Op watter dae het die kruisiging en opstanding plaasgevind?

Markus noem die dag van die kruisiging die “voorbereidingsdag” – dws die dag waarop voorbereidings vir die sabbat getref is, sodat dit as ‘n rusdag kan dien – en beskryf dit dus as die dag voor die sabbat, dws die sewende dag van daardie week (Mark 15:42). Hy beskryf die dag van die opstanding as die oggend ná die sabbat, die eerste dag van die volgende week (Mark 16:1-2).
Volgens Markus was die kruisiging dus op die Vrydag en die opstanding op die Sondag, dws enige tyd ná die vorige aand 18:00, want die Sondag het al die vorige aand begin volgens die Joodse beskouing.
Matteus doen dieselfde, maar op ‘n ander manier. Hy noem die “volgende dag” ná die kruisiging die dag “ná die voorbereidingsdag” (Matt 27:62). Dit is die dag waarop die leierpriesters en Fariseërs Pilatus gevra het om die graf te verseël. Hy praat dus van die volgende dag as die dag van die sabbat, dws die Saterdag, want Matteus sê net daarna, “ná die sabbat”, toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, dws die Sondag, het Maria-hulle die graf leeg gevind (Matt 28:1).
Volgens Matteus het die kruising dus ook op die Vrydag plaasgevind en die opstanding op die Sondag (enige tyd sedert Saterdagaand volgens Joodse beskouing).
Lukas is net so helder soos Markus en Matteus daaroor dat die kruisiging plaasvind op die “voorbereidingsdag” net voor die sabbat sou aanbreek die Vrydagaand (Luk 23:54). Die vroue het op die sabbat gerus (Luk 23:56) en baie vroeg die môre, op die eerste dag van die week, dws die Sondag, by die graf gekom en dit leeg gevind (Luk 24:1-2).
Volgens Lukas het die kruisiging dus ook op die Vrydag plaasgevind en die opstanding op die Sondag, tegnies enige tyd sedert 18:00 die vorige aand.
Johannes vertel dit ook soos die ander evangelies dit vertel, maar met ekstra inligting. Om die waarheid te sê, hy vertel dit vanuit drie hoeke.
Pilatus gee in ‘n eerste rondte die opdrag vir die kruisiging op die voorbereidingsdag vir die pasga (Joh 19:14).
Ná die kruisiging kom die Jode in ‘n tweede rondte na Pilatus, steeds op die “voorbereidingsdag”, en vra dat die liggame verwyder word voor die sabbat wat daardie aand sou begin. Johannes gee ‘n kantaantekening dat hierdie sabbat ‘n “groot dag” genoem is. En hier raak dit duidelik dat die voorbereiding baie besonders was, want dit was vir die pasga sowel as vir die sabbat (Joh 19:31). Hierdie voorbereidingsdag word dus uitgespel as ‘n dag wat nie net op die pasga betrekking het nie, maar ook op die sabbat. Die voorbereiding vir die pasga en die voorbereiding vir die sabbat was dus op dieselfde dag.
In ‘n derde rondte kom Josef van Arimatea en Nikodemus na Pilatus en vra dat hulle Jesus kan begrawe, omdat dit die “voorbereidingsdag” was en die sabbat binnekort sou aanbreek die aand 18:00 (Joh 19:42). Johannes vervolg die verhaal deur letterlik direk daarna in die volgende vers te vertel dat Maria Magdalena op die eerste dag van die week, dws die Sondag, by ‘n leë graf aangekom het (Joh 20:1). Weereens, die opstanding moes dus êrens op die Sondag gebeur het vóór dagbreek, want die Sondag het al die vorige aand begin volgens die Joodse beskouing.
Volgens Johannes het die kruisiging dus ook plaasgevind op die Vrydag en die opstanding die Sondag, weereens, met die Joodse beskouing in ag geneem dat dit enige tyd sedert 18:00 die Saterdagaand kon gebeur het.
Die kruisiging het dus volgens Bybelse getuienis plaasgevind op die Vrydagmôre. Die opstanding het plaasgevind op die Sondag, vóór dagbreek.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Petrus
Beste Chris,
Ek sien iemand het klaar gevra na die 3 dae? Dit is regtig een van die mees onduidelike gedeeltes. Waar kom die “Jona” verhaal dan in waar dit duidelik 3 dae was. Jesus self praat van 3 dae, dus hoe is dit net basies 1 dag en 2 nagte: Vrydag agtermiddag, Saterdag, Sondag oggend? Daar is rede om te glo dat die kruisig al die Donderdag plaasgevind het. Ek het al na baie verklarings geluister en dis asof niemand dit regtig wil verklaar nie en dus net vinnig noem in ‘n preek?
Chris van Wyk
Hi Petrus
Jesus is gekruisig en begrawe op die Vrydag (die dag het sononder die vorige dag die Donderdag begin). Jesus was die Saterdag in die graf (Vrydagaand tot Saterdagaand). Jesus het opgestaan op die Sondag êrens vóór dagbreek. Jesus was dus dood en in die graf vir drie kalenderdae.
Ek het al geskryf oor die wyse waarop die Evangelies oor die drie dae praat. Ek herhaar dit hier.
1. Jesus was op elkeen van drie dae in die graf. Die Vrydagmiddag (voor die sabbat begin het, dws die Saterdag), die hele Saterdag, en ongeveer die helfte van die Sondag wat die vorige aand begin het. Dit kom ooreen met beide die voorspellings wat Jesus gemaak het, selfs die voorspellings in die OT, en hoe die kerk na die tyd daaroor berig het, onder andere Paulus.
2. Jesus se verwysing na Jona se “drie dae en drie nagte” (Matt 12:40) was ‘n Hebreeuse idioom wat vir enige kombinasie van ‘n deel van drie verskillende dae gebruik is. So skryf RT France in sy Jesus and the Old Testament en D A Carson in die Expositors Bible Commentary. ‘n Mens sien die Hebreeuse idioom aan die werk in 1 Samuel 30:12-13 waar die frase gebruik word om iemand se uitputting aan te dui, sonder om daarmee ‘n presiese tydsaanduiding te gee. Iets soortgelyks sien ‘n mens in 2 Kronieke 10:5 en 12 waar Rehabeam mense wegstuur om na drie terug te kom, maar hulle kom reeds op die derde dag terug. Dieselfde gebeur in die boek Ester waar sy die Jode beveel om drie dae en nagte te vas, maar dan “op die derde dag” voor die koning verskyn (Est 4:16; 5:1). Hulle het dus waarskynlik die aand van die eerste dag begin, maar nie die vas die derde dag klaar gemaak nie en tegnies dus volgens ‘n letterlike verstaan net twee dae lank gevas. Dit kon egter steeds aangedui word as drie dae en nagte.
3. Dit verklaar hoekom Jesus na Jona se ervaring kan verwys as ‘n voorbeeld vir wat met Homself gaan gebeur, maar in werklikheid nie presies dieselfde tyd in die graf gaan wees nie, soos die res van die getuienis in die Evangelies dit uitspel.
4. Om dit regtig te verstaan, moet ‘n mens alles wat Jesus self daaroor voorspel lees in die Evangelies om jou begrip daarvan te kan vorm. Jesus self sê dat Hy na drie dae sal opstaan (Mark 8:31; 9:31; 34). Hy sê egter ook dat Hy “op die derde dag” sal opstaan (Luk 9:22). Trouens, op nog ‘n plek verklaar Jesus dat Hy “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58). Dié verwysings wys dat ‘n mens nie te letterlik moet omgaan met die opmerking oor Jona se drie dae en drie nagte nie, of oor die ná, óp, of binne uitsprake nie, maar dit idiomaties en vloeibaar moet interpreteer soos dit gerapporteer is in die Evangelies. Dit is immers duidelik uit die wyse waarop in daardie tyd na dae verwys is, dat ‘n deel van ‘n dag ook as ‘n dag getel het wat die nag ingesluit het, omdat die dag die vorige aand begin het. Die Jode het die dae van sononder tot sononder getel wat ‘n vloeibaarheid in die verwysing na ‘n dag tot gevolg gehad het. Daarom kon Jesus sê “na drie dae” en “binne drie dae”. Dit het vir hom dieselfde betekenis gehad.
5. Die Evangelies se getuienis kom verder ooreen met Paulus se getuienis wat vir ons sê Jesus is: “OP die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” (1 Kor 15:4). Paulus verwys hier na Hosea 6:2: “Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan”, wat in Hosea eintlik net dui op die sekerheid van God se verlossing waarop die volk kan staatmaak, maar in die lig van Jesus se kruisiging en opstanding nuut geïnterpreteer word. Vir die volk belowe God dat sy oordeel baie vinnig opgehef sal word as hulle na Hom toe terugkeer. God wil hulle juis só motiveer om te reageer op sy aanbod. Die oorlog sal net twee dae duur! Vir Jesus het dit die betekenis gehad dat die tydperk van Jesus se dood net twee dae sal duur, dws op die derde dag sal Hy opstaan. So het Paulus dit uitgelê.
Petrus
Beste Chris
Ek het geleees van die 16 Nissan, 17 tot 19 wat 3 dae is.
Vraag: Waarom vertel die Bybel dit nie so dat ons die 3 dae kan sien en verwarrings gespaar word nie? Almal weet die kalender is nie soos oorspronklik en dat Paasnaweek net soos Kersfees ‘n herdenkingsdag is wat ons moet fier. Daarom, skryf die Bybel reg sodat dit sin maak. Die vraagstuk word baie deur ongelowiges en ander gelowe gevra en dan het ek/ons nie logiese antwoorde nie.
Chris van Wyk
Hi Petrus, ek het op jou ander navraag volledig gereageer. Hier net die volgende: ‘n mens moet probeer sin maak van wat geskrywe staan, en waak teen ‘n inlees in die teks as jy nie verstaan nie. As die verduideliking oor die gebruik van ‘n Hebreeuse idioom nie vir jou sin maak nie, gebruik dan die fisiese beskrywing van die Evangelies wat duidelik van Vrydag tot Sondag praat as ‘n verklaring van wat met die kruisiging en opstanding gebeur het. Ons kan egter nie aan die Bybel verander as ons dit nie presies verstaan nie. Aanvaar eerder dat daar dinge is wat jy nie kan verklaar nie, en werk met dit wat wel verklaarbaar is. Die feit is dat Jesus gesterf, en begrawe is, en daarna opgestaan het. Dit is die feite van sy lewe wat vir ons die verlossing bring.
Petrus
Beste Chris
Dankie. Die verduideliking van hoe die 3 dae bymekaarkom is nie logies nie, maar soos jy se moet ons nie alles probeer verstaan nie en net glo in Die Blye Boodskap.