Skip to main content

Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef

Paulus se goddelike roeping bepaal sy gesag – Gal. 1:1-5

Dit tref my dat Paulus die Goddelike oorsprong van sy apostelskap so beklemtoon aan die begin van hierdie brief.  Aan die een kant is dit ’n belangrike boodskap vir die Galasiërs, omdat dit juis sy status as apostel is wat in die gedrang is by hulle.  En die hele eerste twee hoofstukke sal daaroor handel.

Maar aan die ander kant tref dit my dat hierdie bewussyn  van ’n Goddelike roeping so ontsettend belangrik is in die Christelike lewe.  “Dat ek ’n apostel is” – en vervang die woord apostel nou maar met enige ander roeping wat God jou gee – “dank ek nie aan mense nie.  Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus” (Gal. 1:1-2).  Sonder hierdie besef kan ’n mens nie jou werk vir die Here met vertroue, verwagting en veral volharding doen nie.

Hierdie roeping kan baie vorms aanneem.  Sommige het ’n roeping na ’n amp (ouderling, diaken, kategeet, jeugwerker, leraar).  Ander het ’n roeping rondom ’n gawe (gasvryheid, leierskap, skilder, bemoediging, skryf, omgee). Nog ander het ’n roeping rondom ’n saak (armoede, onreg, misdaad, gesondheid, omgewing, gemeenskap, opvoeding).  Die vorm maak nie saak nie – die verbintenis aan ’n roeping wat God gee, maak baie saak.

Neem ’n tydjie vandag om na te dink oor jou roeping. 

  • As jy nie seker is daarvan nie, vra ’n oortuiging van die Here (en onthou, jy kan al reeds besig wees daarmee, al sien jy dit nog nie so raak nie!).
  • As jy seker is daarvan, maak dit weer ’n top prioriteit in jou lewe en stel jou vertroue weer in die Here om met verwagting en volharding jou roeping uit te leef.

Daar is geen ander evangelie nie! – Gal. 1:6-10

Let op dat Paulus in vers 6 nie soos gebruiklik met ’n dankie-sê begin nie.  In al sy vorige briewe  is daar ’n dankwoord vir die gemeente.  In sy brief aan die Tessalonisense dank hy God vir hulle geloof, hoop en liefde en aan die Korintiërs vir hulle gawes.  Trouens in al sy ander briewe is daar ook ’n dankwoord van een of ander aard: vir hulle geloof (Romeine), vir hulle samewerking in die evangelie (Filippense), vir liefde en trou (Filemon), vir hulle geloof en liefde wat vrug dra (Kolossense, Efesiërs).

Paulus begin hier egter onmiddellik met sy bekommernis oor hulle dat hulle so gou afvallig geword het en ’n ander evangelie aangeneem het.  En hy spreek ’n dubbele vloek uit oor enigiemand wat ’n ander evangelie verkondig as hy (Gal. 1:8-9).  Later sal hy skryf: “die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf” (Gal. 5:10).

Let op hoe Paulus hier drie stories vertel  om die besware teen sy apostelskap te besweer.

Paulus het sy evangelie van Jesus Christus self ontvang – Gal. 1:11-24

Paulus spel duidelik uit dat hy sy evangelie van Jesus Christus self ontvang het en dus nie van Jerusalem se apostels nie deur uit te brei op sy destydse vervolgingsgeskiedenis en genadige ontmoeting met God wat tot sy bekering en roeping gelei het, waarin, en dis belangrik, die ander apostels geen aandeel gehad het nie.

Die apostels het saamgestem met sy evangelie en gestuurdheid na nie-Jode – Gal. 2:1-10

Paulus verduidelik verder dat Jerusalem se mense saamgestem het met die greep wat hy op die evangelie gehad het met sy latere besoek, 14 jaar later, aan hulle, saam met Barnabas en Titus. Let ook op dat hy die besoek ook aan God se werk wyt!  Saam het hulle ’n verdeling van pligte gemaak: Petrus na die Jode, Paulus na die nie-Jode.  En die pilare van die gemeente,  Jakobus (waarskynlik Jesus se broer), Johannes en Petrus, het hulle instemming daarmee betuig.  Titus, wat van nie-Joodse afkoms was, is daarom ook nie besny nie, in lyn met die evangelie (in teenstelling met Timoteus, wat van gemengde Joods en nie-Joodse afkoms was en daarom wel besny is – vgl. Hand. 16:1-3).  Let ook op dat die saak van die armes hier al op die tafel gekom het, wat die klem daarop in die brief aan die Korintiërs (2 Kor. 8-9) en Romeine (Rom. 15) verklaar.

Petrus en Barnabas het van die evangelie afgewyk deur onderskeid te tref tussen mense – Gal. 2:10-24

Paulus wys dan onomwonde uit dat dit Jerusalem se mense is, Sefas by name, wat afgewyk het van die evangelie waaroor hulle saamgestem het.  Selfs Barnabas is daardeur meegesleur om te huigel.  Interessant dat hy aanvanklik Petrus se Griekse naam, Petrus, gebruik en dan voortgaan met Sefas, die Aramese vorm van die naam.  Miskien is dit ’n nie-so-subtiele beskrywing van ’n terugval in Joodse gebruike eerder as die universele boodskap van die evangelie.

Paulus se preek aan Petrus by dié geleentheid in Antiogië – wat hy aanhaal in Gal. 2:14 – word dan die sentrale argument waarop Paulus sy verdere boodskap aan die Galasiërs bou (Gal. 2:15-21), dat ’n mens nie vir Christus kan kies EN ook om die wet te onderhou nie.

Let op hoe hier een van die sentrale boodskappe van die Reformasie 16 eeue later ingebed lê: Solus Christus, Jesus Christus alleen (Gal. 2:16; 3:22,26,29; vgl. ook 3:14,16; 5:1,6). Uit die Reformasie is 5 solas gebore waarmee die boodskap daarvan opgesom kan word: Sola scriptura (deur die Skrif alleen),  Sola fide (deur geloof alleen),  Sola gratia (deur genade alleen), Solus Christus, (deur Christus alleen), Sola Deo gloria (tot die eer van God alleen). Die vyf solas moet as ’n eenheid gesien word.

Trouens, ons kry ál die solas in hierdie brief: Sola Gratia (Gal. 1:6,15; 2:21; 3:18; 5:4; vgl. ook Gal. 1:3 en 6:18 waar dit as ‘n groet en seën gebruik word); Sola fide (Gal. 3:22; 5:6; vgl. ook Gal. 1:23; 2:16,20; 3:14,23,25,26), Soli Deo Gloria (Gal. 1:5); Sola scriptura (Gal. 3:8,22; 4:30 waar die getuienis van die Skrif as openbaringsbron aangehaal word).  Dit is ook wonderlik om juis die samehang van dié sentrale leerstukke van die geloof in Paulus se argumentasie raak te sien.

Galasiërs 2:17-21 is ’n ingewikkelde argument waarmee Paulus eintlik net probeer sê: ek het die lewe deur Christus en nie deur die wet nie.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Galasiërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…