Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente

Paulus beweeg hier na ’n spesifieke probleem in die gemeente van Rome, die konflik tussen die sterkes en swakkes in die geloof.  Hy hanteer dit eers in die algemeen in 14:1-12, en dan meer spesifiek in 14:13-23.

14:1-12: Let op hoe Paulus hom hier hoofsaaklik rig tot die sterkes in geloof, en uitspel dat hulle diégene wat in geloof swak is, moet aanvaar, sonder om met hulle te stry oor opvattings wat van die sterkeres verskil.  Dit beteken natuurlik nie dat hulle ander gelowiges se opvattings doodgewoon voor die voet moet aanvaar nie, maar dat hulle die swakkes moet aanvaar.

Die swakkes in die geloof waaroor Paulus hier skryf, is mense wat bv. net groente eet (14:2), of anders as jy met hulle werkers omgaan (14:4), of een dag belangriker as ander reken (14:5).  Die sterkeres in die geloof, waaronder Paulus natuurlik self tel (15:1), wat alles eet of alle dae as gelykwaardig beskou, moet die swakkes nie veroordeel nie, en, voeg hy by, die swakkes moet die sterkeres in die geloof nie verag nie.  Aanvaarding is beter as die wen van argumente.

In 1 Kor 8-10 het hy natuurlik oor ’n soortgelyke probleem geskryf, hoewel dit in Korinte heel moontlik oor die heidense invloed gegaan het.  Hier gaan dit eerder oor die Joodse invloed, soos gesien kan word uit die vermelding van hoe mense oor die dae van die week gedink het.

Almal moet egter wat hulle doen tot eer van die Here doen, en toegelaat word om dit te doen, want ons is aan Hom, en alleen aan Hom, rekenskap verskuldig.  Let op hoe Paulus hier die regterstoel van God as motivering inbring om ’n mens se eie doen en late te ondersoek, eerder as om ander s’n met ’n fynkam deur te gaan.

14:13-23: Die belange van medegelowiges weeg swaarder as jou eie opvattings, veral oor goed wat meer op die periferie lê soos wat jy eet, drink (14:21) en vier.  ’n Mens moenie aanstoot gee of ander tot ’n val bring nie, al is daar niks intrinsieks verkeerd met kos, drank en feesgeleenthede per se nie.  Dit trek ’n streep deur die liefde, soos Paulus dit in hoofstuk 13 uitgespel het.

Let op hoe Paulus die lewe voor God en in die Gees koppel aan die lewe in die liggaam van Christus.  Deur met oorleg op te tree met ons medegelowiges, terwyl ons ook sonder om te skroom aan ons eie oortuigings mag en moet vashou (14:22-23), sorg ons dat mense gehoorsaam aan God kan lewe en sy vrede en vreugde deur die Gees in die uitbreiding van die koninkryk kan beleef.  Vers 19 som dit op: “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”

Ek onthou nog hoe ek die oortuiging gekry het in ’n 2-jaar tydperk waar ek met alkoholiste gewerk het in my studentejare (straatwerk Parow), en ek nie met ’n goeie gewete self alkohol kon gebruik nie, ter wille van hulle standvastigheid.  Ek het selfs nie Nagmaalwyn gebruik in daardie tyd nie.  En ek onthou ook hoe die Here my daarvan vry gemaak het, toe ek nie langer by hulle betrokke was nie.  Alles ter wille van my medegelowiges wat probleme gehad het, en tot eer van die God aan wie ons saam gehoorsaam gelewe het.

Romeine


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: