Skip to main content

05 Waak

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

Ons kom by die vyfde element van gebed. Om te Waak.

Daar word nie baie oor hierdie deel van gebed gepraat nie. Geen wonder nie, want dit is nie ‘n maklike deel van gebed nie. Die kere waar die Bybel van hierdie tipe gebed praat, is dit duidelik dat die bidders dit moeilik vind.

Jesus het alreeds in sy aardse bediening ten minste drie gelykenisse gebruik om sy dissipels te leer wat waaksaamheid beteken in terme van die wederkoms.

  • Hy het hulle eerstens aangemoedig om soos slawe te wees wat waak op hulle heer se terugkoms. (Luk 12:35–40)
  • Hy het hulle tweedens aangemoedig om te wees soos die huiseienaar wat waak vir die dief al weet hy nie watter tyd van die nag die inbraak sal plaasvind nie. (Mark 13:32-37; Matt 24:36-44)
  • Hy het hulle derdens aangemoedig om te wees soos die verstandige vyf jongmeisies wat ekstra olie vir hulle lampe gehad het in hulle waak vir die bruidegom se koms. (Matt 25:1-13)

Daarmee het Hy alreeds die dissipels die regte houding ten opsigte van die wederkoms aangeleer. Maar, daar is meer. Dieselfde geld ons gebedslewe.

En dit is oor hierdie tipe houding waaroor “om te waak” in gebed gaan.

Jesus in Getsemane

Ons leer dit by Jesus self. Jesus het bloed gesweet in Getsemane toe Hy sy dissipels gevra het om saam met Hom te “waak en bid” in sy uur van droefheid voor die kruis (Matt 26:41). Twee keer het Hy sy dissipels aangemoedig:

38 Bly hier en waak saam met My.” (Matt 26:38)

En nog ‘n keer:

41 Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. (Matt 26:41)

Jesus se gebed was só ernstig dat ‘n engel uit die hemel aan Hom verskyn het om Hom te versterk. En kon Hy die gebed enduit bid, selfs al is Hy deur intense angs oorval toe Hy daarna nog ernstiger gebid het met sy sweet wat soos druppels bloed op die grond geval het.

Wees waaksaam

Ons moet dus sy voorbeeld navolg, moeilik of te nie. “Om te waak” is ‘n wesenlike deel van ons gebed. Daarsonder kan ‘n mens nie regtig intree vir sake wat regtig van belang is nie.

Daarom daag Paulus ons uit:

2 Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid. (Kol 4:2)

Paulus gebruik hier die Griekse woord grēgoreō wat beteken om “wakker te bly” en “waaksaam te wees”, soos ‘n wag by ‘n huis. “Om te waak” is om met al jou aandag te bid totdat jy die wil van die Here kan onderskei.

Die doel van hierdie gebed is om te bid vir die geestelike weerbaarheid van jouself en die gelowiges om jou. Soos Petrus sê:

8 Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos ‘n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. 9 Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur. (1 Pet 5:8-9)

Petrus roep ons dus op om die wrede veldtogte van die Duiwel teen te staan, om te bid dat ons as gelowiges standvastig in die geloof sal bly, want alle gelowiges verduur dieselfde soort lyding.

Paulus sluit ook hierdie oproep in. In sy gedeelte oor die wapenrusting van die gelowige sê Paulus:

18 By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die heiliges. (Ef 6:18)

Ons is verantwoordelik om nie net vir onsself nie, maar vir al die heiliges in te tree, te bid en te smeek, volhardend te pleit, vir hulle “waaksaam te wees”.

Let ook op dat Paulus hierdie gebed verbind aan gebed “deur” of “in die Gees”. Jesus het dit al genoem in sy gesprek met die Samaritaanse vrou:

God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. (Joh 4:24)

Judas, een van die aardse half-broers van Jesus, het dit geëggo in die afsluiting van sy brief:

20 Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid. (Judas 20)

Hoekom? Want dit is wat die Gees ook binne ons doen! Soos Paulus sê:

26 So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. 27 Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree. (Rom 8:26-27)

Die voorbeeld van Daniël

‘n Goeie voorbeeld van hierdie gebed kry ons by Daniël hoofstuk 10-12 in die OT. Ons lees in vers 1:

1 In die derde regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, is ‘n woord geopenbaar aan Daniël, wat Beltsasar genoem is. Die woord is betroubaar en gaan oor ‘n groot stryd. Hy het die woord verstaan en insig gekry in die openbaring. (Dan 10:1)

Dit is twee jaar na sy vorige gebed in Daniël 9 waar sy gebed rondom God se beloftes in Jeremia gelei het daartoe dat ‘n deel van die volk terug gekeer het na Jerusalem. Maar dan lees ons:

2 In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. 3 Aangename kos het ek nie geëet nie, en vleis en wyn het by my mond nie gekom nie. Ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke verby was.

Daniël het hierdie gebed as ‘n rouproses ervaar waarin hy selfs nie vir kos kans gesien het nie. Hy het getreur. Daniël het hom selfs van “lekker eet” weerhou, selfs van die Paasfees vieringe wat in hierdie tyd plaasgevind het (14de van die eerste maand, Nisan), want hy het nie vleis geëet nie, en die hele tyd in gebed op God gewag om die lot van sy volk by die Here uit te vind.

Die eerste deel van die volk was nou al amper twee jaar terug in die land, maar dit het nie goed gegaan met hulle nie. Die altaar vir die Here is herbou en die fondamente vir die tempel gelê, maar verder het hulle nie gekom nie. En daar was ongelooflike teëstand van die omliggende volke, veral die Samaritane.

En dit is ‘n situasie wat nie gou verander het nie. Dit leer ons by Esra en Nehemia wat ‘n eeu later steeds treur en die Here se aangesig soek.

Esra het getreur oor die sonde waarin die volk in Jerusalem geval het. Die volk het die gevaar geloop om hulle geloof te verloor weens die ondertrouery met ongelowiges (vgl Paulus – Rom 9:2). Gelukkig kon hy instemming by die volk kry om iets daaraan te doen en het hy hulle weer aan die wet van God gebind (Esra 9-10).

Nehemia het weer getreur oor die mure van Jerusalem wat steeds om gelê het. Die volk sou nooit kon floreer as nasie sonder die basiese veiligheidsmaatreëls nie. En Nehemia het vier maande lank gebid voordat die geleentheid gekom het om iets daaraan te doen (Neh 1:4). Gelukkig kon hy ook die geleentheid aangryp en het met die koning se toestemming die mure van Jerusalem binne 52 dae herbou.

Maar, hierdie proses van herstel kon net slaag weens hierdie gebed van Daniël. Na drie weke se gebed verskyn daar ‘n hemelse wese – dit lyk na die preëksistente Jesus as ‘n mens die visioen vergelyk met Jesus se openbaring aan Johannes (Openb 1) – aan Daniël:

11 Toe sê hy vir my, “Daniël, baie geliefde man, kry insig in die woorde wat ek met jou praat en staan op jou plek, want ek is nou na jou gestuur.” En terwyl hy hierdie woorde met my praat, het ek bewend opgestaan.12 Hy sê toe vir my, “Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde.” (Dan 10:11-12)

En Hy gee vir hom nie net ‘n visie van wat God in daardie tyd gaan doen nie, maar ‘n visie wat met die eerste koms van die Messias verband hou sowel as met die einde van die dae:

14 “Ek het toe gekom om jou insig te laat kry oor wat met jou volk sal gebeur aan die einde van die dae, want die visioen geld weer vir die toekoms.”

Prakties

Hierdie deel van die gebed veronderstel dus dat jy jouself afvra watter probleme gelowiges regdeur die wêreld ervaar in hulle getuienis en watter faktore daartoe bydra. Die uitdagings en die hindernisse. Slegs as jy ‘n goeie idee het van wat dit behels, kan jy regtig begin om te waak vir al die heiliges, en vir hulle “in die gees” in te tree.

‘n Mens kan nie eintlik hierdie deel van die gebed ernstig beoefen as jy nie jouself ingrawe in wat in die wêreld aangaan nie. Daarvoor moet jy nuus lees! Veral nuus oor sending. Skryf in vir die nuusbriewe van die sendingorganisasies en sendelinge wat jy ondersteun en lees hulle inligting biddend. Ook nuus oor die wêreld. Plaaslik en wêreldwyd. Lig jouself in oor die kwessies wat die verbeelding aangryp en bid dit deur met die Here.

Dit is alles doen ‘n mens “in die Gees”. Dws, jy bid dat die Gees jou sal lei hoe en waarvoor om te bid.

Ek gaan jou eers geleentheid gee om goed na te dink oor watter uitdagings en hindernisse gelowiges regdeur die wêreld het. Ek speel sagte musiek op die agtergrond (Solitude – Alternate Version).

Daarna gaan ek geleentheid gee om een saak voor die Here te bring en die Gees vra om jou te lei in ‘n “waak”-gebed. Ek sluit oudergewoonte met die laaste deel van die Ons Vader.

Gebed

Dink na oor uitdagings en hindernisse wat gelowiges plaaslik en wêreldwyd ervaar.

Stilte

Watter uitdaging of hindernis lê die Here nou op jou hart?

Stilte

Paulus roep ons op:

18 By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die heiliges. (Ef 6:18)

Bring die saak voor die Here en pleit vir sy optrede.

Stilte

Ons sluit af met die belydenis:

13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)

Die sesde gebed is Tree in.

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Waak en bid - Pinkster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda