Sabbat – Sondag
Ek het al verskeie kere geskryf oor die verband tussen die Sabbatdag en Sondag en hoe ‘n mens daaroor moet dink. Lees hier, en hier.
Hier is nog ‘n bydrae om oor na te dink.
1. Joodse Christene het aanvanklik steeds die Sabbat gevier, sowel as die Sondag saam met gelowiges uit die heidene.
Die Joodse Sabbatdag is uiteraard steeds die sewende dag, dws Saterdag, soos die wet dit voorskryf. Die vroeë Joodse Christene het daarom steeds die Sabbat gevier. Maar, hulle het ook die Sondag as die Opstandingsdag saam met die Christene uit die heidene gevier, soos ons uit Handelinge en Paulus se briewe agterkom.
2. Met verloop van tyd het Christene egter nie meer die Sabbat gevier nie.
Dit was veral soos die breuk met die Joodse godsdiens al hoe groter geraak het. Net die Sondag is uiteindelik gebruik as die dag wat Christene bymekaar gekom het vir hulle byeenkomste – nagmaal, doop, dankoffer, prediking, ensomeer.
3. Paulus het daarin ‘n sleutelrol gespeel.
Wat hiertoe bygedra het, is die briewe van Paulus waarin hy die Joodse dwang op die viering van allerhande feeste en dae afgewys het, soos ook die besnydenis. Die Sabbat is ook nie deur die “kerkvergadering” van Jerusalem afgedwing op gelowiges uit die heidene nie (Hand 15).
Paulus verklaar bv in Galasiërs 4:8-11 dat die gelowiges uit die heidene nie allerhande dae, maande, tye, en jare moet waarneem met die idee dat dit hulle meer heilig maak as ander nie, omdat dit hulle fokus wegneem van Christus af:
“Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.”
Paulus wys egter in Romeine 14:5-6 dat daar ‘n vryheid is om wel dae uit die Joodse tradisie te vier as ‘n mens só oortuig is, maar dat dit nie ander se vryheid om nie sulke dae te vier nie, aan bande lê nie:
“Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here.”
Daarom is Paulus baie helder daaroor in Kolossense 2:16, trouens, baie skerp daaroor:
“Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie.”
4. Dit is waarom ons Gereformeerde vaders in die reëlings rondom die vierde gebod net gepraat het van ‘n “rusdag” en nie al die reëls van die Sabbatdag op gelowiges van toepassing gemaak het.
Lees gerus in Sondag 38 Vraag 103 van die Heidelbergse Kategismus:
Wat gebied God in die vierde gebod?
Antwoord: God wil ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).
(a) Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:14:16. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar