Romeine 13 – Julle moet mekaar liefhê

Paulus skryf in hoofstuk 13 verder oor die praktiese implikasies van die vryspraak wat God gee.  En hy pas dit toe op ons verpligtinge teenoor die owerhede wat oor ons aangestel is 13:1-7 en teenoor ons medemense 13:8-14.

13:1-7

Paulus motiveer ons verpligting om ons aan owerhede te onderwerp in die beskikking en gesag van God.  Let op dat die onderwerping hier uitgespel word aan owerhede wat dienaars van God is en ’n ordenende invloed op die samelewing uitoefen deur wetstoepassing, direkte belastings soos persoonlike belasting, en indirekte belastings soos aksyns op aankope (vgl die soortgelyke uitsprake van Jesus in Mark 12:13-17).

Dit is egter anders as in die geval van bose owerhede soos in Openbaring 13 die geval is, waar wysheid, volharding en geloof nodig is om staande te bly en die aanbidding/navolging deur ongelowiges vermy moet word (vgl ook Hand 5:29 waar Petrus ook sê dat die lojaliteit aan God belangriker is as die lojaliteit aan mense).

13:8-14

Die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê, soos die wet dit uitspel.  Let op dat Paulus hier vier van die gebooie van die tweede tafel van die wet aanhaal soos ’n mens dit in Deuteronomium 5:17–21 kry: die sesde gebod kom egter hier voor die vyfde gebod (vgl ook Luk. 18:20). Die vierde gebod en die tweede laaste gebod oor vals getuienis word weer weggelaat.  Hoe dit ook al sy, al hierdie gebooie, trouens elke gebod wat daar is, word in die opdrag tot die liefhê van die naaste soos jouself (Lev. 19:18) saamgevat.

Let op hoe Paulus die liefde beide negatief (geen kwaad aandoen nie) as positief (volle uitvoering van die wet) uitspel in vers 10.

Sy motivering vir hierdie opdrag vind hy in die naderende finale verlossing (vgl Rom 8 – in Fil 4 sal hy weer terugkom op dié gedagtes)  wat beteken dat ons moet ophou met die werke van die duisternis (publieke vieringe: drinkery, uitspattigheid; sedelike lewe: ontug, onsedelikheid; onderlinge verhoudinge: rusie, jaloesie – vgl Gal 5:19-21) en die wapens van die lig (welvoeglik lewe [eerbaar] as volgelinge van die Here Jesus Christus) opneem.  Let op hoe die “geestelike oorlogvoering”-wapens met ’n heilige lewe te make het (In Ef 6 sal Paulus verder hieroor uitbrei – vgl ook 1 Tes 5; 2 Kor 10 waaroor ek reeds by die Bybelskool kommentaar gelewer het).

Toepassing

Ek het regtig die ervaring dat Romeine vir my soos heilige grond word.  Nie net het Romeine 8:16 ’n rigtinggewende invloed in my eie lewe gehad nie, maar ’n hele paar groot figure in die Christelike geskiedenis kan veranderinge in hulle lewe terugvoer na Romeine.  Luther het bv. in Rom 1:16-17 die antwoord op sy vraag gekry na ’n genadige God.

En hoofstuk 13 het ’n groot invloed op die groot kerkvader Augustinus gehad.  Hy het ’n wilde lewe gelei en regtig ver van die Here af gelewe.  Sy lewe het egter ook dramaties verander met die lees van Romeine, spesifiek 13:13-14.  Hier is ’n aanhaling uit ’n preek van my hieroor:

“In die jaar 386, in Milaan in Italië, sit drie vriende en gesels.  Die een is Augustinus, ‘n beroemde professor in retoriek uit Noord-Afrika.  Die ander twee is sy twee vriende Alypius en Ponticianus.  Daar lê ‘n Nuwe Testament geskrif op ‘n tafel en Ponticianus vra vir Augustinus of hy ‘n Christen is.

Nou Augustinus se ma, Monica, het toe al jare reeds vir hom gebid, maar hy moes antwoord, nee, hy is nie ‘n gelowige nie; hy kom net nie so ver nie, eintlik omdat hy sy eie lewenstyl – ‘n gejaag na plesier en sukses – te liefhet.  (Terloops, ‘n biskop het vir Monica, Augustinus se ma gesê:  “’n Kind van soveel gebed en trane kan nie verlore gaan nie”!)

Dan vertel Ponticianus vir Augustinus hoe hy onlangs tot geloof gekom het toe hy een van die woestynvaders, Antonius, se verhale gelees het, en hoe dié tot geloof gekom het toe hy in ‘n kerk gehoor het hoe daar uit die boek Matteus voorgelees is.  Dié woorde het Antonius só ontroer dat hy tot inkeer gekom het, en sy lewe dramaties verander het.

En Ponticianus het só onder die indruk van die krag van die Woord in die lewe van Antoius gekom, dat hyself ‘n volgeling van Jesus geword het.

Die gesprek en getuienis van sy vriend het Augustinus hewig ontstel.  Dit het hom opnuut verward en leeg laat voel, vol van verlange na die vreugde wat Ponticianus en Antonius in die Woord en in ‘n verhouding met Jesus ontdek het.

Hy het opgestaan en in ‘n tuin daar naby gegaan om alleen te wees.  Onder ‘n vyeboom het hy in trane uitgebars.  En dan hoor hy ‘n stem.  Êrens, daar naby, hoor hy ‘n kinderstem wat sing, dieselfde woorde oor en oor.  En hoewel hy nie kan uitmaak of dit ‘n seuns- of dogterstem is nie, kan hy die woorde van die liedjie duidelik hoor: Tolle, lege.  Tolle, lege. Neem, lees.  Neem, lees.

Dit is asof Augustinus weet die woorde is vir hom bedoel.  Hy draai om, gaan die huis binne, neem die Nuwe Testamentiese boek op die tafel en begin lees by Romeine 13:13 en verder.  En oombliklik is die Woord vir hom soos ‘n spieël, waarin hy homself sien: “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.  Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.”

En in die sien van homself, in alle eerlikheid skuldig aan alles wat die Woord sê nie in sy lewe moet wees nie, kom daar ‘n verandering, toe hy verder lees en agterkom die geheim van ‘n oorvloedige lewe lê in die afskeid van sy sondige begeertes, en die navolging van Jesus Christus ( vers 14).  En hy kom tot geloof in Jesus Christus, tot groot vreugde van sy ma.

En die res van die verhaal is vir ons bekend: Augustinus word waarskynlik die grootste denker en teoloog, nie net van sy eie tyd nie, maar van alle tye (volledige verhaal in Neem, lees! van Dirkie Smit, p 231).”

Romeine


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: