan om meer van voorbidding vir ander te maak as van gebed vir persoonlike behoeftes (Met Christus in die skool van gebed).
Ons kan egter vrymoedigheid neem om te vra, selfs vir baie persoonlike goed. En ons moet net onthou dat selfs in gebed vir persoonlike behoeftes is dit in die konteks van “ons” behoeftes.
Dit is soos die Here Jesus vir ons geleer het. Nadat ons vir “God” se Naam, koninkryk en wil gebid het, bid ons ook vir “ons” brood, vergifnis, bewaring en verlossing:
11 Gee ons vandag ons daaglikse brood. 12 En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. 13 En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. (Matt 6:11-13)
‘n Paar opmerkings oor hierdie drie gebede:
- Die meervoud “ons” help ons om nie selfsugtig te wees nie. Dit is in die antwoord op die “ons” gebed wat ook die antwoord op ons eie behoeftes geleë is.
- Soos brood die eerste behoefte is van die liggaam, só is vergifnis die eerste behoefte van die siel. En die belofte van voorsiening vir die een is net so seker as die voorsiening vir die ander. Dit hang saam met ons status as “kinders” van God, maar ook gelyktydig as “sondaars”.
- Ons kan ook nie vir vergifnis vra as ons nie bereid is om ander te vergewe So seker as wat ons op God vir vergifnis kan staatmaak, so seker moet ander op ons vergifnis kan staatmaak.
- Daarby kom die gebed rondom bewaring in versoeking en die verlossing van die Bose wat te make het met die gebed vir ‘n heilige lewe, ‘n lewe wat aan God die eer sal gee, wat sy Naam sal heilig, sy koninkryk sal laat kom, en sy wil sal laat geskied.
Die “Ons Vader” is ‘n gebed vir alle seisoene. Dit is die gebed waaraan alle ander gebede gemeet kan word. Dit is die struktuur vir ons gebede, tereg die primêre model van ons gebede, die een gebed wat die Here Jesus self vir ons voorgeskryf het.
Vra en vir julle sal gegee word
Wat ons egter nodig het om hierdie gebed regtig te kan bid, om met vrymoedigheid hierdie tipe dinge van God te vra, is die sekerheid dat ons gebed gehoor en verhoor sal word.
Gelukkig is dit ‘n tema regdeur die Skrif dat God antwoord, dat God sy beloftes vervul, dat God gee wat ons vra.
Let op hoe Jesus die dissipels daarvan verseker in Lukas 11:
9 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10 Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word.
Ses keer onderstreep die Here dieselfde ding, net met verskillende woorde, en op verskillende maniere: Vra, soek, klop. Want, vir julle gegee word; julle sal vind; vir julle sal oopgemaak word.
Dit is wat gebed is. Om te vra en te ontvang. Om te soek en te vind. Om te klop en voor oopgemaak te word.
Jesus begrond hierdie sekerheid in die Vaderskap van God sowel as sy gawe van die Heilige Gees:
11 “Watter vader onder julle sal, as sy seun hom ‘n vis vra, hom ‘n slang in plaas van ‘n vis gee? 12 Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen gee? 13 As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!” (Luk 11:9-13)
Ons hoef nooit te twyfel oor God se bereidheid om te gee nie. Hy sal gee. Hy sal jou laat vind. Hy sal vir jou oopmaak.
Jy moet vra!
Maar, dan moet jy vra! Dit is nie dat die Vader nie weet wat jy nodig het nie (Matt 6:23). Hy weet wat ons nodig het nog voor ons Hom vra. Soos Dawid in daardie bekende Psalm 139 sê:
1 Here, U ondersoek my en U ken my. 2 U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het. 3 My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. 4 Ja, daar is nog nie ‘n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, Here, dit volledig! (Ps 139:1-4)
Die rede hoekom ons moet vra, is dat God vir ons wil gee wat ons nodig het in ‘n verhouding met Hom. Hy wil nie net vir ons die dinge gee wat ons vra sonder dat ons bewus is daarvan nie. Hy wil ons deel maak van die proses. Sy hart word bly as ons bly is.
Ons lees bv van Jabes, die man wie se ma so swaar aan hom gedra het dat sy dit in sy naam verewig het. Jabes beteken “pyn”. Hy was waarskynlik ‘n baie groot baba! Maar:
10 Jabes het die God van Israel aangeroep: “As U my tog maar net sal seën, my grondgebied sal vergroot en as u hand by my sal wees! Weerhou onheil van my, sodat ek nie smart ervaar nie.” (1 Kron 4:9-10)
En wat sê die Skrif het gebeur met hierdie gebed?
God het toe laat gebeur wat hy gevra het. (1 Kron 4:10)
Dit is regdeur die Skrif so:
- Die Here God wil dit weer laat reën in Israel (1 Kon 18:1), maar Elia moet bid daarvoor – 1 Konings 18:41-46.
- Die Here Jesus stap by die blinde bedelaar Bartimeus, verby en gaan staan stil by hom. Maar, dan vra Jesus steeds, “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En Jesus genees hom eers wanneer hy antwoord: “Rabboeni, dat ek kan sien.” – Markus 10:46-52.
- Die Here Jesus wil die gemeente in Jerusalem seën met die Heilige Gees (Hand 1:4), maar hulle moet eendragtig volhard in gebed daarvoor – Handelinge 1:14.
Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Inderdaad. Dit is hoe dit met hierdie deel van die gebed werk.
Jy moet volhard
Dit beteken egter ook dat ‘n mens in dié gebed moet volhard.
1. As die antwoord nie onmiddellik kom nie, kan dit wees dat daar iets is wat reggestel moet word. Hetsy in die inhoud van wat jy vra, of in die motivering waarmee jy vra.
Soos ons in die sondebelydenis gebed by Jakobus geleer het. Die Here hou baie keer iets terug, omdat ons op die verkeerde manier vra, omdat ons net ons sondige behoeftes wil bevredig (Jak 4:3).
Dan is die oplossing om te vra dat die Gees ons deur die Woord sal harte sal suiwer sodat ons ons kan reinig van enige selfsug of selfs daadwerklike sonde in ons lewe (Jak 4:8).
Want, God is baie meer bereid om ons gebede te beantwoord as wat ons bereid is om Hom te vra. In die volharding in ons gebed reinig die Here ons motivering totdat ons volkome in lyn met sy wil kan vra.
2. Soms kry ons nie wat ons vra nie, omdat ons nie spesifiek genoeg is in ons gebede nie. Die Here antwoord nie in die algemeen nie – behalwe dat Hy natuurlik reën en sonskyn en ander dinge vir ons gee wat deel is van sy algemene voorsiening. Maar, die gebede wat God beantwoord is gebede wat vir vis vra, of vir ‘n eier, soos die voorbeelde wat die Here Jesus aanhaal.
3. Soms is God se antwoord negatief, omdat die versoek nie volgens sy wil is nie. Soos toe Moses by die Here gepleit het om die land saam met die volk binne te gaan, maar die Here wou nie na hom luister nie. Trouens, die Here het vir Moses gesê: “
“Dit is nou genoeg! Moet nooit weer met My oor hierdie saak praat nie! (Deut 3:26)
So het talle geloofshelde dit ervaar.
- Jeremia toe hy gebid het in ‘n tyd van droogte dat die Here die volk genadig sal wees en sy besluit om hulle in ballingskap te stuur, sal terug trek (Jer 14).
- Jesus toe Hy in Getsemane drie keer gebid het dat die beker van lyding Hom sal verbygaan (Matt 26).
- Paulus toe hy gebid het oor die doring in die vlees (2 Kor 12:7).
Maar, dit is nooit dat die Here nie antwoord nie. Jeremia het ‘n baie spesifieke antwoord gekry. In detail. Jesus het Homself neergelê by die wil van die Vader wat al lank al vir Hom uitgespel is. Paulus het aanvaar dat God se genade vir hom genoeg is.
Maar, die punt is, ‘n mens moet volhard in die gebed, totdat jy ‘n antwoord het.
Dit is wat bedoel word met die “gebed van geloof”. Dit is om te bid tot jy ‘n antwoord het. Dit is nie om in alle gevalle te kry wat jy vra nie. Maar, om in alle gevalle, ‘n antwoord te kry.
Daaroor kan ‘n mens nog baie sê, maar ek wil afsluit met die positiewe uitnodiging van gebed. Soos Jesus sy dissipels geleer het:
13 En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. 14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Joh 14:12-14).
Alle gebed in Jesus se Naam, wat bedoel is om God te verheerlik, sê Jesus sal Hy positief beantwoord.
En later in daardie selfde gesprek met sy dissipels, sê Hy:
7 As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. 8 Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.” (Joh 15:7-8).
Prakties
Die sleutel tot hierdie element van gebed lê in vier beginsels:
- Die versoek moet kom uit ‘n intieme verhouding met die Here Jesus deur sy Woord en Gees.
- Die versoek moet spesifiek Jy moet kan opstaan van jou knieë en self presies kan herhaal wat jy van die Here gevra het.
- Die versoek moet deurdag Jy moet – selfs in jou gebed – die behoefte van alle kante beskou en deur gesels met die Here tot jy jou versoek eenvoudig kan formuleer. Dit moenie ‘n preek wees nie! Maar, dit moet deurdag wees.
- Die versoek moet opreg Jy moet jou eie hart en motiewe ondersoek dat die versoek van alle selfsug en sonde gesuiwer kan wees.
Ek gaan jou geleentheid gee om eers na te dink oor die dinge wat jy vir die Here wil vra. Dink daaroor as ‘n voortgaande gesprek met die Here. Maak ‘n lys van die dinge wat jy nodig het vir die dag. Ek speel sagte musiek op die agtergrond (Take a Moment).
Gebed
Dink na oor sake wat jy vir die Here wil vra.
Stilte
Bid nou een vir een van die sake deur en wees spesifiek. Dink dit goed deur en ondersoek ook jou hart waarom dit vir jou belangrik is.
Stilte
Jy kan natuurlik meer tyd neem om dié versoeke verder te neem. Onthou om dit neer te skryf in jou joernaal. Ons sluit af met die bevestiging van ons geloof:
13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)
Die agste gebed is Sê dankie (Youtube).
Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.
View all posts in this series
- Waak en bid – Pinkster 2021 - May 7, 2021
- 00 Waak en bid – inleiding - May 13, 2021
- 01 Aanbid
- 02 Wag - May 14, 2021
- 03 Bely - May 15, 2021
- 04 Bid die Woord - May 16, 2021
- 05 Waak - May 17, 2021
- 06 Tree in - May 18, 2021
- 07 Vra - May 19, 2021
- 08 Sê dankie - May 20, 2021
- 09 Sing
- 10 Dink na - May 21, 2021
- 11 Luister - May 22, 2021
- 12 Loof - May 23, 2021
- Waak en bid – ‘n uur van gebed – prakties - June 10, 2021
- Waak en bid – die hele reeks
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
hans de beer
wie en wat was juda in die bybel dit kom nou al 2 dae by my op
Chris van Wyk
Hi Hans, hier is een ensiklopedie se bydrae:
JUDAH (יְהוּדָה, yehūdhāh; in Gen 29:35 B, Ἰούδαν, Ioúdan, A, Ἰούδα, Ioúda; elsewhere B and A, Ἰούδας, Ioúdas): The 4th son born to Jacob by Leah in Paddan-aram (Gen 29:35, etc).
Of this patriarch’s life only scanty details remain to us. He turned his brethren from their purpose to slay Joseph, persuading them to sell him to the Midianites at Dothan (37:26 ff). A dark stain is left upon his memory by the disgraceful story told in ch 38. Reuben forfeited the rights of primogeniture by an act of infamy; Simeon and Levi, who came next in order, were passed over because of their cruel and treacherous conduct at Shechem; to J., therefore, were assigned the honors and responsibilities of the firstborn (34; 35:22; 49:5 ff). On the occasion of their first visit to Egypt, Reuben acted as spokesman for his brethren (42:22, 37). Then the leadership passed to J. (43:3, etc). The sons of Joseph evidently looked askance upon J.’s promotion, and their own claims to hegemony were backed by considerable resources (49:22 ff). The rivalry between the two tribes, thus early visible, culminated in the disruption of the kingdom. To J., the “lion’s whelp,” a prolonged dominion was assured (49:9 ff).
Tribe of Judah
The tribe of Judah, of which the patriarch was the name-father, at the first census in the wilderness numbered 74,600 fighting men; at Sinai the number “from 20 years old and upward” was 76,500 (Nu 1:27; 26:22; see NUMBERS). The standard of the camp of J., with which were also the tribes of Zebulun and Issachar, was to the E. of the tabernacle “toward the sunrising,” the prince of J. being Nahshon, the son of Amminadab (2:3). Caleb, the son of Jephunneh, represented J. among the spies (13:6); he also was told off to assist at the future allocation of the tribal portions (34:19).
Territory
The land assigned to J. lay in the S. of Pal (see JUDAH, TERRITORY OF), comprising part of the mountain, the Shephelah, and the maritime plain. The information given of its conquest is meager and cannot be arranged in a self-consistent story. In Josh 11:21 ff, the conquest is ascribed to Joshua. Caleb is described as conquering at least a portion in Josh 14:12; 15:13 ff; while in Jgs 1 the tribes of J. and Simeon play a conspicuous part; and the latter found a settlement in the S. within the territory of J. The tribal organization seems to have been maintained after the occupation of the land, and J. was so loosely related to the northern tribes that it was not expected to help them against Sisera. Deborah has no reproaches for absent J. It is remarkable that no judge over Israel (except Othniel, Jgs 3:9–11) arose from the tribe of J. The first king of all Israel was chosen from the tribe of Benjamin. This made acquiescence on the part of J. easier than it would have been had Saul sprung from the ancient rival, Ephraim. But the dignity of J. was fully vindicated by the splendid reigns of David and Solomon, in lineal descent from whom the Saviour of the world should come. The further history of the tribe is merged in that of Israel.
Ewing, W. (1915) “Judah,” The International Standard Bible Encyclopaedia. Edited by J. Orr et al. Chicago: The Howard-Severance Company.