Skip to main content

Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef

Paulus se goddelike roeping bepaal sy gesag – Gal. 1:1-5

Dit tref my dat Paulus die Goddelike oorsprong van sy apostelskap so beklemtoon aan die begin van hierdie brief.  Aan die een kant is dit ’n belangrike boodskap vir die Galasiërs, omdat dit juis sy status as apostel is wat in die gedrang is by hulle.  En die hele eerste twee hoofstukke sal daaroor handel.

Maar aan die ander kant tref dit my dat hierdie bewussyn  van ’n Goddelike roeping so ontsettend belangrik is in die Christelike lewe.  “Dat ek ’n apostel is” – en vervang die woord apostel nou maar met enige ander roeping wat God jou gee – “dank ek nie aan mense nie.  Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus” (Gal. 1:1-2).  Sonder hierdie besef kan ’n mens nie jou werk vir die Here met vertroue, verwagting en veral volharding doen nie.

Hierdie roeping kan baie vorms aanneem.  Sommige het ’n roeping na ’n amp (ouderling, diaken, kategeet, jeugwerker, leraar).  Ander het ’n roeping rondom ’n gawe (gasvryheid, leierskap, skilder, bemoediging, skryf, omgee). Nog ander het ’n roeping rondom ’n saak (armoede, onreg, misdaad, gesondheid, omgewing, gemeenskap, opvoeding).  Die vorm maak nie saak nie – die verbintenis aan ’n roeping wat God gee, maak baie saak.

Neem ’n tydjie vandag om na te dink oor jou roeping. 

  • As jy nie seker is daarvan nie, vra ’n oortuiging van die Here (en onthou, jy kan al reeds besig wees daarmee, al sien jy dit nog nie so raak nie!).
  • As jy seker is daarvan, maak dit weer ’n top prioriteit in jou lewe en stel jou vertroue weer in die Here om met verwagting en volharding jou roeping uit te leef.

Daar is geen ander evangelie nie! – Gal. 1:6-10

Let op dat Paulus in vers 6 nie soos gebruiklik met ’n dankie-sê begin nie.  In al sy vorige briewe  is daar ’n dankwoord vir die gemeente.  In sy brief aan die Tessalonisense dank hy God vir hulle geloof, hoop en liefde en aan die Korintiërs vir hulle gawes.  Trouens in al sy ander briewe is daar ook ’n dankwoord van een of ander aard: vir hulle geloof (Romeine), vir hulle samewerking in die evangelie (Filippense), vir liefde en trou (Filemon), vir hulle geloof en liefde wat vrug dra (Kolossense, Efesiërs).

Paulus begin hier egter onmiddellik met sy bekommernis oor hulle dat hulle so gou afvallig geword het en ’n ander evangelie aangeneem het.  En hy spreek ’n dubbele vloek uit oor enigiemand wat ’n ander evangelie verkondig as hy (Gal. 1:8-9).  Later sal hy skryf: “die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf” (Gal. 5:10).

Let op hoe Paulus hier drie stories vertel  om die besware teen sy apostelskap te besweer.

Paulus het sy evangelie van Jesus Christus self ontvang – Gal. 1:11-24

Paulus spel duidelik uit dat hy sy evangelie van Jesus Christus self ontvang het en dus nie van Jerusalem se apostels nie deur uit te brei op sy destydse vervolgingsgeskiedenis en genadige ontmoeting met God wat tot sy bekering en roeping gelei het, waarin, en dis belangrik, die ander apostels geen aandeel gehad het nie.

Die apostels het saamgestem met sy evangelie en gestuurdheid na nie-Jode – Gal. 2:1-10

Paulus verduidelik verder dat Jerusalem se mense saamgestem het met die greep wat hy op die evangelie gehad het met sy latere besoek, 14 jaar later, aan hulle, saam met Barnabas en Titus. Let ook op dat hy die besoek ook aan God se werk wyt!  Saam het hulle ’n verdeling van pligte gemaak: Petrus na die Jode, Paulus na die nie-Jode.  En die pilare van die gemeente,  Jakobus (waarskynlik Jesus se broer), Johannes en Petrus, het hulle instemming daarmee betuig.  Titus, wat van nie-Joodse afkoms was, is daarom ook nie besny nie, in lyn met die evangelie (in teenstelling met Timoteus, wat van gemengde Joods en nie-Joodse afkoms was en daarom wel besny is – vgl. Hand. 16:1-3).  Let ook op dat die saak van die armes hier al op die tafel gekom het, wat die klem daarop in die brief aan die Korintiërs (2 Kor. 8-9) en Romeine (Rom. 15) verklaar.

Petrus en Barnabas het van die evangelie afgewyk deur onderskeid te tref tussen mense – Gal. 2:10-24

Paulus wys dan onomwonde uit dat dit Jerusalem se mense is, Sefas by name, wat afgewyk het van die evangelie waaroor hulle saamgestem het.  Selfs Barnabas is daardeur meegesleur om te huigel.  Interessant dat hy aanvanklik Petrus se Griekse naam, Petrus, gebruik en dan voortgaan met Sefas, die Aramese vorm van die naam.  Miskien is dit ’n nie-so-subtiele beskrywing van ’n terugval in Joodse gebruike eerder as die universele boodskap van die evangelie.

Paulus se preek aan Petrus by dié geleentheid in Antiogië – wat hy aanhaal in Gal. 2:14 – word dan die sentrale argument waarop Paulus sy verdere boodskap aan die Galasiërs bou (Gal. 2:15-21), dat ’n mens nie vir Christus kan kies EN ook om die wet te onderhou nie.

Let op hoe hier een van die sentrale boodskappe van die Reformasie 16 eeue later ingebed lê: Solus Christus, Jesus Christus alleen (Gal. 2:16; 3:22,26,29; vgl. ook 3:14,16; 5:1,6). Uit die Reformasie is 5 solas gebore waarmee die boodskap daarvan opgesom kan word: Sola scriptura (deur die Skrif alleen),  Sola fide (deur geloof alleen),  Sola gratia (deur genade alleen), Solus Christus, (deur Christus alleen), Sola Deo gloria (tot die eer van God alleen). Die vyf solas moet as ’n eenheid gesien word.

Trouens, ons kry ál die solas in hierdie brief: Sola Gratia (Gal. 1:6,15; 2:21; 3:18; 5:4; vgl. ook Gal. 1:3 en 6:18 waar dit as ‘n groet en seën gebruik word); Sola fide (Gal. 3:22; 5:6; vgl. ook Gal. 1:23; 2:16,20; 3:14,23,25,26), Soli Deo Gloria (Gal. 1:5); Sola scriptura (Gal. 3:8,22; 4:30 waar die getuienis van die Skrif as openbaringsbron aangehaal word).  Dit is ook wonderlik om juis die samehang van dié sentrale leerstukke van die geloof in Paulus se argumentasie raak te sien.

Galasiërs 2:17-21 is ’n ingewikkelde argument waarmee Paulus eintlik net probeer sê: ek het die lewe deur Christus en nie deur die wet nie.

Galasiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar