Die briewe aan die Tessalonisense

Inleiding

Paulus het eers laat in sy bediening begin om briewe te skrywe.

Hierdie eerste brief kom ongeveer 16 jaar nadat hy die dramatiese bekering op die pad na Damaskus beleef het.  Terloops, die briewe van Paulus in die NT is van lank na kort gerangskik – Romeine tot Filemon –  en nie in datum volgorde nie.

Hy het Tessalonika (vandag Salonika, tweede grootste stad in Griekeland), die bedrywige hoof- en hawestad in die Romeinse provinsie Masedonië, net ’n paar weke lank besoek, tydens sy tweede sendingreis, net na die eerste “sinode”-sitting in Jerusalem (Handelinge 17:1-9).  Dit was saam met Silvanus (Silas) en Timoteus, na die stigting van die eerste gemeente in Europa, Filippi.  Lukas het in Filippi agter gebly (Hand 16:40), ten spyte van Paulus en Silas se geseling en kortstondige tronkstraf, en eers weer later saam met hulle verder gereis (Hand 20:6).

Die groot belang van Tessalonika vir die uitbreiding van die evangelie was dat dit geleë was aan die hoofweg (die Via Egnatia) wat die Ooste en Weste met mekaar verbind het. Die hoofstraat was in der waarheid deel van hierdie pad.  Die stad was daarby as hawestad ’n verbindingskakel met al die vernaamste hawens van daardie tyd.  Gevolglik kon die gemeente ’n invloed uitoefen deur hulle gasvryheid teenoor reisigers wat by hulle stad aangedoen het.

Die gemeente van Tessalonika

Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika.  Ons lei af dat Paulus sy beroep as tentmaker (vgl 1 Tes 2:9) in Tessalonika beoefen het om nie ’n las vir die gemeente te wees nie.

Hy begin soos gewoonlik met ’n besoek aan die sinagoge en fokus 3 sabbatdae na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is.  En sy hoofargumente kom uit sy lees van die Ou Testament.

’n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ’n hele aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. “Vooraanstaande” Vroue speel hier, sowel as in Filippi en later in Berea,  ’n groot rol, en wys ook op die status wat hulle in die Griekse samelewing geniet het.  Interessant is dat die gemeente in Filippi, met Lidia ’n leidende figuur daar, in dié tyd vir hom meer as een maal ondersteun het (Fil 4:16).

Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors.  Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring en in stryd met die keiser se wette optree, deur te sê dat Jesus koning is.

Die stadsbestuur weier egter om te streng op te tree en laat die gelowiges vir eers met rus.  Paulus-hulle vertrek egter die aand na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees.  Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika het egter tog ook oorgespoel na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene, waar hy sy beroemde toespraak op die Areopagus gehou het.

Daarmee word Paulus effektief eers gestuit in sy voorneme om in die gemeente van Rome uit te kom (Rom 1:10!), want dit is waarheen die Via Egnatia hom sou lei, as hy verder daarop sou reis.  Hy sou eers later as gevangene daar uit kom.

Die kern van ’n florende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm.  Nog heidene kom tot bekering en sluit by die gemeente aan (vgl 1 Tes 1:9 “Die mense vertel self … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het”).  En die verbintenis met Paulus bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig.  Aristargos en Sekundus reis ook later saam met Paulus (Hand 19:29; 20:4; 27:2Kol 4:10; Filemon 24) en moontlik selfs ook Jason soos ’n mens uit Rom 16:21 aflei.  Dié brief aan die Romeine is waarskynlik ook in Korinte geskryf op Paulus se tweede besoek daar tydens sy derde sendingreis.

Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.

Die briewe

Na Paulus se verdere bediening in Berea en Atene kom hy in Korinte aan waar hy 18 maande lank bly en in die gemeente leiding neem (Hand 18:11).  Die brief aan die Tessalonisense, en ook die tweede brief aan hulle, is in dié tyd geskrywe, waarskynlik in die loop van 50-51 n C, omdat ons weet dat Gallio in die tyd goewerneur van Agaje geword het (inskripsie te Delfi) en Paulus voor hom verskyn het in Korinte (Hand 18:12–18).  Hy skryf dus die brief uit Korinte.

Omdat hy so min tyd gehad het om die gelowiges te bemoedig (vgl die metafore in 2:7, 11), en onseker was oor die impak wat die evangelie op hulle lewens sou hê – hy is immers beide in Tessalonika en Berea as ’n onrusstoker uitgeskop – het hy eers uit Atene vir Timoteus gestuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan (3:1).

Nadat hy berig ontvang het oor hulle standvastigheid in die geloof, skryf hy dus hierdie eerste brief vanuit Korinte (Hand 18; 1 Tes 3).  Die terugrapport moes hom self baie bemoedig het, want die Gees het immers op ’n besondere wyse vir hulle daarheen geroep (Hand 16:6-10).  Die geloofsgroei by die gemeente het dus vir hom gesê dat hulle werk nie tevergeefs was nie, en hulle het die Gees nie verkeerd gehoor nie.

Uit die onderwerpe wat hy aanraak, kom ’n mens egter ook agter waaroor hulle onseker was, onder andere seksuele sake (4:3-8), die gemeenskapslewe (4:9-12 en 5:14-15), die lewe na die dood (4:13-18), die wederkoms (5:1-11 – waaroor hy weer gaan skrywe in die tweede brief om verdere misverstande op te klaar), hulle leiers (5:12-13) en die gemeentelike lewe (5:16-22).

Dit is ook interessant dat hy, anders as in sy ander briewe, hier in die meervoud skryf ”Ons dank God …” (1 Tes 1:2; 2 Tes 1:3).  Dit is omdat die briewe afkomstig is van Paulus, Silvanus (Silas) en Timoteus (1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1) en aldrie ’n sleutelrol in die bediening aan die gemeente gespeel het.

Die tweede brief hak aan by die eerste brief se laaste tema, die wederkoms, en probeer veral misverstande daaroor uit die weg ruim.  Hy waarsku hulle om vas te staan ten spyte van vervolging en om hulle selfstandigheid in die werksituasie te behou, en nie leeg te lê weens ’n verkeerde wederkoms verwagting nie, moontlik op grond van ’n brief of profesie wat valslik aan Paulus toegeskryf word (1 Tes 2:2).  Let op hoe hy sy outeurskap van die brief bevestig in 3:17!

Belang van die briewe

Prof du Preez skryf dat die twee briewe aan die Tessalonisense die gees en boodskap van die vroegste Christelike kerk beliggaam. Hulle illustreer volgens hom die krag van die evangelie van Jesus Christus om mense uit alle volkere nuwe mense te maak. Dit is ’n bemoediging vir alle mense wat die evangelie wil neem na die uithoeke van die wêreld.

En dit illustreer hoe jy mense wat pas tot geloof gekom het, help om te groei te midde van vervolging.  Jy bevestig hulle in hulle geloofservaring en jy spits jou lering toe op die praktiese vrae wat hulle vra.  So bou jy gelowiges wat nie net heilig en verantwoordelik lewe in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ook ’n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). So kom alles wat behandel word in die helder lig van die wederkoms te staan, en word alle gelowiges geleer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

Indeling van die briewe

Die egtheid van die eerste brief is nooit regtig betwyfel nie, veral omdat dit so goed inpas met die omstandighede wat Lukas vir ons in Handelinge 16-19 skets.  Hoewel daar meer onsekerheid oor die tweede brief se outeurskap bestaan, onder andere oor die klemverskille in eskatologie, is die egtheid van die brief nie regtig betwisbaar nie.

Die eerste brief val taamlik duidelik in twee hoofdele uiteen. Hoofstuk 1-3 bevat ’n historiese en persoonlike deel – Baxter noem dit: Terugblik — hoe hulle gered is. Hoofstuk 4-5 is vermanend en lerend – Baxter noem dit: Vooruitblik — hoe hulle behoort te leef.

Die tweede brief handel hoofsaaklik oor die eskatologie.

View all posts in this series

Korintiërs, Tessalonisense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: