Skip to main content

Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het

Let op hoe Paulus hierdie praktiese deel nou koppel aan die voorbeeld van Christus (15:1-6), wie se evangelie ’n impak op alle nasies het (15:7-13), waarvoor Paulus sy lewe gegee het (15:14-21) en wat hy wil afrond deur hulle te besoek (15:22-33).

15:1-6: Soos Christus nie aan Homself gedink het nie, moet dié wat sterk is in geloof die swakhede verdra (grondteks sê dra) van dié wat nie sterk is nie.  Soos Christus Hom ingestel het op wat ons kan bou in die geloof, só moet ons dit ook vir medegelowiges doen.  Dít doen Hy, en dít moet ons doen, sodat daar eensgesindheid onder die gelowiges kan wees.

15:7-13: Die belangrikste ding wat ons vir mekaar kan doen, is om mekaar te aanvaar, weereens soos Christus dit gedoen het.  Soos Hy persoonlik gekom het om die Jode te dien, so het Hy bedoel dat alle nasies die boodskap kon hoor, onder andere deur die bediening van Paulus.  Let op hoe Paulus uit vier OT gedeeltes aanhaal: Ps 18:50; Deut 32:43; Ps 117:1; Jes 11:10 en dit universeel interpreteer.

15:14-21: Let op hoe beskeie Paulus is teenoor die Romeinse gelowiges en half verskoning vra vir sy uitgesprokenheid (anders as met die Korintiërs!), maar tog trots is op die bediening wat God aan hom toe vertrou het.  Alle lof kom in elk geval God toe wat wonderlike dinge deur sy bediening gedoen het.

15:22-33: Hy hoop heel moontlik om Rome te besoek om as ’n soort tuisbasis vir hom te dien op sy droom om ook in Spanje die evangelie te gaan verkondig.  Hy vra dat hulle vir hom bid dat dit goed sal gaan in Jerusalem met sy voorgenome besoek daar, hoewel ons uit die verhaal van Handelinge kan agterkom dat dinge nie regtig so maklik vir hom uitgewerk het nie.  Hy is uiteindelik in boeie na Rome en het 2 jaar in die tronk daar gespandeer.  Die tradisie wil dit hê dat hy uiteindelik wel in Spanje uitgekom het, maar dit kan nie met sekerheid bewys word nie.

Hoofstuk 16: Paulus sluit die brief aan die Romeine in hoofstuk 16 af deur ’n hele klomp persoonlike groeteboodskappe aan ’n verskeidenheid mense, waarvan sommige verwysings waarskynlik na die (meer as 5) huiskerke verwys (5, 10, 11, 14, 15). Let op dat Priscilla eerste genoem word (4 keer uit die 6 keer wat hulle genoem word in die NT, is dit die geval) wat waarskynlik aandui dat sy die leier was.  Hulle was vermoënd en het in ’n hele paar gemeentes hul huise tot die gemeente se beskikking geplaas.  Rufus was moontlik die seun van Simon van Sirene (Mark 15:21).

Waarskynlik het Febe die brief gaan aflewer, sy was immers ’n leraar in die gemeente van Korinte waarvandaan Paulus die brief skrywe.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Romeine


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar